Sorteer somer uit met salies
Met so min as net drie toppresterende salviahibriede, kan jy ʼn helder, kleurryke kol skep wat gons van bye, skoenlappers en nektardrinkende voëls…
As jou doel blomgevulde randakkers en potte reg deur die somer en daarna is, mik reguit vir ons groot versameling van salvia-hibriede in tuinsentrums of gaan loer daarna aanlyn. Jy moet egter gereed wees om baie meer van hulle te plant, aangesien ons meer as dertien bekoorlike meerjarige variëteite het, plus ʼn volledige reeks eenjarige salies soos die nuwe Salvia splendens ‘Rocket Red’.

‘Black and Bloom’


Salieblare wissel van grof en getand tot glad en blink, en jy kan kies uit ʼn wye reeks blomkleure, insluitend rooi, wit, alle skakerings van pienk, pragtige bloue, salm, oranje en die diepste pers. Maar daar is meer, want die fraaie Salvia gregii ‘Sweet Lips’ produseer wit blomme met punte wat soos helderrooi soentjies lyk.
Groeipatrone is eweneens veranderlik; hulle kan hoog en wyd groei soos Salvia guaranitica ‘Black and Bloom’,of kort en bosserig vir kleiner tuine en potte, soos die nuwe Salvia microphylla ‘So Cool Pale Blue’ wat lieflike heuninggeurige ligblou blomme het met ʼn kompakte grootte van 50 cm x 50 cm.
Hoe om salies te gebruik
Meerjarige salies kombineer goed met ander somerblomme in tradisionele randakkers, tussen ornamentele grasse, en in gemengde somerpotte.
Meerjarige salies is:
- Sonliefhebbers – ‘n bietjie namiddagskaduwee is nie nadelig nie.
- Klimaat-aanpasbaar – waar winters uiters koud is, vervang jou voorraad met vars plante in die lente.
- Vinniggroeiend – salvias sal jou nie laat wag vir hul pragtige blomvertoning nie, wat duur van vroeë lente tot laat in die herfs.
- Herblommend – elke ligte snoei na ʼn goeie blomfase sal meer en meer blomme aanmoedig.
- Weerstandig teen siektes – die plante word nie deur plae en siektes geteister nie, indien die korrekte groeitoestande gehandhaaf word.










