fbpx

Wortelplaatkoekies met wortelstroop

Lees in Engels >

Glanswortels, gebraaide en piekelwortels is net ʼn paar maniere waarop jy veelsydige wortels kan geniet. ‘n Gunsteling is egter die soet en heerlik smaaklike wortelmousse wat so goed met geroosterde vleis en aartappels saamgaan. Gestoomde wortels word met room en botter fyngemaak vir ʼn gladde, baie ryk en smaaklike bygereg wat altyd goed afgaan by ʼn dineepartytjie. Met Paasfees aan die kom is dit dalk nuttig om wortelpuree te gebruik vir iets effens soet vir ʼn Paasontbyt of middagtee wat perfek vir grootmense sowel as kinders is. Hierdie plaatkoekies het al die wortelkoekspeserye met die pikante geur van roomkaasversiering, en is baie maklik om te maak. Toets dit gerus uit en gebruik enige orige wortelpuree om ʼn bietjie mousse te maak of sit dit in die vrieskas vir ʼn ander keer.

Vir die stroop:

  • 180 ml water
  • 180 g suiker
  • 50 g fyngerasperde wortel (ongeveer 1 middelslag wortel)

Sit vir die stroop die water en suiker in ʼn klein kastrolletjie, verhit en roer tot die suiker gesmelt is. Voeg dan die gerasperde wortel by en kook 5 minute. Sit eenkant en laat trek die wortel tot dit afgekoel het. Giet deur vir voorsit.

Vir die plaatkoekies:

  • 300 g bruismeel
  • 5 – 6 wortels om 250 g wortelpuree te maak
  • 2 eiers
  • 150 ml melk
  • 60 g bruinsuiker
  • 2 eetlepels olyfolie, plus ʼn bietjie ekstra vir braai
  • ʼn Skeutjie vanieljegeursel
  • ½ teelepel gemaalde kaneel
  • ½ teelepel gemaalde piment
  • ʼn Knypie sout
  • 100 g neute (opsioneel – pekan- of okkerneute is geskik)
  • Crème fraiche om voor te sit

Kap die wortels vir die plaatkoekies in stukkies op en stoom tot sag (ongeveer 45 minute). Verwerk tot glad en weeg 250 g vir die resep af. Meng die meel, speserye, suiker en sout saam in ʼn mengbak. Voeg die eiers, wortelpuree, melk, olyfolie en vanielje by en meng met ʼn draadklopper tot ʼn gladde beslag. Verhit ʼn pan en gooi ʼn bietjie olyfolie in. Skep groot lepels vol beslag in die pan en braai alkante tot bruin en deurgaar. Rooster die neute ʼn paar minute in die pan as die plaatkoekies klaar is. Dien op met skeppies crème fraiche of roomkaas en sprinkel neute en stroop oor.

Advertisements
-->
The Gardener