fbpx

Agapanthus Wat Sprankel

As dit hoegenaamd nog moontlik is, is die nuwe agapanthus-variëteite wat vanjaar op die mark is groter, beter, met ʼn intenser kleur en bestem om sommer gou tuingunstelinge te word.

Ons het in vorige uitgawes vertel van die fantastiese Agapanthus ‘Blackjack’ wat die hooggeagte Plant van die Jaar 2023 gewen het, wat vanjaar beslis op die lys van goeie aankope moet kom. Moet egter nie vergeet om nog twee van planttelers Andy De Wet en Quinton Bean van De Wet Breeders (Hartbeespoort) by te voeg nie – Agapanthus ‘Great White’ en Agapanthus ‘Everpanthus Midnight Sky’.

‘Great White’

Met supergroot blomkoppe is dié agapanthus net soos ʼn groot wit haai in die see – indrukwekkend, majestueus en sterk. Dit het kompakte loof en word ongeveer 50 cm x 50 cm in ideale toestande. Plant hulle in volson of halfskadu. Hulle is kouegehard, maar moet net teen ryp beskerm word.

‘Midnight Sky’

Deel van die ‘Everpanthus’-reeks agapanthus wat deur De Wet Breeders geteel is, is dié treffende intense donkerblou ‘Midnight Sky’. Hulle word ongeveer 80 cm hoog en 70 cm wyd met digte blomme wat ʼn lang blomtyd het. Hulle is perfek vir patiopotte, in gemengde houers en in blombeddings met teenstellende loof en blomme om hul ongelooflike bloupers na vore te bring. Hulle is uitstekend siektebestand en is hitte- en droogtebestand as hulle eers gevestig is. Plant hulle in volson in goed dreinerende grond.

Hou jou agapante bekoorlik!

Selfs die bekoorlikste sterre het ʼn bietjie tere, liefdevolle versorging nodig.

  • Plant hulle in goed dreinerende grond.
  • Berei ʼn BBP-grondmengsel met gehaltekompos en beenmeel voor om hul wortels te vertroetel.
  • Hulle kan wel in halfskadu geplant word, maar hoe meer hulle in die son bak, hoe beter blom hulle.
  • Selfs al is hulle droogtebestand, het hulle gereelde natmaak nodig, veral jong plante en dié in potte.
  • Die gereelde voed van agapante in potte met ʼn vloeibare plantvoedsel sal hulle welig hou, terwyl tuinagapante in die lente van ʼn voeding met ʼn stadig vrystellende misstof sal hou.
  • Verwyder uitgeblomde blomstele gereeld aan die basis van die plant.
  • Verdeel hulle elke tweede of derde jaar in die herfs ná hul blomtyd om hul wortels tyd te gee om tydens die winter te vestig.
Advertisements
-->
The Gardener