Drie Van Die Beste!
Hierdie drie plante stel nooit teleur in die ewigdurende soeke na moeitelose tuinprag nie.
Ons het al almal daardie oomblikke beleef wanneer ons smag na ʼn minsorgtuin wat steeds met sy helder kleure en teksture kan bekoor. Dit kan egter ʼn uitdaging wees om die regte plante te kies. Moenie vrees nie! Ons het ʼn fantastiese drietal wat van Muizenberg tot Musina oor verskillende klimaatstreke heen lewe en betowering na tuine toe sal bring. Kom ons verken hierdie plante met die verlangde trefkrag van die dramatiese Carex ‘Everillo’ tot die verruklike Hebe ‘Sunset Boulevard’ en die kompakte en tog grootse ‘HibisQs’-reeks terwyl jy terugsit en ontspan.
Carex
Ons eerste gunsteling van die drie maats is eintlik ʼn hele genus – Carex. Daar is talle variëteite om van te kies, maar kom ons skud daardie sonnige of skadutuinkolle wakker met die indrukwekkende Carex ‘Everillo’ of die majestueuse Carex ‘Feather Falls’.
‘Everillo’ is ʼn toonaangewer met tuimelende loof wat eers lemmetjiegroen is en dan goudgeel verkleur. ‘Feather Falls’ het skoon bontgroen-wit loof en kry mooi veeragtige blompluime in die lente. Albei het soortgelyke groeikenmerke:
- Die twee is albei immergroen.
- Hulle kan in die tuin of in houers geplant word.
- Dié minsorgplante is taai en bestand teen koue en ryp.
- Hulle skep dramatiese visuele trefkrag.
- Hulle is betroubare keuses vir enige tuin.
- Hulle hou van goed dreinerende kompos- en beenmeelverrykte grond.
- Hulle word 50 cm x 50 cm.
Hebe ‘Sunset Boulevard’
Hou vas jou tuinhoed vir die beroemde Hebes en laat ‘Sunset Boulevard’ die kollig steel.
- Hierdie modieuse struik word 1 m hoog.
- Dit het donkerpienk blomme wat in die somer en herfs oorvloedig blom.
- Dit het blink donker blare en parmantige rooi hoofare wat glans aan die tuin verleen.
- Dit gedy in goed dreinerende grond.
- Beskutting teen ryp is noodsaaklik.
- Geniet dit in potte, rotstuine of in massa-aanplantings.
‘HibisQs’
Op soek na helder blomme om jou tuin op te vrolik en die perfekte agtergrond vir ʼn selfie te skep? Moenie verder soek nie as die kompakte ‘HibisQs’-hibriede wat uit die hibiskus geteel is, maar met blomme wat langer hou.
- Hierdie klein maar grootse plante word tot 2 m hoog en 1,5 m wyd.
- Hulle vertoon welige loof en het ʼn nimmereindigende blomtyd.
- Elke helder blom spog met ʼn kontrasterende oogsone of keel, wat tot hul visuele aantreklikheid bydrae.
- Deur een te plant, kan jou patio, balkon of tuin in ʼn kits in ʼn tropiese paradys verander.
- Maak seker jy gebruik goed dreinerende grond.
- Beskutting teen koue en ryp is noodsaaklik.
- Gereelde natmaak en geskikte bemesting is noodsaaklik vir die beste resultate.