Kikker jou potte op
Pot-betowering
Die towerkuns van ʼn mooi pottuin begin by ʼn treffer, ʼn vullerplant en ʼn tuimelaar. Dié plantverhouding is die begin van potsukses. Ons teenstellende kleurmengsel hier sal enige kol ophelder wat oormaak nodig het.
Jy het nodig
- ʼn Pot met dreineergate
- Klippies vir dreinering (jy kan selfs kleiner opgebreekte stukkies van ʼn stukkende pot gebruik)
- Vars potgrond
- Kompos
- Stadig vrystellende misstof
- Beenmeel
- Sierbas of houtdeklaag
Plante
ʼn Treffer – Ons het Agapanthus ‘Buccaneer’ hiervoor gekies vanweë sy vermoë om indrukwekkende hoë stingels met pers blomme te maak wat tot agt maande van die jaar lank hou.
ʼn Vullerplant met treffende donker loof– Loropetalum ‘Plum Gorgeous’ sorg vir kleurbehoeftes selfs as daar nie blomme in die pot is nie.
Twee tuimelaars – Ongelooflike lemmetjiegeel grasagtige blare maak van Carex ‘Everillo’ die ideale tuimelplant om ʼn kontras met die ander twee te vorm.
Stappe
- Berei eers die grond voor met die helfte potgrond en die helfte kompos en voeg twee hande vol misstof by. Voeg ʼn bietjie beenmeel by om ekstra kalsium vir die plante te gee. Meng alles goed saam.
- Gooi die dreineerklippies onderin die pot.
- Maak die pot halfvol met jou grondmengsel.
- Haal die plante versigtig uit hul sakke uit sonder om die wortels te versteur. Pluis verdigte wortels met jou vingerpunte uit om die wortels aan te moedig om sywaarts te groei as hulle geplant is.
- Sit die agapant in. Dis belangrik om seker te maak die plant se bokant is ongeveer 2 cm onder die potrand sodat die water nie mors as dit natgemaak word nie. Plant dan die loropetalum en laastens die carex.
- Voeg nog ʼn bietjie grond onder ʼn plant by as jy met hoogte wil speel.
Volg die Thanks Plants-veldtog by www.thanksplantssa.co.za en skryf in vir die kompetisie.