
Kroonblaarkrag in ʼn vaas



Dis tyd om jou innerlike blommekunstenaar aan te gryp en pragtige blomme uit jou tuin in te bring.
Die beste blomme vir snyblomme is blommende meerjariges, struike en selfs blombome met loof omdat dit lank in die water hou en heeljaar groenigheid verskaf. Dis wat jy nodig het om aan die gang te kom:
- ʼn Vaas wat met warm water en ʼn bietjie bleikmiddel skoongewas is.
- Louwarm water – dit help dat die blomme vinniger drink.
- Snyblomvoedsel.
- ʼn Skoon, skerp snoeiskêr.
- ʼn Emmer skoon water.
- Jou blomme en groenigheid.
- Bloemisteband, na keuse.
Kom ons raak skeppend
Maak jou vaas driekwart vol louwarm water. Voeg ʼn bietjie blomvoedsel by en roer goed.
Plak ʼn rooster van bloemisteband op die vaas wat die blomme op hul plek sal hou, of sit hulle só in dat hul stingels kruis en dwars is en mekaar ondersteun.
Verwyder alle blare en dorings van die stingels wat onderwater sal wees om te voorkom dat die water slymerig raak.
Begin met die loof en sny die stingels teen ʼn hoek van 45° grade af om wateropname soveel moontlik te verhoog. Bepaal hoeveel om af te sny deur die stingellengte teen die vaas te meet.
Begin rangskik die blomme om die buiterand van die vaas, amper soos om ʼn nes te maak
Speel ʼn bietjie met die hoogte en gebruik ʼn onewe getal blomme om ʼn natuurliker voorkoms te skep.
Vul oop kolle, maar maak seker jy maak die vaas nie oorvol blomme nie.
Nasorg
- Kry vir jou blommerangskikking die perfekte kol uit trekke en direkte sonlig.
- Gaan die watervlak daagliks na, vul op as dit nodig is en vervang die water en blomvoedsel elke twee tot drie dae.
- Laat jou rangskikking stylvol en vars bly lyk deur die stingels van blomme wat hang korter te sny en verlepte blomme uit te gooi.
Van tuin tot vaas
Dis maklik om blomme te kweek wat ʼn entjie beter as die res is – net ʼn bietjie beplanning en kundigheid is daarvoor nodig.
Gee eerstens jou plante goeie grond. Berei jou grond hiervoor voor deur vóór plant goeie gehaltekompos, beenmeel en ʼn stadig vrystellende misstof in te werk.
Bepaal daarna die ideale toestande van elke blom en plant hulle volgens hul vereistes saam. Oorweeg hoeveel lig hulle nodig het, hul watervereistes, hoogte en wydte.
Bring ʼn laag basspaanders, grassnoeisels of blaarmolm aan om hul wortels teen die somerhitte te beskerm, onkruid te onderdruk en verdamping te verminder.
Voed plante gereeld – minstens elke vier tot ses weke tydens die groeityd.
Maak jou plante tydens die warm maande twee tot drie maal per week nat.
Pluk vars blomme soggens terwyl hulle nog koel van die nag en oggenddou, en hul stingels vol water en koolhidrate is. Moenie bang wees om te pluk nie. Die geval met baie is hoe meer jy pluk, hoe meer blom hulle.
Gebruik altyd skoon, skerp snygereedskap om nie die stingels te beskadig nie.
Verskillende blomme moet op verskillende tye gepluk word. Die beste is om rose te pluk as hul buitenste kroonblare begin oopgaan, en plante soos krismisrose wanneer hulle in volle blom is.
Sny jou blomme sowat 3 cm van die onderkant van die hoofstingel teen ʼn hoek van 45° grade af omdat dit die grootste oop plek aan die stingel bied om water op te neem. Sodra jou blomme gepluk is, sit hulle onmiddellik in ʼn emmer water sodat hulle nie uitdroog nie.
