Wees Jou Eie Laventelprinses
Laventel bring lewe na die tuin toe met sy helderpers skakerings en ʼn geur wat parfuums in die skande steek.
Dié sonliewende superster wat bye en skoenlappers lok terwyl dit verpestelike insekte weghou, gedy in goed gedreineerde sandgrond. Hierdie botaniese diva is ook waterslim en groeikragtig, wat daarvan die perfekte keuse vir potte of tuinbeddings maak.
Laventelgebruike
- Laventel is eeue lank al ʼn helende held. Dit het krampstillende, kiemdodende en antibakteriese kragte wat daarvan die topnoodhulpmiddel maak om snye, brand- en steekplekke en kneusings te behandel.
- Voeg ʼn titsie fyngekapte laventelblare en -blomme by stowegeregte, soppe, geroosterde groente of selfs rys – vir ʼn sweempie parfuum.
- Laventelwater is nog maar altyd daar en kan as parfuum of haarspoelmiddel gebruik word. Maak jou eie deur ons maklike stappe hiernaas te volg.
- Maak jou eie ontspannende en ontstressende soutskropmiddel vir die bad. Jy kan selfs die fles met ʼn lint versier as dit as geskenk gegee word.
- Sit vir iets soets laventelblomme by kaaskoek, sorbet en roomys. Jy kan selfs suiker met laventelgeur deurtrek vir gebak.
Laventelwater
1. Gooi 100 ml kookwater oor 2 eetlepels vars of gedroogde laventelblomme in ʼn bak wat met moeseliendoek uitgevoer is.
2. Bedek die bak en laat dit by kamertemperatuur afkoel.
3. Giet die mengsel deur, gooi in ʼn skoon glasbottel en bêre in die yskas.
Laventelsoutskropmiddel
1. Sit 2 koppies Engelse sout en ½ koppie klapperolie teen kamertemperatuur in ʼn groot bak.
2. Voeg 2 eetlepels laventelblomme by – ons het vars blomme gebruik, maar jy kan ook droë blomme gebruik. Meng al die bestanddele goed saam. As jy nog ʼn bietjie geur wil bysit, voeg 10 tot 20 druppels laventelolie by.
3. Bêre jou soutskropmiddel in flesse sodat die vog en geur behoue bly.