fbpx

5 grondbedekkers wat onkruid smoor

Read in English

Volg ʼn versierende roete om onkruid in jou tuin te onderdruk.

Jy kan onkruiddoek en gruis, kunsgras en sement gebruik of gedurig op jou knieë wees om van onkruid ontslae te raak. ʼn Veel lonender manier om met hierdie tuinkopseer te handel, is om bloot ʼn massa taai grondbedekkers te plant.

Hou jou onkruidkloppers gelukkig

  • Verwyder bestaande onkruid, klippe en ou plantwortels waar die grondbedekkers geplant gaan word. As jy geduldig is, kan jy selfs twee weke wag om alle nuut ontkiemde onkruid ook te verwyder.
  • Berei die plek voor met ruim hoeveelhede kompos en 60 gram beenmeel per vierkante meter. Jy kan ook ʼn gebalanseerde stadig vrystellende misstof byvoeg.
  • Maak ná plant gereeld nat tot jy groei sien waarna natmaak, na gelang van die weer, tot twee tot drie keer per week verminder kan word.
  • Vernuwe die grondbedekkers deur hulle tydens die somer liggies met ʼn heiningknipper te snoei. Dié wat algaande wortelskiet soos hulle versprei, kan af en toe verdeel en in komposverrykte grond oorgeplant word wat hulle ook nuwe groeikrag sal gee.

Convolvulus sabatius

Akkerwinde maak wortels namate dit (nie indringend nie) versprei en word hoog aanbeveel as vinnig groeiende grondbedekker.

Kenmerke: Digte mentgroen blare en ʼn massa hemelsblou oop trompetvormige blomme in die lente en somer.

Klimaat: Gematig en subtropies.

Plek: Volson en ligte skadu (oggendson).

Water: Goed dreinerende grond met gereelde natmaak.

Asystasia gangetica

Die rankvingerhoedjie is ʼn geil en spreidende inheemse grondbedekker wat perfek is om groot oppervlakke vinnig te bedek. Dit maak maklik wortels by stingellitte en is geliefd onder heuningbye en skoenlappers.

Kenmerke: Donkergroen loof en roomwit vingerhoedjieagtige blomme met ʼn aangename geur van die herfs tot die lente.

Klimaat: Gematig met ligte tot matige ryp.

Plek: Volson en skadu.

Water: Min tot matige waterbehoeftes.

Carissa macrocarpa ‘Green Carpet’

Die dwergnoemnoem, wat net 30 cm hoog word en 1 m versprei, is perfek vir natuurtuine of waar sekuriteit ʼn kwessie is omdat dit met sy skerp dorings ook die rol van ʼn lae versperring kan speel.

Kenmerke: Mooi blink, donkergroen loof met jasmynagtige wit blomme in die lente wat in die somer deur eetbare rooi vrugte gevolg word. ʼn Wonderlike lokker van voëls.

Klimaat: Warm en droog met ligte tot matige ryp.

Plek: Volson tot diep skadu.

Water: Gereelde natmaak is nodig om goed te vestig en is daarna uiters droogtebestand.

Ophiopogon japonicus ‘Kyoto’

Dwergmondograsse vorm digte polle wat ʼn ryk tekstuur op die grond tot gevolg het en kan selfs tradisionele perkgras in klein tuintjies vervang. Hul gevestigde wortels is sterk en dik en laat nie mededinging van ander plante soos onkruid toe nie.

Kenmerke: Grasieuse blink, donkergroen lintagtige loof.

Klimaat: Baie gehard en geskik vir alle klimaatstreke.

Plek: Volson tot diep skadu.

Water: Gereelde diep natmaak is nodig om te vestig en welig te bly.

Stachys byzantine

Lamsoor is sonder fiemies en vorm gou ʼn digte mat al met die grond langs wat sowat 40 cm hoog is.

Kenmerke: Die silwergrys kleur van die digte, sagte en fluwelige blare rond alle plante wat daarnaby groei af wat dit perfek maak vir onkruidvrye rande. Regop blomstingels met are onbeduidende perspienk blomme verskyn in die somer, maar moet liefs verwyder word om die energie te stuur om nog welige blare te maak.

Klimaat: Geskik vir droë klimaatstreke asook koue- en rypgehard.

Plek: Volson tot ligte skadu.

Water: Redelik droogtebestand, moet dus nie oorbenat nie.

-->
The Gardener