fbpx

Agapante Bo

Read in English

Ons het baie kosbare plantskatte aan die tuinmaakwêreld gegee om van te hou en te plant, en ons agapanthus moet na aan die bopunt van die baie lang lys wees.

Omdat agapanthus plantliefhebbers so bekoor, en goeie teelprogramme gevestig is, kan ons nou daardie dae vaarwel toeroep toe agapanthus midsomer net ʼn maand of twee geblom het (al was dit skouspelagtig!) en ons toe vir die res van die jaar met nie veel meer as blaarryke polle gelaat het nie.

ʼn Lieflike groep moderne hibriede (wat nou vir jou in tuinsentrums wag!) is herblommende hibriede wat hul oorvloedige blomprestasie laatwinter begin, en deur die lente, van tyd tot tyd deur die somer en selfs tot die volgende winter aanhou blom. Hopelik sal hierdie plante ons plaaslike gewoonte stopsit om agapante soos stiefkinders te behandel en na droë skadu en ander verwaarloosde plekke in die tuin te verban!

Ondergronds groei hierdie kruidagtige meerjariges van wortelstokke met dik vlesige wortels, wat daarop dui dat hulle redelike taai plante is. Bogronds is kompakte polle donkergroen, effens gekromde lynvormige blare – die hibriede wat hier uitgelig word, is almal immergroen en groei vinnig. As dit blomtyd is, word talle gladde en vlesige stingels gemaak wat bo groot skerms tregtervormige blomme het.

Die beste kimaat

Warm, gematigde klimaatstreke is die beste, hoewel koue klimaatstreke met swaar ryp verdra word. Hierdie plante groei ewe goed in winter- sowel as somerreënstreke.

Vereistes

Ligging: Plant hulle in volson tot ligte skadu (wat beteken oggendson en namiddagskadu) in baie warm gebiede. Moet hulle asseblief nie in diep skadu gaan indruk nie omdat dit blom nadelig sal beïnvloed. Gebruik hulle as randakker- en vullerplante in gemengde struikbeddings en op rotstuine. Daar is ook geen rede om hulle nie in potte te plant nie.

Grond: Die grond moet goed dreineer en vir sterk wortelontwikkeling met kompos en beenmeel verryk word. Voeg ook organiese Atlantic Bio Ganic All-Purpose-misstof by as jy die plantgate voorberei – dit sal hulle help om gevestig te raak en goeie groei aanmoedig.

Water: As agapanthus eers gevestig is, gebruik hulle matig baie water en kan die grond tussen natmaaksessies ʼn bietjie uitdroog. Maak jong plante aanvanklik gereeld nat. Dié in potte het meer water nodig, maar slegs as die boonste grondlaag droog voel.

Voeding: Bemes elke ses tot agt weke deur die groeityd met Atlantic Bio Ocean stadig vrystellende misstof.

Snoei: Pluk die pragtige blomme vir die vaas (waar hulle tien dae lank kan hou) en verwyder gereeld dooie blomme.

Plaagpatrollie: Hoewel agapanthusblare nie ʼn gunsteling onder die slakke is nie, is hulle geneig om in die digte polle te skuil, sorg dus dat jy gereeld tussen hulle skoonmaak en die ou blare en stingels verwyder. Sit ook slaklokaas tussen die polle uit. Ruspes soos lelieboorders kan ʼn probleem wees omdat hulle die blare vreet, in hulle inboor en die plantkern vernietig.

As jy moontlike skade bespeur (vergelende verrottende blare aan ʼn hangende plant) deurweek die polle en grond met ʼn sistemiese insekdoder soos Efekto se Plant Protector.

Agtergrondnotas

Daar is ses inheemse agapanthusspesies waarvan net A. praecox en A. africanus immergroen is. Die volksname is agapant, bloukandelaar en bloulelie, al is dit nie ʼn lelie nie. In sommige lande soos Nieu-Seeland is A. Praecox tot omgewingsonkruid verklaar, maar oproepe om dit op hul amptelike pesplantlys te sit, is sterk teengestaan deur tuiniers. (wikipedia.org)

Kies hulle…

‘Bingo Blue’

  • Diepblou blomme – die stingels verkleur donkergroen in die winter.
  • Hoofblomtye van laatwinter tot midsomer met blomme sporadies op ander tye.
  • Polle is klein tot middelgroot, word 20 – 30 cm hoog.

‘Bingo White’

  • Helderwit blomme.
  • Hoofblomtye van laatwinter tot midsomer met blomme sporadies gedurende die jaar.
  • Polle is klein tot middelgroot, word 20 – 30 cm hoog.

‘Buccaneer’

  • Skerms donkerblou sambreelvormige blommetjies wat elk met ʼn donkerpers aar gemerk is. Blom van vroeg- tot laatsomer.
  • Middelgroot polle tot 40 cm hoog.

‘Great White’

  • Supergroot wit blomkoppe.
  • Blom oor en oor deur die jaar.
  • Kompakte polle mooi loof met ʼn hoogte van sowat 50 cm.

‘Twister’

  • Roomkleurige knoppe ontvou in intense blou-wit tweekleurige blomme aan skraal stele.
  • Hoofblomtye van vroeg- tot midsomer en herblom sporadies.
  • Klein polle van sowat 30 cm hoog.
-->
The Gardener