
Beslis Abelia!
Langlewende struike wat dit regkry om deur al die seisoene hul mooi loof so lieflik te hou, is ʼn sterk raamwerk waarteen seisoensplante hul tydelike rolle in ʼn goed beplande tuin kan speel. Moderne abeliahibriede maak deel uit van die staatmakerlys om te plant.
Op plekke waar die klimaat ʼn uitdaging kan wees, soos koue winters of uitdrogende kuswinde in die somer, kan ons altyd op die goeie ou blink-abelia, Abelia x grandiflora, staatmaak. Dis egter ʼn groot spreidende plant wat 2 m by 1,5 m word as dit onbeteueld gelaat word. Klein tuintjies het bloot nie plek vir sulke groot struike nie, veral as jy ʼn bietjie verskeidenheid saam met digte en beheerbaarder groottes wil hê.
Gelukkig het die slim hibridiseerders al die beste kenmerke van die ou blinkabelia geneem en kompakter variëteite ontwikkel met interessante blaarkleure wat in die wintermaande versterk wanneer die plante nie blom nie.


5 van die beste Abelias
‘Francis Mason’ (goue-abelia) het blare wat soms heeltemal goud verkleur en ook met geel en groen bespikkel kan wees. In koue weer versterk die kleur tot brons. Die skraal stingels wat met veelkleurige blare beklee is, hou goed in die vaas en is gewild onder blomkunstenaars. ʼn Massa dofpienk tot wit trompetvormige blomme verskyn in die somer.
‘Kaleidoscope’ is ʼn dwerghibried (70 cm x 90 cm) met steeds wisselende loof. Nuwe lentegroei het ʼn heldergeel rand met liggroen harte. Somerskakerings is ʼn ryk ougoud en donkergroen. In die herfs verkleur dit oranje, en die winter bring vuurrooi.
‘Dwarf Gnome’ stem in alle opsigte perfek ooreen met die groter niggie Abelia x grandiflora, maar is ʼn dwergseleksie wat slegs ʼn gerieflike grootte van 50 cm by 50 cm bereik.
‘Lemon & Lime’ is ʼn nuwe toevoeging wat die “goue wonder” genoem word met heldersuurlemoengeel loof met rooierige ondertone. Die toename in temperatuur en daglengte in die lente en somer laat die blaartjies aan dié digte en kompakte plant na ʼn sterk lemmetjiegroen verkleur. Grootte ongeveer 1,5 x 2 m.
‘Radiance’ is nog ʼn dwergvorm (50 cm x 50 cm) en het intense karmosyn stingels met teenstellende wit bont blare wat in die lente as middelgroen met roomgeel rande verskyn en stadig tot silwergroen met roomkleurige rande versag. Winterloof is met sagpienk tot lila getint.




Kweek abelias
- Volson bied die beste loofkleure, hoewel oggendson en namiddagskadu ook goed is – dit maak abelias nuttig om te gebruik in klein tuintjies wat omring is deur hoë mure wat gedurende die dag verskillende skadupatrone skep.
- Enige grondsoort is geskik mits dreinering goed is en dit vir goeie wortelontwikkeling met kompos en beenmeel verryk is.
- Abelias het matige tot lae watervereistes as hulle eers goed gevestig is. Gereelde natmaak hou hulle egter welig.
- Voed die plante elke lente met ʼn gebalanseerde stadig vrystellende misstof.
Dinge om met abelias te doen
- Ontspan maar meestal – hulle is plaagen siektevry.
- Omdat almal in die somer ʼn oorvloed saggeurige wit buisblomme dra, lok hulle bye en skoenlappers.
- Hulle is uiters geskik om as enkeleksemplare in potte te plant, of as vullerstruike te gebruik.
- Hulle is perfek om as formeel gesnoeide lae heinings te gebruik of om in interessante siersnoeivorms te verander as jy bereid is om die blomme op te offer.
Saam met ander plante…
Abelias gaan goed saam met talle ander plante. Laat jou mooi abelias hierdie herfs sosialiseer met:
Liriope ‘Evergreen Giant’ – ʼn leliegras met donkergroen lintvormige blare wat amper 1 m hoog kan word. Hulle vorm ʼn rustige kontras met die helder winterloof van die abelias.
Lobularia maritima (heuningblomme) – ʼn vertroude jaarplant om as blomrand te gebruik. Dit hou van koel weer en vorm groot, geurige blomkussings in delikate skakerings van wit, pienk, laventel en pers.
Nandina domestica ‘Obsession’ – ʼn klein maar intens gekleurde regopgroeiende hemelse bamboes met vuurrooi jong loof wat heeljaar behou word terwyl die plant aktief groei. Volwasse loof is diepgroen. Nandinas is bekend vir hul treffende herfskleur, gehardheid en talle tuingebruike. Die volwasse grootte is ongeveer 60 cm x 70 cm.