fbpx

Blomme Vir Jou Lentetuin

Read in English

Saam met die lente moet ook ʼn massa tuinblomme kom. Hierdie treffende plante blom almal nou en is gereed om plesier te gee in jou lentetuin.

Argyranthemum

Die algemeen bekende margriet is ʼn moet-hêplant in elke lentetuin. Die tradisionele blomme met gelobde kroonblare in ʼn indrukwekkende reeks kleure verleen ʼn sonnige ligtheid aan alle beddings. Vanweë hul eenderse voorkoms word hulle gereeld verkeerdelik vir krisante aangesien en dikwels verkeerd geëtiketteer in winkels. Een van die gewildste spesies is Argyranthemum frutescens wat gedurende die lentemaande op sy mooiste is en in die regte toestande tot die herfs aanhou blom.

Angeliere

Een van die wêreld se gunstelingsnyblomme, die angelier, het ʼn lang geskiedenis wat tot die Griekse goue eeu teruggevoer kan word. Die genusnaam Dianthus is deur die Griekse botanis Theophrastos daaraan gegee en word letterlik vertaal met goddelike blom, wat net in ʼn baie geringe mate die Grieke se waardering vir hierdie plant aantoon. Dianthus caryophyllus is ʼn betroubare lentepragstuk met lieflike gekartelde bomme. Die gewildste skakerings is pienk – wat aan dié spesie ook die Engelse volksnaam “clove pink” verleen – hoewel baie ander interessante kleure ook te kry is, wat verseker dat daar altyd ʼn keuse vir enige lentetuin is.

Diascia

Die meer as 70 Diascia-spesies wat algemeen as pensies bekend staan, is almal inheems in Suid-Afrika, wat van hulle wonderlike fiemieslose keuses maak en wat ʼn groot verskeidenheid wildlewe na jou tuin toe sal lok. Meerjarige spesies soos Diascia barberae kom hoofsaaklik op die hange van die indrukwekkende Drakensberge voor waar hulle die somerreënval van die streek geniet. Danksy die pogings van kwekers landswyd is talle nuwe kultivars te kry, wat die keuse van kleur, vorm en grootte vir alle tuiniers uitbrei.

Nemesia

As jy vinnig plek in jou lentebeddings moet vul, kies ʼn lid van die Nemesia-genus. Die plante wat hoofsaaklik in die kusgebiede van Suid-Afrika inheems is, skiet vinnig op in Suid-Afrikaanse tuine met in die lente delikate, skattige blomme heel bo. Hulle blom lank, wat weer in die herfs sal gebeur as hulle reg versorg word. Dit is ook bekend as die wildeleeubekkie vanweë die gelykvormige blomme en is te kry in talle kleure van geel tot boergonje en meer.

Lewisia

Lewisiablomme laat die koppe draai en gaan in die lente oop om gestreepte patrone op hul warm en kleurryke kroonblare te onthul. Dié plante is inheems in Noord-Amerika en word op rotsagtige plekke aangetref. Hierdie natuurlike habitat het aan hulle ʼn liefde vir goed dreinerende sanderige grondsoorte gegee asook die vermoë om droë toestande te weerstaan. Danksy hul sukkulentagtige blare is hierdie blomplante ʼn waterslim alternatief vir sommige van die dorstiger lenteplante. Hulle is ook rypbestand en goed opgewasse teen hoë temperatuur, wat hulle geweldig veelsydige en aanpasbare plante maak. Wees op die uitkyk na Lewisia cotyledon ‘Elise’ wat geteel is om oorvloedig te blom.

Lobularia

ʼn Lentetuin is onvolledig sonder ʼn versameling heuningblommetjies. Die oulike trosse kompakte blomme verleen kleurlae aan beddings en lyk besonder skouspelagtig in houers. Hulle, en veral dié in die ‘Stream’-reeks, is ook lieflik in hangmandjies. Wees op die uitkyk na die klassieke wit blomme wat ʼn tikkie helderheid verleen as dit met ander jaarplante gemeng word of soek ʼn helderder keuse uit deur ‘Raspberry Stream’ met sy gepaste naam te plant. Gereelde voeding en voortdurend genoeg water moedig dié plante aan om selfs meer van hul geurige blomme oor die seisoene uit te stal.

Rankende floks

Nog ʼn inheemse gunsteling, Chaenostoma cordatum, wat voorheen bekend was as Sutera cordata is ʼn grondbedekker wat van die minste sorg nodig het wat te kry is. Die loof word nie veel hoër as jou enkels nie, wat ware kleurtapyte vorm as dit lente word. Die blomme het ʼn goudkleurige hart wat deur ligkleurige kroonblare in pienk, wit of pers omring word. Hulle kan heeljaar blom in gematigde streke met matige winters, maar is die blomrykste in die koeler lenteen herfsweer. Hierdie laaggroeiende plant is ʼn uitstekende keuse vir houers met plante wat toegelaat word om aan die kante neer te hang vir ʼn ware lenteskouspel. Nog ‘n naam is Bacopa wat verbind word met verskeie kultivars met groter blomme in helderder kleure.

Gipskruid

Dis een van die gewildste snyblomme ter wêreld en is ook bekend as bruidsluier. Hierdie jaarplant wat dié naam vanweë sy delikate loof en kostelike piepklein blommetjies gekry het, het die liefling van die bloemistebedryf geword omdat dit enige fokusblom perfek komplementeer. Die wit variëteite is veral gewild in bruidsruikers en -rangskikkings, hoewel die blomme ook in ʼn fyn pastelpienk of laventelpers te kry is. As hierdie plant in goed dreinerende grond in volson geplant word, vorm dit ʼn ronde blomkussing wat amper lyk of dit gloei. Pluk ʼn paar stingels af en bring hulle in om die lentevreugde na jou huis uit te brei.

Vingerhoedjie

Die blomme van die immer gewilde Digitalis purpurea is maklik om op ʼn afstand raak te sien. Hierdie plante dra hoë blomstele met buisblomme wat na buite wys. As jy die blomme van naderby bekyk, sal jy sien dat hulle ook kolletjies aan die binnekant het waarvan die intensiteit van die kontras van jou gekose kultivar en kleur afhang. Dit duur ʼn rukkie vir hierdie plante om volwasse te word en te blom daarom is dit die beste om volwasse plante by jou plaaslike kwekery te koop om kitskleur aan die tuin te verleen. Gelukkig is die hoë en indrukwekkende blomme die wag werd.

Delphinium

Met sy soortgelyke struktuur as vingerhoedjies dra delfiniums ook baie hoë blomme. Hulle is veral bekend vir hul gebruik as die vernaamste randakkerplant, maar is ook uitstekende snyblomme. So in hul lentefleur opgetooi, lyk die massiewe blomstele statig in ʼn vaas, veral as verskillende kleurmengsels gebruik word. Delfiniums verkies koeler weer en sukkel om te blom as die temperatuur te hoog is. Hulle gebruik ook baie water, en wil voortdurend klam wees om op hul beste te lyk. Solank aan hierdie behoeftes voldoen word, kan jy egter vergas word op deurlopende blomme deur die lente en selfs tot in die somer.

Gazania

Vir diegene wat na iets met ʼn bietjie minder sorg op soek is, is die inheemse gazania die ideale keuse. Die blomme is te kry in ʼn wye reeks verblindende helder kleure wat tipies aan die warmer kant van die kleurwiel is. Die plant het ʼn paar oulike volksname, waaronder gousblom en botterblom. Fiemieslose gazanias raak taai en droogtebestande toevoegings tot jou tuin as hulle eers gevestig is. Hulle hou tot in die herfs aan met blom en verleen wonderlike kleur aan beddings en potte.

Advertisements
-->
The Gardener