Buksbome vir klein tuine
Meerjariges is dalk die raamwerk van tuinbeddings, maar bome moet as die raamwerk van die hele tuin beskou word.
Namate tuingroottes aanhoudend krimp, het min mense ongelukkig plek vir groot, toringhoë bome in hul agterplase. Dit beteken nie jy moet jou boomkweekdrome laat vaar nie – klein boompies is die oplossing.
Perfekte boompies om te kies:
Buddleja saligna (witolienhout)
Hierdie klein, vinnig groeiende immergroen boompie kan 3 m tot 5 m hoog word wat dit ideaal maak vir klein tuine of groot potte. Die digte blaardak van smal grysgroen blare herinner aan ʼn olyfboom en dit dra ook klein wit blommetjies wat skoenlappers en ander bestuiwers lok. Hierdie droogtebestande minsorgboom is perfek vir stadstuine.
Dais cotinifolia (kannabas)
Die gewilde kannabas is bladwisselend en word ongeveer 4 m tot 6 m hoog. Dis uiters bekend vanweë sy skouspelagtige vertoning van donsige pienkpers blomme in trosse wat van die lente tot vroegsomer blom. In klein tuine skep dit ʼn fokuspunt sonder om te veel plek in beslag te neem.
Dombeya rotundifolia (gewone drolpeer)
Hierdie klein bladwisselende boom word 4 m tot 6m hoog en dra ʼn massa geurige wit blommetjies wat in trosse hang en aan ʼn peerboom herinner (vandaar die naam). Dit lewer ʼn mooi vertoning in die lente, sy kompakte grootte neem nie veel plek in beslag nie, en dit vul jou tuin met geur.
Halleria lucida (notsung)
Hierdie immergroen boom word 4 m tot 6 m hoog. Die rooioranje buisagtige blomme is gewild onder die voëls, wat lewe en kleur aan jou tuin gee. Notsung is ook aanpasbaar by verskeie grondsoorte en is bestand teen ʼn bietjie ryp, wat dit veelsydig in die tuin maak.
Heteropyxis natalensis (laventelboom)
Die laventelboom is ʼn halfbladwisselende boom wat 4 m tot 7 m bereik – aan die groot kant van die kleinboomgroep. Dit het mooi bas en dra trosse geurige laventelagtige blomme.
Magnolia grandiflora ‘Little Gem’
Die ‘Little Gem’, ʼn tuingunsteling, is ʼn kompakte immergroen boom met lieflike blomme. Dit spog met groot, blink donkergroen blare en dra geurige roomwit blomme wat van die lente tot die somer blom. Dis ʼn wonderlike keuse vir magnolialiefhebbers wat nie die plek vir die ander toringhoë variëteite het nie.
Bolusanthus speciosus (vanwykshout)
Die vanwykshout is ʼn klein bladwisselende boom wat net meer as 5 m hoog word. Dit word gekweek om sy hangende trosse geurige blouviolet blomme wat herinner aan dié van die bloureën. As jy na ʼn treffende boompie vir jou tuintjie op soek is, is dit net die een om te kies.
Sitrus
Sitrusbome is nuttig in die tuin en kombuis en bereik 3 m tot 6 m. Hulle is gewilde keuses vir potte en klein tuine – ʼn wonderlike manier om vrugte in stedelike gebiede te kweek. Met behoorlike sorg en snoei kan hierdie bome ʼn hanteerbare grootte gehou word, wat gedy en volop vrugte in houers en in die tuin dra.