
Delikate Engelvlerkies




Die delikate voorkoms van Engelvlerkies of gauras (voorheen Gaura lindheimeri, nou Oenothera lindheimeri) is misleidend aangesien hierdie boorling van Texas en Louisiana ʼn baie geharde meerjarige is wat bestand is teen lang tye van droogte, warmte, vogtigheid en verwaarlosing. In perfekte toestande is dit ook siekte- en plaagvry!
Die natuurlike groeivorm is vaasvormig met halfbuigende, digte stingels met are fyn blommetjies wat aan dartelende skoenlappervlerkies herinner. Vierkroonblarige blomme is aanvanklik dig toe pienk knoppies wat wit is as dit oopgaan en dan roospienk verkleur namate dit ouer word voor dit afval. Dit blom van vroeglente tot laatherfs en lok bestuiwers soos bye en skoenlappers.
Ons is gelukkig om toegang tot ʼn hele paar variëteite te hê met groeiwyses wat wissel van hoog tot kompak en verskillende kleure van spierwit tot dieproospienk.
Engelvlerkies, soos hulle ook genoem word, vervul talle rolle: Hulle kan as uiters blomryke vullers in meerjarige beddings gebruik word, komplementeer rose en siergrasse, en sorg vir dramatiese trefkrag as hulle in ʼn massa geplant word. Dit nuutste variëteite sluit in ‘Sparkle White’, ‘Belleza Pink’, ‘Little Janie’, ‘Belleza White’ en ‘Belleza Dark Pink’.
ʼn Klassieke kombinasie is die kompakte en regopper variëteit ‘Belleza Dark Pink’ wat met Salvia ‘Mystic Spires’ (met donkerblou blomare) en die lintvormige bont blare van Dianella tasmanica ‘Variegata’ (vlaslelie) ingespan word. ʼn Bedding hiervan sal ʼn simfonie van kleur en tekstuur wees.
Dis maklik om engelvlerkies in vol- of oggendson, en in komposverrykte goed dreinerende leem- of sandgrond te kweek.
Wat Engelvlerkies nodig
Dis maklik om engelvlerkies in vol- of oggendson, en in komposverrykte goed dreinerende leem- of sandgrond te kweek.
Hou dop hiervoor:
- Skraal, langbenige groei beteken dat die plant nie genoeg teruggesnoei word nie. Knip dit liggies netjies na ʼn goeie blommedrag in die laat lente om vars somergroei aan te moedig, en snoei straf terug na die laaste blomme in die laat herfs.
- As jy roeskolletjies op die blare sien, kan dit as gevolg van swak dreinering of te veel water wees.
- Engelvlerkies is meerjarig en rypbestand, maar die plante is nie blywend nie. As hulle swak presteer, vervang hulle met vars voorraad. Gebruik afgesnoeide stingels vir steggies om nuwe plante in die somer en herfs te bewortel.