Die Inheemse Herfs- en Wintertuin

Senecios barbertonicus


Leonotis species
Elsa Pooley, die botanis, kunstenaar en outeur gee ons insig en plantwenke oor inheemse plante wat binnekort gaan begin blom.
Die herfs- en wintermaande is ongelooflik kleurryk in die somerreënstreke van SuidAfrika – en die lug is vol skoenlappers en ander insekte. Saadvretende voëls benut die saaddraende gras die beste en ʼn verskeidenheid bome en struike wat laatsomer blom, dra tot in die winter vrugte, wat kos aan baie voëls en insekte verskaf.
Die wintertuin kan kleurryker as die somertuin wees en dis net ʼn geval van om te weet wat om te plant. Van April tot Augustus raak die aalwyne spatsels helder kleur, en die belangrikste is die nektarryke blomme wat kos verskaf vir voëls en ʼn menigte insekte, waaronder ʼn aantal bysoorte. Sorg vir afwisseling en ʼn mengsel van teksture en kleure deur ook ʼn groot verskeidenheid ander vetplante te plant. Namate die weer koel en droog word, verander die blare van talle vetplante na ʼn dieper pienk en rooi wat interessante kleur verleen.
Die herfs- en wintertuin moet ʼn ryk mengsel van vetplant- en kruidagtige spesies wees. Onthou om te let op hoe die son in die winter deur jou tuin beweeg. Vetplante en blomstruike hou meestal van baie son. Daar is egter ʼn paar uitstekende plante wat in skadu gedy en blom soos spoorsalies, clivias (boslelies), sandlelies en wit poeierkwasse. Dis die beste om die bolle in groot groepe te plant.
Beplan lank vooruit goed vir die herfs- en wintertuin. Kyk ʼn bietjie na tuine in die omgewing waar jy woon en besoek inheemse kwekerye om te sien watter plante die beste in jou klimaatstoestande vaar. Beplan vir blaarkleur en tekstuur wat heeljaar tref en wees bewus van die verskillende spesies se blomtye – jy sal ryklik beloon word! Gee daarna aandag aan die uitbreek van dooie blomme en snoei ná blom waar dit nodig is om die wintertuin die heel beste in stand te hou.



Kalanchoe thyrsiflora
Wenk 1: Gebruik waterslim vetplante in jou wintertuin
Aalwyne wat vormplante in die somer is, verleen kleur aan die wintertuin. Betroubare spesies wat oral in die somerreënstreek groei, is:
- Die kransaalwyn (A. arborescens)
- Grysaalwyn (A. chabaudii)
- Bitteraalwyn (A. ferox)
- Franse aalwyn (A. pluridens)
- Lebombo-aalwyn (A. spicata)
- Strandaalwyn (A. thraskii)
- Van-balen-seaalwyn (A. vanbalenii)
Die volgende vetplante verskaf ook blomme sowel as kleurryke blare in die winter. Namate dit koel en droog word, word die blaarkleure van talle vetplante ook ʼn dieper pienk en rooi.
- Cotyledons – plakkie (C. orbiculata) met baie blaaren kleurvorms.
- Koraalsenecio (Kleinia fulgens)
Crassulas
- Die skaduplakkie (C. multicava)
- Trailing jade (C. sarmentosa)
- Kerkei (C. ovata)
- Aanteelrosie (C. capitella)
Kalanchoes
- Geelplakkie (K. thyrsiflora)
- Meelplakkie (K. luciae)
- Bosveldplakkie (K. sexangularis)
- Tugelakransplakkie (K. longiflora)
- Nentabos (K. rotundifolia)
Curios (tevore Senecio)
- Blouvingertjies (C. crassulaefolius)
- Blouharpuis (C. ficoides)
- Dassieharpuis (C. talinoides)
Senecios
- Vlesige bos-senecio (S. barbertonicus)
- Kanarieklimop (S. tamoides)

Helichrysum petiolare

Bulbine natalensis

Hypoestes aristata
Tip 2: Gebruik blombolle en meerjariges in jou wintertuin
ʼn Paar uitstekende winterblombolle en laaggroeiende meerjariges vir jou herfs- en wintertuin sluit in:
- Bosviooltjies (Barleria spp)
- Geelkopiva (Bulbine natalensis)
- Boslelie (Clivia gardenii)
- Wilderoosmaryn (Eriocephalus africanus)
- Witpoeierkwas (Haemanthus albiflos)
- Lintbos (Hypoestes aristata)
- Vuurpyle (Kniphofia praecox), en lentevuurpyl (K. rooperi)
- Sandlelie (Veltheimia bracteata)
Sewejaartjies (Helichrysum decorum)
- Kooigoed (H. petiolare)
- Poplar everlasting (H. populifolium)
- Sutherland’s everlasting (H. sutherlandii)

Tecoma capensis

Plectranthus saccatus

Plumbago auriculata
Wenk 3: Verskeie plaaslike bome en struike blom laatsomer en herfs en dra tot in die winter vrugte.
Hierdie vrugte verskaf kos aan ʼn groot verskeidenheid voëls en insekte. Die vernaamste winterblommende bome is die koraalbome met skarlakenrooi blomme wat selfs nienektarvretende voëls lok en die nektar lok insekte wat insekvretende voëls lok.
Die notsung (Halleria lucida) blom dan en wan tydens die jaar met ʼn blommedrag in die herfs, wat tot ʼn goeie vrugteoes in die winter lei. Betroubare struike wat amper heeljaar blom en ʼn blommedrag in die herfs het, sluit in die Kaapse kanferfoelie (Tecoma capensis), bietou (Osteospermum moniliferum) (was Chrysanthemoides monilifera) en die syselbos (Plumbago auriculata).
Herfs- en winterblommende struike wat kleur en interessantheid verleen:
- Dombeyas – Bosdrolpeer (D. tiliacea) en Persdrolpeer (D. burgessiae)
- Bitterteebosse (Gymnanthemum colorata) (was Vernonia colorata)
- Wildedaggas – Leonotis-spesies
- Watersalie (Tetradenia riparia)
- Syncolostemon rotundifolia
Spoorsalies – Plectranthus-spesies:
- Wimperspoorsalie (P. ciliatus),
- Groot spoorsalie (P. ecklonii),
- Spoorsalie (P. fruticosus),
- Stoepjakaranda (P. saccatus),
- Zoeloespoorsalie (P. zuluensis)
Onthou dat alle inheemse plante van betroubare kwekerye bekom moet word. Dis onwettig om hulle in die natuur uit te haal.
Oor Elsa Pooley
Tuiniers wat hoofsaaklik inheemse plante kweek, sal vir seker weet van Elsa Pooley en haar indrukwekkende werk oor die identifisering en dokumentering van inheemse plante in Suid-Afrika in haar boeke, maar ook van haar uitstekende bydrae op die gebied van plantkunde, haar passie vir plaaslike plante en botaniese kuns. Ons bedank haar dat sy ons by haar gejaagde skedule kon inpas. Hierdie artikel gee vir ons ʼn beter begrip van watter plaaslike plante in die herfs en winter kleurryk is.
Elsa se boeke is verkrygbaar deur die KZN Flora and Fauna Publications Trust – www.floratrust.co.za
Sy doen verskillende dinge waaronder die lei van botaniese toere, botaniese kunskursusse en landskappering. Gaan kyk na al haar werk en kom met haar in aanraking op haar webwerf www.pooley.co.za












