Die Voordeel Van Grond
Wees altyd waterslim!
Grond is een van die belangrikste hulpbronne op aarde. Gesonde grond is ʼn lewende ekostelsel wat vol van ʼn verskeidenheid mikro- en makroörganismes is wat voedselsekuriteit oor die hele wêreld ondersteun. Sonder gesonde gronde wat goed werk, word voedselbeskikbaarheid bedreig omdat goeie gehaltekos vol voedingstowwe slegs uit gesonde grond verkry kan word. Goeie gehaltegrond is ook uitstekend vir waterbewaring. Water Wise bespreek die redes.
Grondvorming is afhanklik van die afbreek van die moedergesteente, en die grondtipe asook die grootte van die gronddeeltjies ontstaan uit die tipe gesteente. Kleigrond bestaan byvoorbeeld uit dig saamgepakte piepklein deeltjies met min organiese materiaal. Kleigrond raak taai en deurweek as dit nat is, en bevat min lugholtes. Sandgrond, daarenteen, bestaan uit veel groter deeltjies en bevat groot lugholtes. Water sak baie maklik in sandgrond weg, wat tot gevolg het dat dit gou uitdroog. Leemgrond is ʼn mengsel van klei- en sandgrond en is ʼn wonderlike substraat aangesien dit goed water hou terwyl dit lug toelaat om te sirkuleer. Dit bevat ook organiese materiaal en mikroörganismes, wat daarvan ʼn baie gesonde grond maak.
Alle grondtipes kan verbeter word deur kompos by te voeg. Kompos, wat organiese materiaal is, verbeter die belugting, asook die waterhouvermoë van grond. Dit is maklik om kompos te maak van kombuisafval soos groenteskille, koerantpapier en grassnysels of blare wat in die tuin afgeval het. Kompos verskaf ook kos vir grondorganismes soos erdwurms en verryk die grond met voedingstowwe en minerale. ʼn Organiese deklaag soos kompos is wonderlik omdat dit voedingstowwe vrystel namate dit afbreek. Deur jou grond te verbeter, kan jy geld spaar op misstowwe en jou waterrekening aangesien gesonde grond langer water hou.
Deur vas te stel watter grondtipe jy het, kan jy besluit wat jy moet doen om dit te verbeter. ʼn Eenvoudige toets om die grondtipe vas te stel, is om ʼn baie klein bietjie water by jou grond te voeg, dan ʼn hand vol te neem en dit in ʼn langwerpige vorm te rol. Sandgrond breek op wanneer dit gerol word, leemgrond maak ʼn rol maar met ʼn paar krake in, en klei kan gebuig word wanneer dit uitgerol word en het geen krake nie.
Die grondtipe het ook ʼn groot invloed op die soort en hoeveelheid benatting wat in ʼn landskap of tuin gebruik word. Sandgrond moet gereeld klein hoeveelhede water kry sodat die water nie te diep insak nie, maar liewer in die wortelsone van die plant bly. Besproei kleigrond met tussenposes oor ʼn langer tyd sodat die water stadig in die grond kan insak. Leemgrond is die maklikste om te besproei omdat die water lank genoeg bly vir die plante om te gebruik, maar nie so lank dat die grond versuip raak nie.
Gronderosie is ʼn groot omgewingsprobleem wêreldwyd aangesien gesonde bogrond vol voedingstowwe en organismes weggespoel word. Dit kan 200 tot 1 000 jaar duur om natuurlikerwys net 2,5 cm nuwe bogrond te vorm. Dit is noodsaaklik om ons grond te bewaar en te beskerm. Gesonde grond skep ʼn gesonde wêreld.