fbpx

Drie klein inheemse boompies


Read in English

Tuine raak al kleiner, wat dit nodig maak om kleiner bome en struike te plant om die skaal en verhouding in die landskap te handhaaf. Deesdae is inheemse flora aan die orde van die dag, en baie behuisingslandgoedere dring aan op ʼn beleid van die kweek van plaaslike plante. Hier is drie van ons puikste klein boompies vir gebruik in beperkte ruimtes. Hulle is almal taai en gehard en kan in ʼn groot verskeidenheid klimaatstoestande groei. Gebruik hulle om hoogte en skadu in klein tuine te gee. As hulle te groot en oorweldigend raak, sal gereelde snoei in die vroeglente help om hulle in toom te hou.

Basboom (Dais cotinifolia)

Een van die mooiste van al die inheemse blombome is die basboom, wat óf bladwisselend óf immergroen is na gelang van die klimaatstoestande waar dit groei – dit verloor sy blare in koue winterstoestande. Die wasagtige blare het ʼn blouerige skynsel aan die bokant wat die boom opvallend in die landskap maak. In die somer is die netjiese, goed geronde bome toe onder pienk blomme en word maklik van ver af opgemerk. Afsonderlike blomme is buisvormig en word in eindstandige trosse gedra. Die ou blomme word droog, verkleur bruin en bly dikwels ʼn tyd lank aan die boom. Die boom groei in ʼn groot verskeidenheid klimaatstoestande en pas by droë sowel as waterryke streke aan.

Witolienhout (Buddleja saligna)

Dié vinniggroeiende plant wat wydversprei deur die grootste deel van ons land voorkom, word onderbenut. As vlugtig daarna gekyk word, lyk die lansvormige blare feitlik soos dié van die olienhout. Hierdie buddleja groei egter veel vinniger en dra mooi wit tot roomkleurige blomme in die lente en vroegsomer. Die blare is donkergroen aan die bokant en wit of grys onder. Piepklein lekkerruikblommetjies met ʼn sterk heuninggeur word in geronde blomhofies naby die takpunte gedra, wat skoenlappers en ander insekte na die tuin toe lok. Stut en snoei jong bome om ʼn aanvaarbare boomvorm te ontwikkel. As dit onbeteueld gelaat word, kan dit ʼn groot deurmekaar struik raak.

Soetdoring (Vachellia karoo)

Dié bekende doringboom wat tevore as Acacia karoo bekend was, kom wydverspreid deur die grootste deel van die land voor. Die soetdoring is uiters veelvormig in sy natuurlike habitat, en is ʼn pragtige klein boompie vir die tuin ten spyte van sy dorings. Dit is koue- en rypgehard asook droogtebestand, en is in ʼn groot mate die antwoord vir oral groei. Die laagspreidende boom is bladwisselend tot immergroen na gelang van die klimaat, en het ʼn tipiese Afrika-voorkoms. Die blare is klein en fyn, terwyl die dorings baie groot en opvallend is. Goudgeel bolvormige blomme verskyn in die somer, en daarna boontjieagtige saadpeule. Dit is ʼn goeie boom om voëls te lok

-->
The Gardener