fbpx

Gee Plante Kunsmiswoema

Kunsmiskeuses is nie meer so eenvoudig nie. Die ernstige tuinier moet wys besluit tussen die wye verskeidenheid gevorderde kunsmismengsels met doelgemaakte samestellings.

Dit is uiteraard ononderhandelbaar dat alle plante in goeie komposgrond moet groei. Tog moet ons onthou dat dié plante aanvullende voeding, waaronder drie onontbeerlike makroelemente, nodig het om te floreer.

Dit is eerstens belangrik om plantgroei nĂ¡ die winterslaap ’n stewige hupstoot te gee met behulp van die plantvriende N, P en K:

(N) Stikstof, die blaarvriend (nommer een)

(P) Fosfor, die wortelvriend (nommer twee)

(K) Kalium, die blom- en vrugvriend (nommer drie).

Al drie minerale kom in verskillende NPK-samestellings in enige sak kommersiële kunsmis voor.

Kunsmis kan organies wees, wat beteken dat die hoofbestanddele van hoendermis of seewier afkomstig is. Hierby word vismeel en humussuur gevoeg. Die werking vind geleidelik plaas, en hertoediening kan tussen vier en ses weke geskied.

Kunsmis kan ook kunsmatig vervaardig word, wat hoĂ« dosisse NPK verseker, met ‘n bietjie ekstra skop van spoorelemente. Dit laat dit vinniger werk, maar ongelukkig beteken dit ook dat dit meer gereeld toegedien moet word. Indien jy nie streng organies tuinmaak nie, is dit ’n goeie idee om beide te gebruik.

Ons beveel aan dat jy pasgemaakte, stadig vrystellende organiese kunsmis aan die begin van die lente vir grasperke gebruik, gekombineer met ’n dun laag grasperkdekking om nuwe groei aan te help, en dat jy dit daarna met vinnig werkende chemiese kunsmis opvolg. Dieselfde beleid kan vir gevestigde struikbeddings gevolg word: Gebruik ’n stadig vrystellende samestelling vir blomproduksie en volg dit daarna met ’n vars deklaag op. ’n Sintetiese produk met ’n stewige hoeveelheid kalium kan later toegedien word.

Kunsmiswenke

  • Grasperke – dit is nie wys om droĂ« grasperke te bemes nie. Sny en besproei dit die vorige dag. Hou streng by die aanbevole hoeveelheid kunsmis per vierkante meter, en indien jy ’n groot oppervlakte het, word daar aanbeveel dat jy ’n stuk tou gebruik om jou te help om presies te weet tot waar jy reeds toegedien het. Te veel is mors! Benat die oppervlakte onmiddellik om die opname van die misstof in die grond te verseker.
  • Struikgewasse – versprei die korrel- of verpilde kunsmis egalig by die wortels van die plante. Maak seker dat dit nie om die stam ophoop nie, omdat dit dalk die plant kan brand. Hier is dit ook belangrik om dadelik water te gee en daarna ‘n deklaag.
  • Water-oplosbare kunsmis – wanneer met ’n spuit toegedien word, moet albei kante van die blare bedek word. DiĂ© kunsmis kan ook met ’n gieter as grondbenatter toegedien word. Raak ontslae van enige oorblywende kunsmismengsel.
  • Hou kunsmissakke behoorlik toe en berg dit waar kinders en troeteldiere nie daarby kan uitkom nie.

Voedingstyd (Augustus)

Voed winterbolle wat begin afblom met spesialisbolplantvoeding. Dié pasgemaakte kunsmis kan ook benut word om somerbolle in die tuin te bemes. Amarillis en ander plante in potte vaar ook goed met dié ontwerperskos.

Begin hortensias (of krismisrose) met versurende plantvoeding voed – ’n spesialiskunsmis vir blou blomme.

Voed tropiese en sagtevrugtebome met ’n samestelling wat kaliumryk is, soos 4:1:6.

Rose wat gesnoei is, hou van ’n spesialissamestelling wat welige loof, knopvorming en kleur aanhelp; 8:1:5 is die regte kandidaat.

Plante soos asaleas, katjiepiering, brunfelsia en suurlemoenbome het soms lentekrag nodig van ’n wateroplosbare produk ryk aan spoorelemente, sodat vergeling en vlekkerige blaargroei reggestel kan word. Daarna kan ’n algemene kunsmis toegedien word vir blomme en vrugte.

Houerplante wat nog nie in nuwe houers hoef te kom nie kan nuwe lewe kry deur die boonste laag van ou potgrond te verwyder en dit met ’n mengsel vars potgrond en kompos te vervang. Voed dit met ’n stadig vrystellende algemene kunsmis, dien genoeg water toe en gee ’n deklaag as toegif.

Wanneer nuwe areas vir beddings voorberei word, kan ’n sak kompos en ’n wortelversterker soos superfosfaat of beenmeel vir elke twee vierkante meter ingespit word.

Om groei te bevorder, is ’n vis-emulsie belangrik om saailinge en nuwe steggies die nodige oemf te gee voordat hulle in die tuin uitgeplant word.

Advertisements
-->
The Gardener