fbpx
garden design

Goeie Ontwerpidees

Ons hou daarvan om tuinsentrums en ontwerpskole te besoek om te sien watter briljante idees gedurende die jaar uitgedink is en hoe entoesiastiese jongmense wat nuut in die bedryf is die kennis wat hulle van hul ou professionele mentors absorbeer op vars ontwerpe toepas. Tydens ons onlangse besoeke aan Garden World en Lifestyle Tuinsentrum het ons baie gesien waaroor ons dol was. Hier is die ontwerpidees wat ons eenvoudig met jou moet deel, en wat jy moontlik in jou tuin kan benut.

Deur en deur modern

Ons was dol oor die skoon, hoekige lyne van dié eietydse ontwerp wat uitstekend is vir ʼn meenthuistuin of binnehof. Die enigste kleur, ʼn absoluut moderne grys skakering, bind die verskillende elemente saam, terwyl die natuurliker elemente van ruhout, wit klippe, water in die fonteine en gras die mensgemaakte materiale pragtig afrond. Die drie geronde houers, in verskillende monochroom kleure, en die plante wat dit bevat, is versigtig uitgesoek om organiese lyne en sagte kleure aan die ontwerp te verleen.

Kontrasterende kolle

Wat ʼn skouspelagtige manier om ʼn saai muur te beklee! Reghoeke van verskillende materiale, in verskillende groottes, vorms en diktes skep nie net ʼn dinamiese, energieke patroon nie, maar is ook baie nuttig as houers vir ons ou gunsteling, lugplante. Die tillandsias in die kissies is gemonteer op kunsgras, wat tot die tekstuur bydra, terwyl die gordyn van oumansbaard wat agter die swart “gordynreling” afhang, nog ʼn tekstuur aan dié “vensterskap” verleen.

Droom groot

Die ontwerpers is geïnspireer deur die aanhaling: “Ontwerp as ʼn plek om te droom . . .”, en het dit reggekry om die spyker op die kop te slaan met hul vertolking daarvan. Uiteraard sal ons nie almal ʼn mistieke, bekoorlike gewelfboog in ons tuine kan bou nie, maar sal dalk die idee kan gebruik om op kleiner skaal iets te bou wat soos ou ruïnes lyk – dalk ʼn antieke voetstuk vir ʼn pot, of ʼn muur. Aanplantings wat lyk of hulle die geboue vir die natuur teruggewen het, is ook effektief, terwyl ʼn raam wat gebruik word om die oog verder te trek altyd ʼn uitstekende idee is

Stap uit

Die ontwerpers van Nature’s Perfection was baie suksesvol, en hul gebruik van organiese vorms was inspirerend. Die oorgroot leikliptrapklippe en plat klippe het tot die gevoel van ʼn antieke tuin bygedra, so ook die gebruik van varings, wat outomaties ʼn element van die verre verlede bygevoeg het. Ons het gedink die gebruik van lae grondbedekkers tussenin, in dié geval twee kontrasterende kleure Skotse mos (donkergroen Sagina subulata en ligter lemmetjiegroen S. subulata ‘Aurea’), was pragtig.

Helder kan mooi wees

Ons glo vas dat die eetbare of groentetuin nie agter weggesteek hoef te word nie, dus het ons gehou van die manier waarop dié tuinontwerp die eetbare tuin bekoorlik gemaak het. Helder kleure kan gebruik word om ʼn fokuspunt van funksionele items te maak, soos dié tipi, pleks van hulle met die agtergrond te laat saamsmelt. En wanneer die plante groei, sal die effek selfs groter wees.

Tree uit

Potplantstaanders hoef nie op verandas gebruik te word of om ʼn lelike muur weg te steek nie. Sit hulle op die ereplek langs ʼn paadjie, en jy kan ʼn paar van jou gunstelingplantjies tot op ooghoogte bring. Terracottapotte werk so goed in dié geval omdat hulle hul eie louter prag het terwyl die diepblou muur op die agtergrond nog ʼn slim besonderheid in dié tuin is.

Wedergeboorte van geluk

Ons streef almal daarna om geluk te vind, veral in ons tuine, en daarom het ons gedink dié ontwerp is in die kol. Een van die elemente waarvan ons veral gehou het, was die geurgevulde spiraaldoolhof wat na ʼn sitgebied lei. Die doolhof maak dat jy stadiger loop en jou omgewing waardeer, sodat jy teen die tyd dat jy gaan sit, reeds kalm en in staat is om jou pragtige omgewing te geniet.

Knap gekis

Die muurkissies is nog ʼn slim manier om potplante te vertoon, asook ʼn goeie manier om ʼn groot geverfde muur te verdeel. Die ontwerpers het ook die gebruik van items in drieë herhaal – die potte, die banke en tafel, die drie oorhoofse balke – vir konsekwentheid. Die kleur van die muur is ook suksesvol.

Wiegend in die wind

Grasse is ʼn mooi manier om beweging in ʼn tuin te verleen, of harder, meer gestruktureerde oppervlakke op te breek. Dié gras is veral eteries en ons het gehou van hoe dit ʼn waas van loof skep waardeur jy kan sien, maar wat diepte aan die toneel verleen en die herhaalde, mensgemaakte patroon van die pale beklemtoon.

Agtermekaar gebêre

Dit is so ʼn skilderagtige klein tuinhoekie. Die geboë, modulêre muur is briljant – nuttig sowel as mooi om na te kyk, en ʼn uitstekende manier om palethout in die tuin te gebruik. Kruie soos tiemie en origanum sal uitstekend wees in die hokkies, mits hulle genoeg son kry, en ons het ook gedink die idee om mielies as loof en tekstuur te gebruik, was inspirerend.

Gebruik water slim

Waterslim tuinmaak is hier om te bly weens die toenemende waterskaarste, dus moet ons almal kyk hoe om geharde klein plantjies soos dié echeverias en haworthias in ons tuine in te bring. Deur ʼn aantal spesies te vermeng, soos hier gedoen word, word verskillende kleure en vorms ingevoer wat almal teenoor die bruin klip as realistiese natuurlike agtergrond gestel word. Ons het ook gehou van die gebruik van bamboespale as rand omdat hulle soveel eleganter as bloekompale is, en baie omgewingsvriendelik is.

Advertisements
-->
The Gardener