fbpx

Hartvormige Blare vir die Huis

Winterkleur om enige kamer in die huis op te helder

Hartvormige blare het in onlangse  jare ʼn gewilde keuse vir huisplante geraak met die plantlys wat jaarliks langer word. Een van die pragtigste keuses is siklame. Die silwergrys merke op die woudgroen agtergrond kontrasteer mooi en elke plant se blaarmerke verskil van ander plante s’n wat eenvoudig op hul  eie verstom. Die beste van siklame is dat hulle in die winter blom wanneer ander  huisplante rus. Hul kleure wissel van pienk, wit, rooi en oranje tot pers en hulle het  unieke teruggebuigde kroonblare.

Siklaampretfeit

Siklaamspesies is afkomstig van die gebied om die Mediterreense See in Europa waar  hulle sedert Middeleeuse tye bekend was as panis porcinus, wat later as varkbrood vertaal is. Daar is lank geglo dat die rede vir dié naam was dat die knolle deur die varke uitgegrawe en gevreet is ten spyte daarvan dat dit giftige alkaloïede bevat. Daar word vermoed dat al het die varke dit wel uitgegrawe, het hulle dit inderdaad nie geëet nie, maar eerder net daarmee gespeel en is toe weg om iets smaaklikers te gaan kry. Hierdie vreemde naam vir dié mooi plant het egter vasgesteek.

Siklaamsorg

Siklame verkies ʼn koeler temperatuur  van 10 °C tot 18 °C en helder maar indirekte lig. Direkte sonlig sal die blare brand. Maak hulle ook versigtig nat met volop water maar nie deurweek nie in hul groeityd, en met uiters min water minstens drie maande lank in die somer wanneer hulle rustend raak. Natmaak van onder af help keer dat water op die blare versamel, wat hulle kan laat vrot. Oorbenatting kan ook die knolle laat vrot. Voed tweeweekliks met ʼn vloeibare misstof slegs gedurende die groeiseisoen. As by net hierdie paar versorgingswenke gehou word, sal hulle nog baie jare plesier gee.

Advertisements
The Gardener