Helder Herfskleure
Hulle word immergroen plante genoem, maar is nie heeltemal “groen” nie. Dié plante is duidelik sigbaar in die tuin omdat hul loof helder en intens is met ryk kleure wat op hul eie ʼn glanspunt is.
Coprosmas van dagbreek tot skemer
As klein struikie kan jy op ʼn spieëlplant staatmaak om taai en betroubaar te wees en maklik te groei. Hulle groei in son en halfskadu in omtrent enige grond mits dit goed dreineer en vaar ook goed aan die kus in die soutbelaaide wind en lug. Hul enigste lastigheid is ryp en moet in gebiede met ryp beskut word.
Die ‘Pacific’-reeks spieëlplante is ewe gehard met verstommende kleuring wat maak dat hulle tussen die menigte opval. Coprosma ‘Pacific Sunrise’ het golwende blink blare in sjokoladebruin met warm pienk aksentpunte en Coprosma ‘Pacific Sunset’ word beskryf as helderrooi met sjokolade rande. Hulle is amper die teenoorgestelde van mekaar, vanwaar die name sonop en sononder.
Gebruik hulle op ʼn menigte maniere in die tuin – as geknipte heining of vormplant, rondom ʼn soutswembad, in houers, of in ʼn massa geplant wat toegelaat word om sommer net wild te groei. Hulle word tot 1 m hoog en wyd en sal met gereelde regknip bosagtiger raak.
Sodra hulle gevestig is, het hulle uiters min water nodig, en ʼn voeding elke lente met ʼn algemene stadig vrystellende misstof sal hulle blink en gesond hou. Die loof is heeljaar interessant en ʼn moet vir ʼn snyblomtuinier.
Hoëspanning-cordylines
Drakebome is bekend vir hul uitstekende vorm, en bied ook ʼn reeks kleure, waaronder die fantastiese ‘Electric Pink’ met sy mooi maroen blare met helderpienk rande. Hulle is uitstekende poteksemplare en sal ook in ʼn tuinbedding goed vaar om kontras en argitektuur te verleen.
Cordyline banksia ‘Electric Pink’ is hitte- en droogtebestand en betreklik kouegehard. Hulle groei in volson en halfskadu in goed dreinerende grond en word ongeveer 1,2 m hoog. Hierdie plante, wat oorspronklik van Nieu-Seeland afkomstig is, maak spigtige blare aan die plantbasis soos ʼn polgras, wat aan hulle ʼn skulpturele palmagtige vorm verleen. Gee hulle volop water om hulle te laat gedy en voed hulle in die lente met ʼn stadig vrystellende misstof.
Azalea ‘Encore’
Soos die naam te kenne gee, is hierdie ‘Encore’– asaleas die enigste asaleas wat van die lente, heelsomer en deur die herfs aanhou blom. Hulle is skoenlappermagnete en word ongeveer 75 cm x 100 cm groot. Hulle gedy in goed dreinerende, klam, effense suur grond. Hulle verkies ligte skadu tot volson.
Al hierdie plante is onder die Keith Kirsten-handelsmerk en by plaaslike tuinsentrums landswyd verkrygbaar.