fbpx
herfsplantsorg

Herfsplantsorg vir teer plante

herfsplantsorg

Dit word die tyd van die jaar wanneer ons gevoelige plante teen moontlike ryp moet beskerm. Wees op die uitkyk na helder, kalm lug en dalende namiddagtemperature: die ideale toestande vir ryp. Bedek rypgevoelige plante en kyk na hierdie wenke:


Houers

  • Skuif plante in potte na ʼn warmer plek langs die huis of onder bedekking op ʼn patio, veral aan die suidekant. Maak die grond goed nat (behalwe vetplante). Nat grond behou warmte beter as droë grond, wat die wortels beskerm en die lug naby die grond verwarm.
  • Bedek potte met borrelplastiek om te keer dat die grond vries.
  • Sit houerplante in ʼn groep teenmekaar en, as dit moontlik is, sit hulle in ʼn beskutte kol naby die huis.
  • Probeer jou vetplante droërig hou, of hulle nou in potte of in die grond is. Plantselle wat vol water is, sal waarskynliker bars as die water verys.

Tuinplante

Gebruik ʼn omgekeerde plantpot of emmer om gevoelige plante mee te bedek of bou ʼn raamwerk om die plante en bedek dit met rypdoek.

Rypbestande eetbare plante

ʼn Groot verskeidenheid eetbare plante is rypbestand, waaronder broccoli, kool, gousblomme, wortels, grasuie, salotte, ertjies, radyse, spinasie en snybeet.


Hierdie plante is rypgevoelig:

  • Teer plante soos avokado’s, fuchsias, bougainvilleas, begonias, impatiëns, geraniums en vetplante.
  • Eetbare plante soos sitrusbome, tropiese plante, tamaties, pampoen, patats, komkommer, okra, eiervrug, mielies en soetrissies.
  • Lenteblommende struike en bome soos kersies, asaleas en rododendrons.
  • Meerjariges soos kannas, olifantsore, caladiums en dahlias. (Oorweeg dit om hierdie plante voor kwaai ryp uit te haal en op ʼn droë, koel plek te bêre.)

Wenke:

  • Sit vetplante in potte onder die dakoorhang waar hulle teen koue nagte beskerm word.
  • Lentegroentesaad kan vroeër gesaai word as dit teen die koue beskut word. Sit jong saailinge in ʼn beskermende kweekhuis.
  • Skuif plante in potte na ʼn beskutte plek nader aan die huis. Maak die grond goed nat en bedek met rypdoek.
  • Benut leë koeldrankbottels opnuut as klokskerms om nuutgeplante saailinge in die tuin te isoleer. ʼn  Deklaag om die saailinge behou warmte en vog in die grond.
-->
The Gardener