
Hiasinte as Binnenshuise Dekor



Hiasinte is van die gewildste lentebolle om binnenshuis te kweek. Hulle verleen ʼn wonderlike geur aan die huis en kan op soveel maniere gestileer word om jou dekor af te rond. Die heel beste is hulle kan geforseer word om in die winter te blom om aan jou daardie lentegevoel te gee voor die lente inderdaad hier is.
Hiasinte in water
Die bolle kan op verskeie maniere in water gekweek word, maar die effektiefste is om ʼn vlak glasbak, bol- of glasvaas met ʼn smal nek te gebruik sodat die bol bo-op die vaas sit met sy wortels wat in die water afreik. (Om te kan sien hoe die wortels groei, is deel van die bekoring van om bolle hidroponies te kweek.)
Posisioneer die bol so dat die basis nooit aan die water raak nie, anders vrot dit. Kry dit in ʼn vlak glasbak reg deur ʼn laag klippies onderin die bak te sit, water in te gooi tot net onder die bokant van die klippies en die bolle bo-op die klippies te sit. Koue en donker toestande is nodig vir die bolle om wortel te skiet.
Laat bly hulle ʼn paar weke op so ʼn plek en die bol sal wortels in die water begin afstuur. Sodra die wortels sowat 5 cm lank is, kan die bolle verskuif word na ʼn koel plek in die huis met geen direkte sonlig nie. As die huis vir hulle te warm is, sal hulle lang stingels maak; gebeur dit, kan jy hulle laat afkoel deur hulle snags buite in die koue te laat, of sit hulle in die yskas as dit steeds te warm is.
Hiasinte in potte
Gebruik kwaliteitpotgrond met ʼn bietjie kompos by (hoofsaaklik om water te behou). Die belangrikste ding om by hiasinte te onthou is goeie dreinering. Gooi ʼn laag gruis in ʼn houer en maak dan vol met die grond. Plant die bolle met hul nekke oop. Plant hulle nader aan mekaar as wat jy buite sou, maar maak seker die bolle raak nie aan mekaar nie. Voeg ʼn deklaag soos mos of klein stukkies gruis by, maak goed nat en sit op ʼn koel plek.
Blou en wit hiasinte in potte van Hadeco is van hierdie maand af by kwekerye te kry.
Hiasintsorg
Hiasinte het al die energie en kos wat hulle nodig het reeds in hul bolle opgegaar. Hulle het net gereelde natmaak tydens uitspruit nodig, en minder as hulle blom. Die meeste hiasintbolle wat binne gekweek word, hou net ʼn jaar en kan uitgegooi word nadat hulle klaar geblom het. As jy hulle volgende jaar weer wil plant, wag tot die blare teruggesterf het en voeg dan ʼn klein dosis bolvoedsel by om hulle volgende jaar aan die groei te kry. Jy kan hulle dan uithaal, al die grond verwyder en op ʼn droë plek bêre tot volgende herfs.