
Hoe om tuinfeetjies te saai
As jy vanjaar net een jaarplant plant wat in die laatwinter en lente blom, maak dit wolk van kleur met talle Primula malacoides (feetjieprimulas).
Hierdie koelweerpragstukke is fyn van voorkoms met wollerige en getekstureerde blaarrosette en skraal blomstingels wat blomme met hartvormige kroonblare in skakerings van wit, roos, pienk, laventel, pers en boergonje in lae dra. Hulle is egter verbasend taai en heel maklik om van saad te kweek.
Hoe om jou feetjies te gebruik
Die feetjieprimula is een van die eerste blomplante wat snuf in die neus kry dat die lente dalk in die lug is en sal selfs in midwinter al begin blom na gelang van wanneer hulle geplant is. Hulle kan van Mei tot Oktober blom.
Die beste manier om met hulle te spog is om hulle in massa in blombeddings te plant, maar hulle gaan ook uitstekend saam met lenteblombolle soos affodille en met ander jaarplante soos viooltjies, gesiggies, flok sies en Yslandse papawers.
ʼn Wenk vir sukses
Moet nooit die grondmengsel tydens ontkieming laat uitdroog nie omdat dit rampspoedig kan wees!




Maak só:
- Maak ʼn skoon en ontsmette saaikissie vol klam kommersiële saailingmengsel, wat gewoonlik grinterig en veselrig is. Die primulawortels wat lug nodig het, kan dan ontwikkel.
- Sit ʼn dun lagie vermikuliet oor die saailingmengsel.
- Saai die baie fyn saad dunnetjies oor die vermikuliet sodat dit glad nie bedek word nie.
- Maak die saaikissie van onder af nat deur dit in nog ʼn houer met water in te hou totdat die groeimedium genoeg water deur kapillêre werking opgeneem het om eweredig nat te wees. ʼn Gieter met ʼn fyn roossproei of missproeibottel kan ook gebruik word om die saad nat te maak, maar wees versigtig om dit nie weg te spoel nie.
- Sit ʼn ewe groot saaikissie (met gate in om lig in te laat) onderstebo oor die gesaaide saaikissie en hou dit met ʼn klip op sy plek. Moenie glas of deursigtige plastiek gebruik nie omdat dit hitte kan laat opbou – primulas het ʼn koel temperatuur nodig om te ontkiem.
- Laat die saaikissie op ʼn skaduplek en kyk gereeld dat die grond eweredig klam bly.
- Die saad behoort binne drie weke te ontkiem waarna die bedekking verwyder moet word.
- Voed die saailinge sowat ʼn week voor jy hulle gaan uitplant met ʼn groeistimulant soos Kelpak om hulle ʼn hupstoot te gee.
- Moenie die klein saailinge te gou in klein potjies of ʼn saailingkissie uitplant nie – hulle moet eers ʼn sterk wortelstelsel ontwikkel en minstens vier blare hê.
Aanwysings vir uitplant
- Feetjieprimulas verkies halftot volskadu – oggendson en namiddagskadu is uitstekend.
- Die grondsoort is nie deurslaggewend nie (klei of suurgrond word verdra), maar moet goed dreineer en met kompos verryk word.
- Spasieer die plante 20 cm uitmekaar.
- Na verwagting sal dit ongeveer 20 tot 25 cm hoog word en 25 tot 30 cm versprei.
- Begin voed tuinplante met ʼn wateroplosbare misstof sodra die eerste blomstingels begin ontwikkel. Plante van saad blom gewoonlik na 16 weke.