fbpx

Immerblommende Begonias

Huisplantentoesiaste wat op soek is na blomkleur binne hoef nie verder te soek as Begonia elatior nie.

Dit is bekend dat hierdie halfknolagtige hibriede lank en aanhoudend blom. Die blomme self is te kry in ʼn verskeidenheid kleure van pienk, rooi, wit, geel, en oranje tot dié met ligter en donkerder skakerings wat aan die dubbel- en halfdubbelkroonblare ʼn unieke diepte gee wat bekoorlik is. Hierdie pragstukke is meerjarig, hoewel hulle dikwels as jaarplante gebruik word, en ná hul blomtyd van laatwinter deur die lente tot die somer is hulle op pad komposhoop toe. Met behoorlike sorg kan hulle egter baie seisoene hou.


Wat hulle nodig het

Grond – Die gekoopte potplante is heeltemal voorbereid op die groeiseisoen. As jy egter hierdie plante wil oorpot, gebruik ʼn goeie potgrond met bygevoegde dreineermateriale soos perliet of growwe sand en ʼn paar hande vol kompos om die voedingstowwe in die grond te verhoog. Pot oor wanneer die plante te dig in die potte is, of elke twee tot drie jaar, en hulle kan ook vir verskeie potte verdeel word. Maak seker al die dreineergate is oop sodat die water maklik kan uitloop.

Lig – Matige helder lig is die beste en vermy direkte sonlig wat die blare sal skroei.

Warmte en vogtigheid – Aangesien hulle van tropiese streke in Suid-Amerika afkomstig is, hou hulle van warmer temperature en volop vogtigheid. Gebruik pierings met klippies en water om die vogtigheidsvlakke te verhoog as dit droog is en maak dikwels nat. Misbesproeiing kan help, maar nie te veel nie, omdat dit swamsiektes uitnooi of merke op die mooi blomme veroorsaak.

Water – Wanneer die boonste 5 cm grond droog is, moet hulle water kry. Hulle hou van vog, maar synde halfknolagtig hou hulle nie daarvan om in die water te staan nie dus moet die water toegelaat word om deeglik uit te loop voor hulle weer op hul plek gesit word. Maak die grond en nie die plant nie nat. Nat blare en blomme kan blaarvlek en ander swamsiektes kry.

Voeding – Kos maandeliks in die blom- en groeityd is genoeg vir dié plante. Gebruik ʼn goeie vloeibare plantvoedsel. Vermy dit om in die herfs en winter te voed.

Snoei – Knip dié begonias terug sodra hulle klaar geblom het om nuwe groei te maak. Hulle kan in dié stadium van stamsteggies voortgeplant word. Sny heel seisoen alle dooie blare en blomme af.

Plae en siektes – Hou dop vir swamsiektes soos blaarvlek wanneer die weer baie vogtig is of die plant oorbenat is, wat duidelik te sien is as geel vlekke wat verbruin en behandel dit met ʼn swamdoder. Sonder die plante af van ander wat om hulle is om hulle te behandel. Hou dop vir planten dopluise by gestreste plante.

Let daarop dat begonias nie eetbaar is nie.

Binnenshuise begonias word deur LVG Plants gekweek en is by kleinhandelafsetpunte en kwekerye te koop.

-->
The Gardener