
Inheemse Kleur-Plantpalette
Van laag, tot hoog, is daar ‘n inheemse plant in elke mooi kleur
Suid-Afrikaners het baie om van te kies as dit by sierlike inheemse plante kom. Elke vorm, grootte, tekstuur en natuurlik kleur is vir ons beskikbaar. Interessant genoeg is groen die algemeenste blomkleur in die wêreld, maar op ʼn paar uitsonderings na is dit nie ʼn kleur wat uitstaan nie.
Kom ons bekyk ʼn paar van ons spoggerigste inheemse blomplante van naderby volgens blomkleur om jou te help om ʼn inheemse palet vir jou tuin saam te stel.
Geel vir vrolikheid
Daar is soveel geelblommige plante dat ons soms geneig is om ʼn bietjie blasé oor die kleur te raak, hoewel sonskyngeel altyd ʼn vrolike toevoeging tot die tuin is. Oorweeg dié mooie geles vir jou tuin. Euryops: Verskeie euryops-spesies word kommersieel as sierplante gekweek. Hul blaarteksture, groeiwyses en blomgroottes kan wissel, maar hulle het almal ʼn massa vrolike geel madeliefieblomme in gemeen.
Rankgousblomme: As jy op soek is na ʼn tapyt van mooi meerjarige veldblomme wat teen moeilike toestande opgewasse is, wees op die uitkyk na hulle! Gazania rigens is te kry in vorms met groen, bont en silwer blare en is ʼn grondbedekker wat teen feitlik alles bestand is. Calpurnia aurea: Dié klein boompie dra baie spoggerige goudgeel blomme en is uitstekend geskik vir klein tuine. Pragtige pienke Pienke wissel van helderpurperrooie tot sagte, rustige skakerings.
Gebruik dit saam met wit, blou of pers vir ‘n mooi kombinasie! Barlerias: Barlerias, wat ook as bosviooltjies bekend is, is uiters lonend. Kies tussen Barleria obtusa, wat oorvloedig in die lente blom, en Barleria repens, wat heeljaar nou en dan maar veral in die lente en herfs blom.
Albei spesies is te kry in bloupers vorms. Crassula multicava: Die skaduplakkie is ʼn bekoorlike droogtebestande minsorggrondbedekker wat in son of skadu gedy. Asof dit nie genoeg is nie, blom dit gereeld en volop. Dais cotinifolia: Die basboom moet een van Suid-Afrika se beste pienkblommige bome vir kleiner tuine wees. Maak egter seker dat dit in goed gedreineerde grond geplant word.
Wit elegansie
Die wonderlike wit tuin by Sissinghurst in die VK het baie tuiniers geïnspireer. ʼn Tuin met uitsluitlik wit blomme is beslis baie elegant, hoewel wit eintlik ook saam met enige ander kleur goed lyk. Beproef hierdie verdienstelike witblommige plante in jou tuin. Freylinia tropica: Ten spyte van sy tropies klinkende naam is die wit freylinia buitengewoon kouebestand. Dit het ʼn natuurlike netjiese groeiwyse, maar reageer ook goed op knip en vorm.
Falkia repens: Met ʼn oulike volksnaam soos oortjies verwag ʼn mens ʼn lieflike plant, en falkia stel nie teleur nie. Hierdie platgroeiende grondbedekker dra bekoorlike wit blommetjies. Dombeya rotundifoila: Die dombeya of gewone drolpeer verloor al sy blare in die winter en bars dan uit in ʼn ontploffing van lentebloeisels wat jou regtig in die gees van die seisoen sal kry.
Rooi passie
Vurige rooie lok die oog soos ʼn magneet en plante met rooi blomme lok ook die nektarvretende suikerbekkies. Verskaf visuele opwinding met hierdie rooiwarm tuinvreugdes. Tecoma capensis ‘Rocky Horror’: ʼn Mens kry rooi Kaapse kanferfoelies en dan kry jy ‘Rocky Horror’. Alles aan hierdie uiters groeikragtige kultivar is groter en beter. Ken dit uit aan sy ekstra groot blomme en blare.
Aptenia cordifolia: Die taai en groeikragtige grondbedekker het rooi of pers blomme. Dit groei in son of ligte skadu en is uitstekend om plekke te bedek waaraan jy nie veel aandag wil gee nie. Dit blom so nou en dan heeljaar. Scotia brachypetala: Hoewel ek in die versoeking is om die koraalboom te noem, is die huilboerboon ʼn boom wat dit werd is om in jou tuin te hê. Kweek dit as ʼn groot struik of klein boompie en wees eerder ʼn “interessante” as regop vorm te wagte.
Koel bloue
Blou is ʼn betreklike skaars blomkleur in die plantwêreld, maar met ons uiteenlopende flora is dit nie verrassend nie om te vind dat dit maklik is om bloublommige inheemse plante op te spoor. Plumbago: Sommige plante op ʼn plantlys kan net nie misgekyk word nie, en ons inheemse blou syselbos is een van hulle. Dit is besonder nuttig as heining of om ʼn lelike spitspaalheining te bedek.
Scabiosa: Scabiosas wissel van laaggroeiende rosetvorms tot klein struikies, en is te kry in blou, wit en pienk. Die blomme is eenvoudig pragtig, en hulle blom verskeie keer per jaar, veral as die dooie blomme gereeld verwyder word. Bolusanthus speciosus: ’n Vanwykshout is ʼn gesig om te aanskou as dit blom. Ongelukkig lyk dit nie of hierdie pragstuk baie goed aard in die winterreënstreke nie.
Pers en lila
Koningsperse en sagte lilas is rustige kleure. Gebruik hulle as agtergrond vir kontrasterende gele, of meng hulle met skakerings van pienk. Daar is soveel keuses dat dit moeilik is om te kies, maar hier is ʼn paar gunstelinge.
Polygala: Daar is verskeie spesies en genetiese variasies. Die kompakte ‘Southern Shores’, wat ook as ‘Petite butterfly’ bekend is, is ʼn netjiese klein struikie van ongeveer 1 m hoog, terwyl Polygala myrtifolia ʼn groot struik is wat selfs as ʼn baie klein boompie gebruik kan word.
Geranium incanum: Sagte rondings loof met ʼn fyn tekstuur verander in blomkussings sodra die lente kom. Skep jou eie blomweiland, of gebruik dit as ʼn rand vir meerjarige beddings. Virgilia: Die keurboom is baie gewild by SuidAfrikaanse tuiniers vanweë sy vinnige groei en pragtige blomme. Dis groot genoeg om ʼn mooi skaduboom te maak, maar ook klein genoeg om goed te werk wanneer daar nie baie plek vir ʼn boom is nie. En al die kleure tussenin: vra en soek Ongeag watter kleure jy in jou tuin wil inbring, is daar inheemse plante om te oorweeg.
Die plaaslike kwekery het gekwalifiseerde tuinboukundiges wat kan raad gee oor wat te kry is en wat goed in jou gebied aard. Die Nasionale Biodiversiteitsinstituut het ook ʼn wonderlike webwerf met ʼn enorme databasis van plantinligting, en as jy graag jou huiswerk tuis wil doen voor jy gaan plante kies, stel sy gevorderde soekenjin jou in staat om plante volgens blomkleur plus baie ander parameters te soek. Besoek pza.sanbi.org vir al die beste inligting wat deur kundiges saamgestel is.