Inheemse Kruie is Mooi én Nuttig
Wanneer ons aan kruie dink, kom verdienstelike plante by ons op, maar min van hulle is inheems. Is dit moontlik dat inheemse plante ook kulinêre heerlikhede en medisinale voordele bied? Laasgenoemde is ʼn omstrede onderwerp want die meeste kruierate is nog nie deeglik nagevors nie, en sogenaamde “aanvullende medisynes” moet nie as plaasvervanger vir goed nagevorste, bewese geneesmiddels vir ernstige siek mense oorweeg word nie.
Tog het ons ongelooflike ryk biodiversiteit tot baie belangstelling in ons inheemse kruie onder die navorsingsgemeenskap gelei. Die meeste medisynes wat ons vandag gebruik, hou tog in ʼn mate verband met die medisynes met ʼn plantbasis van vroeër. Kom ons kyk eers na ʼn paar inheemse plante om by jou kulinêre repertorium te voeg en dan vlugtig na gewone boererate vir minder ernstige kwale wat van inheemse plante gebruik maak.
Kook daarmee!
Dit is ʼn bietjie kwaai om al die inheemse plante te noem wat gebruik kan word om jou kookkuns interessant te maak. Om met inheemse kookkuns te begin, kry dié vyf algemeen beskikbare inheemse plante en geniet die geure!
Wildeknoffel
Min mense kan die geurversterkende eienskappe van knoffel weerstaan, maar nie almal kry dit reg om gewone knoffel te kweek nie. Ons gewone wildeknoffel (Tulbaghia violacea) met sy mooi skerms lila blomme is egter ʼn wonderlike kulinêre kruid wat verspot maklik is om te kweek. Kap bloot die blare fyn en voeg dit by die kos as Tulbaghia violacea (wildeknoffel) plaasvervanger vir knoffel. Onthou net dat ons knoffel baie sterker as die gewone soort is, dus is dit alte maklik om te veel by te voeg. Gebruik die blomme ook in slaaie of bo-op elegante snoeppeuselhappies. Dit het ʼn soeterige geur met ʼn knoffelbysmaak. As die wildeknoffel blom, pluk een af en proe self!
Wildesalie
Dit is weer eens ʼn min-moeite-genus wat omtrent almal kan kweek, en daar is soveel keuses! Salvia africana, Salvia caerulea en Salvia chamelaeagnea is almal pragtige tuinplante wat lewenskragtige struike word. Pluk ʼn paar blare en gebruik hulle in enige gereg wat gewoonlik salie nodig het. Hoendergeregte is ʼn vanselfsprekende keuse, maar oorweeg ook fyngekapte blare in soutbeskuitjies wat met roomkaas en ʼn wildeknoffelblommetjie boop bedien word.
Noemnoem
As jy al ooit die suurderige vrugte van die noemnoem (Carissa-spp.) geproe het, sal jy weet hulle smaak beslis na meer. Het jy dit egter al oorweeg om heerlike konfyte en jellies daarvan te kook? Dit is heerlik bo-op nageregte soos roomys en kaaskoek. Sodra die jasmynagtige blomme in lekker vrugte verander het, oorweeg dit om ʼn klompie uit te hou om jellie van te kook! Skep die pitte uit of druk deur ʼn sif, voeg gelyke hoeveelhede suiker by die vrugte en kook dit!
Geurige pelargoniums
Die geurige pelargoniums, wat ook malvas genoem word, is bekend vir hul heerlike geure, en soveel geure kruip weg in net dié een genus! Roosmalvas is wonderlik in muffins, koeke, gebak en nageregte, en ander geure sluit in neut, ment en selfs suurlemoen. As jy die tyd het, oorweeg dit om ʼn paar blomme te versuiker om as treffende versierings te gebruik vir koeke wat met ʼn paar fyngekapte blare vir geur gebak is.
Boegoes
Die meeste van ons is bekend met die bergboegoe (Agathosma betulina), maar dit is die moeilikste van al die boegoes om te kweek. Gelukkig is daar baie ander boegoespesies wat ʼn fees van smaaklike geure verskaf om die innerlike sjef te inspireer. Soek na knoffel-, suurlemoen- en anysaromas, om maar net ʼn paar te noem. Gebruik dié kruie redelik spaarsamig omdat ʼn mens net aan die blare hoef te raak vir die geure om na vore te kom.
Boererate
Neem kennis: As die siekte ernstig is, besoek ʼn dokter! Swanger vroue moet ook nagaan of kruiemedisyne veilig vir hul baba is. Plant hierdie maklik groeiende inheemse pragstukke vir minder ernstige kwale in jou tuin.
Wildeals: Dié mooi plant met sy veeragtige silwerkleurige loof help vir verkoues, hoes en koors. Gebruik net ʼn paar blare of ʼn enkele takkie en gooi warm water by. Dit proe bitter, maar dit werk. Baie mense vertel dat dit ook goed is vir ontstelde mae en selfs om van ingewandsparasiete ontslae te raak.
Aalwyne: Ons weet almal dat Aloe ferox ʼn florerende aalwynjelbedryf laat ontstaan het. Omtrent enige aalwynspesie kan egter help met velgenesing. As ʼn mens byvoorbeeld ʼn minder ernstige brandplek het, stil die pyn en bevorder genesing deur ʼn afgeskilde blaar oor die plek te verbind. Die koel gevoel van verligting is oombliklik. Beproef dit op enige ontsteekte plek en sug van verligting!
Bulbine frutescens: Die natuur bied ons ʼn buisie strelende smeermiddel in die vorm van ʼn bulbineblaar. Pluk bloot ʼn blaar en druk – ʼn helder jel kom uit, die perfekte behandeling vir jeukende bytplekke. Volgens mededelings kan groot hoeveelhede wat op ʼn snyplek uitgedruk word die bloeding stop. Soos met aalwyne is dit baie strelend op minder ernstige brandplekke.
En daardie kulinêre kruie ook: Wildeknoffel en wildesalie het na bewering ontsmettende eienskappe, en albei help glo om die immuunstelsel op te bou. Noemnoem is ryk aan vitamien C, pelargoniums is uitstekend as kalmerende tee wat slaap bevorder, en hoewel die ander boegoespesies dalk nie so sterk as bergboegoe is nie, is hulle steeds goed vir hoes en verkoue.
Kyk rond, bestudeer en geniet!
Daar is baie inligting oor nuttige inheemse kruie daarbuite, dus sal jy stof tot nadenke vind as jy die onderwerp diepgaander bestudeer. Maak intussen seker jy het die plante wat hier genoem word in jou tuin – hulle is pragtig sowel as nuttig!
Verdere Leesstof (Baie Interessant) http:// www.sciencedirect.com/science/article/pii/ S0254629911001190