Jou Patio Staan Reg Om ‘n Tuin Te Word!
Geen tuin nie? Geen probleem nie! Hier is ‘n paar van ons gunstelingprodukte om ‘n stadstuin mee te skep.
Die patio waar jy wasgoed ophang, jou fiets bêre en af en toe braai, kan soveel meer wees. Dit kan ‘n groen ruimte wees wat die gees verkwik of wat selfs jou spens aanvul – en toemaar, jy het nie groen vingers daarvoor nodig nie! Hier is ‘n paar voortreflike produkte wat jou sal help om jou patioruimte in ‘n japtrap in ‘n groen ruimte te omskep.
Lig jou tuin
Daar is baie redes daarvoor om ‘n planthouer van die vloer af op te lig – dit is beter vir jou rug, dit help dat jou plante meer lig kry, jou plante staan nie verlore in ‘n hoekie teen die muur nie… As dit is wat jy wil doen, is die FDB Grow Table nommerpas vir jou. Hy staan 75,5 cm hoog, wat die perfekte hoogte is om gemaklik te werk, terwyl die diepte van 36,5 cm en breedte van 65,1 cm ‘n goeie grootte is om mee te begin. As jy meer spasie nodig het, kry nog een, of oorweeg die Full Bloom Garden Bed. Hy is 114 cm breed en 49,3 cm diep en is groot genoeg om as treffende fokuspunt te dien. Koop aanlyn by za.keter. com, Takealot, Leroy Merlin of Makro.
‘n Onmisbare staatmaker
Wanneer jy op die sesde verdieping tuinmaak, het jy nie die luukse om tuinafval eenkant toe te gooi nie – jy moet dit êrens heen dra. Een van die veelsydigste, bruikbaarste items wat jy vir takies soos hierdie (en duisende ander!) kan aanskaf, is ‘n veeldoelige mandjie of bak. Hulle is sterk en buigsaam (kan dus in een hand gedra word), het ‘n kapasiteit van 40 liter en is absoluut onontbeerlik – van die meng van jou potgrond tot die dra van die oes uit jou groentetuin kombuis toe. Hulle is in swart of grys beskikbaar, en die afmetings is 46 x 37 cm.
Sit ‘n boks hier, sit ‘n boks daar … en siedaar!
Wanneer jy op ‘n patio tuinmaak, het jy houers nodig wat jy met grond en plante kan vul. Dié houtbokse is perfek geskik hiervoor, en verleen ook rustieke, plattelandse sjarme aan jou balkon of meenthuistuin. Die bokse is beskikbaar in drie groottes (39 x 35 x 39 cm; 58 x 40 x 39 cm; 90 x 40 x 39 cm) en – baie belangrik – hulle is gelig om dreinering te verbeter. Sodra jy hulle met goeie potgrond en ‘n bietjie organiese korrelkunsmis gevul het, kan jy enigiets van seisoenale sierplante tot kruie en ‘n volledige slaaituin daarin plant.
By Builders Warehouse, of toonaangewende huis- en tuinwinkels beskikbaar en aanlyn by Takealot, Makro en Leroy Merlin.