
Kaliforniese Papawer



As jy ʼn paar pakkies Kaliforniese papawersaad (Eschscholzia californica) in die hande kan kry en die prentjie van die goudgeel koppievormige blomme daarop vir ʼn kind wys, is daar ʼn sterk moontlikheid dat die antwoord ʼn positiewe “ja!” sal wees, en sommer gou sal jy vrolike en opgewonde geselskap in die tuin hê om jou die saad te help saai. Kaliforniese papawers verleen verseker sonskyngeel en warmte, selfs op die koudste dag!
Wat jy moet wees oor Kaliforniese papawers:
- Eschscholzia californica-saad kan heeljaar gesaai word, en as jy dit gou doen voor die winter kom, sal jy die plesier van ʼn massa blomme in die lente en somer hê.
- Die Kaliforniese papawer hou van volson en skraal sanderige of klipperige grond met uiters goeie dreinering.
- Saai die saad op die plek en nie meer as 2 mm diep in losgemaakte grond omdat dié plante diep penwortels het en nie oorplanting verdra nie. Hulle hoef nie vertroetel te word as hulle eers ontkiem het nie behalwe om natgemaak te word om hulle aan die gang te hou.
- Spasiëring tussen sade moet 20 cm by 20 cm wees en ontkieming vind van sewe tot 14 dae plaas, met nog sowat 90 tot 100 dae tot blom.
- Hoewel Kaliforniese papawers as kortstondige meerjariges geklassifiseer word (hulle is geneig om in ongunstige toestande rustend te raak – te veel hitte, koue of water), word hulle meestal as jaarplante met ʼn selfsaaigewoonte behandel, gevolglik is hulle geneig om by jou te bly.
Wat die kleinspan sal leer:
- Hulle is veldblomme wat inheems in die VSA en Mexiko is en is die nasionale blom van Kalifornië.
- Blomknoppe word omsluit in ʼn gepunte kapagtige hoed (blomkelk) wat bestaan uit twee versmelte kelkblare wat afval om die pragtige opgevoude blom op ʼn ronde pienk platform te onthul.
- Die blomme maak hul kroonblare netjies toe om te gaan slaap as die son ondergaan of die weer betrokke is, en maak hulle die volgende dag weer vrolik oop, wat die aarde met oranje besprinkel.
- Die lang saadpeule wat gevorm het, word van groen na bruin ryp en maak ʼn sagte plofgeluid wanneer hulle hul klein swart saadjies vrystel.
- Die varingagtige blougroen loof het lieflike pienk punte voor hulle in volwasse blare ontvou.
- Dis veilig om aan die syagtige tekstuur van die kroonblare te raak, en as jy ʼn kol Kaliforniese papawers op ʼn sonnige dag met rus laat, sal die bye en skoenlappers vir ʼn besoek kom inloer.
Kaliforniese papawer variëteite
Talle tuinvariëteite is uit hierdie gewillige plant ontwikkel, waaronder dubbel- en halfdubbelblomme asook ander kleure as net helderoranje. ‘Mission Bells’ het dubbelblomme in ʼn mengsel van skarlakenrooi, goudgeel, pienk en wit.