fbpx

Kleurslim – Harmonieuse Kleurskema

In verlede maand se artikel oor kleur het ons komplementêre kleure behandel en die wonderlike kontraste wat hulle in die tuin skep. Hierdie maand kyk ons na harmonieuse kleurskemas wat kleure met dieselfde ondertoon gebruik.

Wat is ’n harmonieuse kleurskema?

Kleure wat langs mekaar op die kleurwiel lê, staan as harmonieuse kleure bekend. Kleure wat van rooi deur mauve, violet, blouviolet, blou en blougroen strek, het ʼn blou ondertoon, terwyl geelgroen, geel, geeloranje, oranje en rooioranje ʼn geel ondertoon het. Rooi en groen neig albei na ʼn blou of geel ondertoon en veral met rooi moet baie seker gemaak word dat die ondertoon by die ander rooiblommige plante pas om die kleurskema te verbeter.

Die sielkundige uitwerking van kleur

Soos in die vorige artikel genoem is, verwarm helder kleure met ʼn geel ondertoon natuurlik en gee energie aan ʼn ruimte, terwyl dié met ʼn blou ondertoon ʼn verkoelende en kalmerende uitwerking het. Dit is interessant om te hoor tuiniers sê hulle kan een of meer kleure nie verdra nie – dikwels geel en oranje – en kies dus uiteraard plante in die teenoorstaande spektrum.

Werk met achromatiese kleurskema

Swart, wit en ʼn kombinasie daarvan, naamlik grys (en silwergrys), word achromatiese kleure genoem. Die term achromaties word veral in die drukkersbedryf gebruik en omskryf losweg “swart en wit”. Wit en silwer is wonderlike aksentkleure, veral in ʼn harmonieuse kleurskema wat bestaan uit pienk, mauve, violet, blouviolet, blou en blougroen. Hulle verleen ʼn tikkie elegansie – en selfs romantiek – aan enige komposisie.

Na gelang van die ondertoon van die grys kan dit ook treffend lyk as dit veral in ʼn vetplanttuin met die warmer kleurspektrum gekombineer word. Terwyl dit in ons gematigde klimaatstreke moeilik is om ander swart plantmateriaal as die bekende swart mondogras, Ophiopogon japonicus ‘nigra’, in die hande te kry, is daar niks wat jou keer om swart bykomstighede soos plantbakke, teëls en stoffeersel vir ʼn dramatiese effek te gebruik nie.

Tuinstyle met kleurskema

Die meeste harmonieuse kleurskemas word gebruik om ʼn tradisionele tuin in die plattelandse styl uit te beeld. ʼn Gewilde kleurskema is ʼn kombinasie van tone van pienk en mauve deur tot violet, blouviolet en blou, met verspreide kolle wit of silwergrys.

ʼn Vetplanttuin aan die brand met winterkleure bestaan meestal uit plante in harmonieuse tone van geel deur na oranjerooi, met ʼn heerlike mengsel van geelgroen of blougroen blare. Die goeie nuus is dat daar ʼn plant is om aan al jou behoeftes te voldoen wat betref die skeppende keuses wat jy maak, ongeag of jou plantkeuse na uitheemse of inheemse spesies neig. As jy nie ʼn blomplant kan kry om by jou plantskema te sit nie, is ʼn loofplant met ʼn soortgelyke effek wel te kry.

Waar om te begin

Begin soos by die komplementêre kleurskema altyd by jou gunstelingplante wat jy van plan is om te behou. In plaas van om nou egter oor die kleurwiel te werk om ʼn komplementêre kleurskema te skep, maak jou keuse uit jou voorkeurreeks kleure wat langs die kleur van jou gunstelingplant lê en werk al meer deur daardie spektrum.

Na gelang van jou gekose styl of tema sal jy óf warm óf koel kleure kies. Voeg dan kolle wit of silwer tussen jou koel kleure in, of kies in die geval van ʼn harmonieuse skema met warmer kleure ʼn komplementêre kleur oorkant op die kleurwiel om ʼn bietjie drama by te voeg. ʼn Gewilde keuse is óf violet (pers) of blouviolet by gele, geeloranje, oranje en rooioranje.

-->
The Gardener