Kry Meer Kalanchoes
Baie (of die meeste) vetplante, waaronder al die mooiste kalanchoes, kan deur middel van stingelsteggies vinnig voortgeplant word daarom kan jy binne net ʼn paar stappe hope nuwe plante gratis hê. Die gereelde maak van steggies is ook ʼn vorm van snoei wat die natuurlike geëtioleerde groei beteuel wat plante geneig is om na ʼn paar groeiseisoene te maak. Lees meer om te leer hoe om meer kalanchoes te kry
Goed wat jy nodig het
- ʼn Skerp mes of snoeiskêr
- ʼn Plastiekpot of ander houer met behoorlike dreineergate
- Vetplantpotgrond
- ʼn Ou potlood
- ʼn Missproeibottel
Oor die grondmedium
Maak dinge maklik deur ʼn kommersiële vetplantmengsel te koop, of maak jou eie deur gelyke hoeveelhede growwe riviersand, perliet en uitgeswelde palmveen te meng.
Voor jy begin
Steriliseer jou snygereedskap deeglik met ʼn huishoudelike bleikmiddel en was die potte wat jy gaan gebruik in seepwater. Die beste praktyk is om so skoon moontlik te werk om swaminfeksies te voorkom.
Berei die steggies voor
As jy meer kalanchoes wil maak, is dit belangrik om gesonde, groeikragtige stingels sonder blomme te kies. Sny die stingel so na aan die basis moontlik reguit af. Die steggies moet ongeveer 7 cm tot 10 cm lank wees. Verwyder die blare onderaan die stingel en laat bly net ʼn paar aan die steggiepunt. Die steggie sal lewe van die gebergte voedingstowwe in sy vlesige blare.
Laat bly die steggies twee tot drie dae in ʼn droë pot of kissie in die skadu om ʼn kallus oor die snyplek te laat vorm – dit voorkom verrotting.
Plant die steggies
- Maak die skoon pot vol klam grond.
- Maak ʼn gat in die grond met die ou potlood, steek elke steggie in ʼn gat en druk die grond rondom vas om dit regop te hou. Die blare moet ver genoeg bo die grond wees om te voorkom dat hulle verrot.
- Sproei die steggies goed nat met die missproeibottel voor jy hulle op ʼn warm plek met helder lig maar nie direkte sonlig nie sit.
- Misbesproei die steggies gereeld om die grond klam maar nie sopnat nie te hou.
- Beworteling behoort binne 10 tot 15 dae te duur. As jy effense weerstand voel as jy aan die steggie trek, is dit ʼn teken van wortelgroei.
- Plant die steggies in afsonderlike potte oor wanneer jy die eerste tekens van nuwe bogroei sien.
‘Flaming Katy’
(flower dust plant)
3 gewilde kalanchoes om voort te plant
Kalanchoe ‘Tessa’ is ʼn pragtige hibried met helderrooi tuitblomme aan die punte van dun stingels. Dit het ʼn spreidende groeiwyse wat dit uitstekend maak as grondbedekker asook vir hangmandjies en vensterbakke.
Kalanchoe pumila is ʼn oulike en taai grondbedekker met poeieragtige grys blare met ʼn lila tint. Trosse lila tot pienkpers blomme verskyn in die winter. Dit is ook ʼn pragtige plant vir patiopotte.
Kalanchoe blossfeldiana word dikwels beskryf as ʼn flambojante en kleurryke vetplant wat oorvloedig blom as die dae kort en die nagte lank is – wat winter beteken! Blomkleure sluit in wit, room, pienk, geel, oranje en rooi. Ons is ook bevoorreg om die ‘Calandiva’-reeks met sy digte trosse dubbelblomme te geniet.