
Kweek die perfekte Pronkertjies

Pronkertjies (Lathyrus odoratus) is die mooiste en lonendste lenteblommende snyblomme om te kweek, maar verg ʼn bietjie kraginspanning in die vorm van behoorlike grondvoorbereiding voor saai. Hulle het ook ʼn steunstruktuur nodig om hulle in die lug te hou.



Die pronkertjievoor
Anders as ander laatwinter- en lentejaarplante wat direk in ʼn bewerkte saadbedding gesaai word, het pronkertjies ʼn uitgegraafde voor vol verrykte en goed dreinerende grond nodig om in te ontkiem en goed te groei.
Kies ʼn sonkolletjie vir die plante om in te groei, en maak die plek wat bewerk gaan word die dag voor jy begin goed nat om die graafwerk makliker te maak. Grawe die voor waarin jy jou saad gaan plant minstens 50 cm diep uit en berei dit voor. Meng die uitgegraafde grond met ʼn ruim hoeveelheid kompos, ou kraalmis en beenmeel voor dit weer in die voor teruggewerk word.
ʼn Plek om teen op te klim
ʼn Sonkolletjie langs ʼn draadheining om as steunstruktuur te dien vir die piepklein hegrankies wat die rankvariëteite dra, kan ideaal wees en minder werk verlang, maar jy kan hulle ook teen bamboes of staaltipi’s kweek of eenvoudig ʼn tuisgemaakte struktuur met pale en draad of sterk tou prakseer. Dit is goed om ʼn pronkertjievoor in die groentetuin te maak omdat die blomme bestuiwers soos bye lok.
Voorbereiding en plant van die saad
Dit is raadsaam om die saad oornag in warm water te week voor dit ongeveer 5 cm diep en 10 cm uitmekaar geplant word. Hou die grond klam tot die saad ontkiem het, en gee dan gereeld water as die grondbolaag droog voel. ʼn Komposdeklaag rondom die plante word aanbeveel om die wortels te beskadu en die grond langer klam te hou. Nog ʼn keuse om wortels koel en beskadu te hou is om saailinge van dwergpronkertjievariëteite wat nie gestut hoef te word nie rondom die klimplante te plant om vir jou ʼn tweedekkereffek te gee. Dwergpronkertjiesaailinge is dikwels in saailingbakkies by tuinsentrums te kry.
Voed die klein saailinge een of twee maal met ʼn groeistimulant soos Kelpak om hulle sterk en gesond te maak. Begin knyp die groeipunte van die saailinge uit as hulle ongeveer 15 cm hoog is om bosagtige plante met baie blomdraende sytakkies aan te moedig. Hou aan namate hulle hemelwaarts groei om hulle sagkens te help om deur hul steunstruktuur te vleg en daaraan vas te klou.