fbpx

Kweek Koningsproteas

Read in English

Al is proteas nie net ons s’n nie, besit ons wel unieke koningsproteas.

Toe die superkontinent Gondwana gedurende die Mesosoïese Era verdeel het, het die groot blommeryk Proteaceae, wat as een van die oudste blomplantfamilies op die planeet beskou word, meestal in Australië, Suid-Amerika en SuidAfrika beland. Die gode was ons egter gunstig gesind aangesien die pragtige koningsprotea endemies en wydverspreid in die Wes-Kaap is.

Die naam “protea” soos in Protea cynaroides is deur die Griekse mitologie geïnspireer en vernoem na Proteus, die seun van Poseidon, wat sy vorm en voorkoms kon verander – dieselfde uiterste veranderlikheid is waar van die Protea-genus en selfs in ʼn enkele spesie. Die “cynaroides” is nogal verbeeldingloos omdat dit verwys na cynara (die artisjok), wat ook lekker kan blom as blom toegelaat word, maar is beslis nie in dieselfde klas as die koningsprotea nie!

Suid-Afrika se nasionale blom

Die koningsprotea het in 1976 Suid-Afrika se nasionale blom geword. Dit word op ons geboortesertifikate, paspoorte en R5-stukke uitgebeeld en is die embleem van ons nasionale krieket- en netbalspanne. Hierdie blomstruik wat 2 m hoog in die natuur kan word, kan tot 10 of meer blomkoppe binne ʼn blomseisoen dra, elk met ʼn deursnee van 30 cm. Blomtyd is van Julie tot Oktober.

Dit is ook bestand teen die strafste weerstoestande, en terwyl ons daarby is: ʼn Verdikte ondergrondse stingel (lignotuber) met rustende botsels oorleef gereelde veldbrande wat die plant toelaat om weer uit te spruit, terwyl die vlak wortelstelsel die plant in voedingstofarm grond voed.

Vanweë die wêreldwye gewildheid van hierdie wonderlike snyblom het plaaslike en internasionale telers koningsproteakultivars ontwikkel met blomme in ander skakerings en groottes as die gewone blospienk wat in die natuur aangetref word. Hulle het die kuns bemeester om gesonde plante vegetatief voort te plant, wat hierdie pragtige erfenisplant vir enige tuinier bekombaar maak.

LEES MEER: Leer hoe om spelderkussings te kweek in hierdie artikel.

Koningspoteas om op die uitkyk te wees

Die bostelegraaf het laat weet die volgende pragkultivars van Protea cynaroides is vanaf laat Julie te kry:

‘Madiba’ – Groot helderrooipienk blomkoppe.

‘King White’ – Uiters groot fluwelige spierwit blomkoppe.

‘King Pink’ – Die sagpienk koningsprotea in sy oorspronklike vorm.

‘Little Prince’ – Baie blomryk met rooi blomme en ʼn klein grootte van sowat 50 cm by 1 m, wat dit perfek maak vir klein tuintjies.

Hoe om koningsproteas te kweek

Plek: Volson met goeie lugbeweging – hulle hou van winderige toestande.

Grond: Hulle hou van goed dreinerende suur sandgrond. As jou tuin leemgrond het, grawe ʼn groot gat en meng die uitgegraafde grond met gekomposteerde dennebas of gespesialiseerde proteapotgrond.

Plant: Berei die gat vir elke plant minstens 40 cm diep voor. Moenie beenmeel of enige ander grondopknapper soos kompos of enige vorm van fosfaat in die plantgat sit nie. Maak seker dat die plant nadat dit uit die planthouer gehaal is op dieselfde vlak as in die houer geplaas word en moenie die wortels versteur nie. Druk die grond om die plant vas en maak goed nat.

Bedekking: Aangesien oppervlakwortels baie gevoelig vir versteuring is, is ʼn deklaag noodsaaklik om onkruidgroei te onderdruk. ʼn Deklaag knap ook die grond op deur klein hoeveelhede voedingstowwe en organiese materiaal by te voeg. Dit moet in lae van 5 cm tot 8 cm dik wees, maar hou dit van die stam af weg. Oppervlakdeklae kan ontbinde organiese materiaal soos blare, strooi, houtspaanders, dennebas of uiters goed afgebreekte dennenaalde wees. Moet nooit sampioenkompos gebruik nie.

Natmaak: Maak plante die eerste twee somers goed deurnat (twee of selfs drie maal per week, na gelang van die weer). Verminder natmaak namate die plante gevestig raak.

Koningsproteas in potte

Koningsproteas vaar goed in potte en verskaf groot vreugde as hulle blom. Gebruik goed dreinerende kwaliteitpotgrond of ʼn gespesialiseerde medium wat vir fynbosplante gemeng word.

Gereelde natmaak is uiters belangrik en in warm weer kan dit selfs daagliks wees. Bedek houerplante gereeld om die grond langer klam en die wortels koel te hou.

Spaarsamige voeding met ʼn organiese stadig vrystellende misstof soos Bio Ganic en Bio Ocean (Atlantic Fertilisers) is voordelig vir die tuin sowel as houerplante.

Pluk die blomme

Die blomme van koningsproteas verteenwoordig simbolies krag, moed en veerkragtigheid. Moenie huiwer om blomme vir die vaas te pluk nie omdat dit ʼn vorm van snoei is waarvan die plante hou en wat tot meer stingels vir nog ʼn blomtyd lei. Hulle hou tot twee weke in die vaas as die water daagliks vervang word en ʼn bietjie snyblomvoedsel of huishoudelike bleikmiddel bygevoeg word. Blomme droog ook baie goed as dit op ʼn koel plek onderstebo opgehang word.

www.arnelia.co.za

-->
The Gardener