Maak Jou Eie Tuingoud
Die groenste ding wat ʼn kostuinier kan doen (afgesien nou van om groen goed te plant) is om kompos te maak. Al vier die blokkies kry ʼn regmerkie: herwin, herbenut, kry ʼn nuwe doel en verminder.
Kompos word gemaak van al die tuin- en organiese huishoudelike afval (skille, papier, karton, hondehare) wat na die stortingsterrein sou gaan. Dan is daar die vyfde blokkie, hernuwe, wat kompos se uitwerking op grond is.
Kompos is nie net gratis voeding nie, maar ook die maklikste en goedkoopste manier om grond op te knap, dreinering te verbeter en met waterhouding te help.
Almal met ʼn tuin, selfs diĂ© met net ʼn paar potte, kan kompos maak. Die gebruiksmetode hang van ruimte en bekostigbaarheid af.
Die tradisionele komposhoop
Dit is die kostedoeltreffendste keuse, maar plek is nodig. Dit is geskik vir tuine waar die hoop uit die oog geplaas kan word, gewoonlik aan die onderkant van die tuin. Die plek moet gelyk en op grond wees sodat die erdwurms hul werk kan doen. Begin met ʼn laag stokkies of klein takkies (vir dreinering) en bou dit op met lae bruin materiaal (blare, papier en karton) vir koolstof en groen materiaal (groenteafval, grassnysels en snoeisels) vir stikstof. ʼn Laag mis af en toe dien as komposaktiveerder. Draai dit gereeld om om dit te belug. Moenie dit veel hoĂ«r as 1,5 m maak nie.
Tuisgemaakte oop kiste
Die driekiskomposstelsel is netjieser en doeltreffender as die tradisionele hoop, en dit is makliker om materiaal tot kompos te verwerk en groot hoeveelhede te oes. As daar nie genoeg plek vir drie kiste is nie, maak net een. Hou dit bekostigbaar deur jou eie te maak van herwonne hout en ogiesdraad of houtpalette wat met kabelbinders aanmekaargehou word. Elke kis se voorpaneel moet verwyder kan word sodat materiaal maklik verplaas of geoes kan word. Hierdie stelsel laat warm sowel as koue kompostering toe.
Komposhouer
Dit is ʼn netjiese, selfstandige, rotbestande komposteringskeuse vir klein tuine wat nie baie afval oplewer nie. Die stewige houers word gewoonlik van herwonne plastiek gemaak, word van bo af gevul en maak met ʼn deksel toe. Afbreking word vertraag omdat die materiaal nie omgekeer kan word nie. Verwyder die afgebreekte materiaal van onder af (party het ʼn opening) of beweeg die houer sodat die materiaal uitval. Sit die afgebreekte kompos in ʼn sak en gooi die res weer terug in die houer met vars materiaal bo-op.
Kompostuimelaar
Dit is nog ʼn keuse vir beperkte ruimte. Dit is doeltreffender as die houer, maak vinniger kompos en maak oes makliker. Soos die houer is die hoeveelheid beperk. Die tuimelaar wat gewoonlik van swaar plastiek gemaak word, word deur ʼn raam gesteun en is bo die grond sodat dit met ʼn handvatsel gedraai kan word. Dit skakel die harde werk van kompos omkeer uit. Voeg af en toe ʼn graaf vol grond by om die verskeidenheid mikrobes in die houer te vergroot.
Wurmplaas
Wurmkompostering verskil van ander kompostering omdat dit nie tuinafval insluit nie, net huishoudelike afval, papier en karton wat deur spesifieke komposwurms (Eisenia fetida) afgebreek word. Wurmplase is klein, selfstandig en gewoonlik reukloos, wat van hulle die ideale stelsel maak vir binne of klein ruimtes buite, hoewel die meeste tuiniers daarvan hou om ʼn wurmplaas en ook nog gewone kompos te hĂª. Dit is omdat die wurmtee (vloeistof wat uit die wurmplaas uitloog) en die erdwurmmis uiters voedsaam is. Wurmboerderye kan wissel van ʼn tuisgemaakte emmerstelsel tot ʼn gesofistikeerder, maar duur, stelsel wat oes makliker maak.
Komposgate en oppervlakbedekking sonder sukkel
Dit verskil ook van gewone komposmaak omdat die eindproduk net daar bly. Hierdie metode is geskik vir die maak van ʼn vrugbare tuinbedding, maar dit kan tot ses maande duur voor die materiaal genoegsaam afgebreek het vir plant. Grawe ʼn gat of voor vir ʼn diep bedding en maak dit vol organiese materiaal. As dit nie moontlik is om ʼn gat te maak nie, bou lae bo-op die bogrond op (wat ook lasagne-tuinmaak genoem word) sodat die gevolg ʼn geligte bedding is. Dit is ʼn goeie manier om baie organiese materiaal op te gebruik en lyk netjies.
Moets en moenies van kompostering
- Gebruik die regte goed: Groente en vrugteskille, teesakkies, koffiemoer, houtas, plantsnoeisels, grassnysels, afgevalde blare, kartoneierdosies, fyngedrukte eierdoppe, sagte karton, koerante en papier.
- Moenie die verkeerde goed opsit nie: vleis- of melkprodukte, aartappelskille, diereontlasting, siek plante, onkruid met saadkoppe of blomme, plastiek, glas of metaal.
- Gebruik ʼn gebalanseerde mengsel van groen en bruin materiaal. Te veel groen maak dit te nat, en te veel bruin maak dit te droog.
- Belug dit deur dit gereeld om te keer om beter af te breek. Skep lugholtes deur opgefrommelde papier of karton in die komposhouer te sit.
- Gebruik natuurlike komposaktiveerders soos mis, of kruie soos smeerwortel, duisendblad en komkommerkruid om te help om die kompos vinniger af te breek en minerale by te voeg.
Wat is die verskil tussen warm en koue kompostering?
Dalk hoor jy hoe met die terme warm en koue kompostering gesmous word. Dit is nie so tegnies of vlambaar as wat dit klink nie.
Die voordeel van warm kompostering is dat dit materiale vinniger afbreek sodat die afgebreekte kompos binne sowat drie maande beskikbaar is. Stikstofryke materiale word gebruik om die mengsel op te warm, maar dit moet met koolstofmateriale aangevul word. Die verhouding is twee dele koolstof tot een deel stikstof. Die hoop moet voortdurend klam wees en dikwels omgekeer word om dit te belug en sy interne hitte te behou.
Koue kompostering is bloot ʼn hoop tuinafval wat gelaat word om op sy tyd af te breek. Dit behels geen gesukkel en geen geswoeg nie, maar kan ʼn volle jaar duur om af te breek, en maak geen onkruid of patogene dood nie. Kap die materiaal in klein stukkies op om dit vinniger te laat afbreek.