
Midsomerpragstukke



Turboversterk jou somertuinbeddings met hierdie treffende, kleurryke en maklik-om-te-kweek midsomerpragstukke.
1. Physostegia virginiana
Die outydse spesie is ʼn polvormende meerjarige met hoë are ligpers buisblomme – en was nog altyd ʼn gewilde tuinsnyblom. Dit het egter die geneigdheid om om te val en “gehoorsaam” plat te bly, en volwasse blomme is geneig om te gou tot bruin te verdof. Goeie teling het egter tot moderne hibriede gelei wat kompak en goed vertak is en ʼn menigte blomare maak wat nie verdof nie.
Volksnaam: Skarnierplant (Obedience plant).
Plantsoort: Meerjarig.
Aanbevole hibried: ‘Crystal Peak White’ bied ʼn vars voorkoms met stewige stingels en regop eindstandige are spierwit blomme.
Grootte: 40 cm x 40 cm.
Blootstelling: Volson tot ligte skadu in die namiddag.
Grondsoort: Effense suur skraal grond wat met kompos verryk is. Gebruik dennenaalde as ʼn deklaag.
Nasorg: Gereelde natmaak maar nie te veel nie. Pluk die blomme vir die vaas of verwyder hulle om meer aan die kom te hou. Moenie hierdie plante oorbemes nie.
2. Alternanthera brasiliana
Die hooftaak van die ou alternantheras wat ons tevore geplant het, was om die grond so vinnig moontlik met hul bont loof te bedek. Deesdae beskou ons kleurkontras met treffende loof as selfs belangriker en wend ons ons weer tot alternanthera.
Volksnaam: Josefskleed.
Plantsoort: Meerjarige grondbedekker.
Aanbevole hibried: ‘Purple Prince’ is nie-indringend met sy ryk boergonjepers blare met robynroos onderkante.
Grootte: 40 cm x 50 cm.
Blootstelling: Volson tot ligte skadu.
Grondsoort: Klam, goed dreinerende leemgrond.
Nasorg: Maak gereeld nat, maar wees daarvan verseker dat hierdie plant baie hitteverdraagsaam is.
3. Leucanthemum x superbum
Leucanthemums is gunstelinge onder somermeerjariges omdat hulle onophoudelik blom en nie vir tuiniers moeite gee nie. Ons ken en hou almal van die hibriede met wit enkelblomme, maar wat van ʼn parmantige gele?
Volksnaam: Shastamadeliefie.
Plantsoort: Meerjarig.
Aanbevole hibried: ‘Goldfinch’ is ongetwyfeld geel met deurmekaar halfdubbelblomme wat stadig van helder suurlemoengeel na ivoorwit verander namate hulle verouder.
Grootte: 45 cm x 60 cm.
Blootstelling: Volson tot ligte skadu in die namiddag.
Grondsoort: Goed dreinerende grond wat met volop kompos verryk is.
Nasorg: Gereeld maar nie te veel water nie. Pluk die blomme vir die vaas of verwyder hulle om meer aan die kom te hou.



4. Penstemon hartwegii
Onder die goeie redes om droogtebestande penstemons te plant is hul bekoorlike klokvormige blomme wat verskyn terwyl vroeë lenteblommende jaarplante en bolle stadigaan afgaan. Penstemons gaan naatloos van vroeglente oor na die somer en bring ʼn bietjie nostalgie vir die tradisionele kothuistuine wat ons oumas geplant het.
Volksnaam: Skildblom.
Plantsoort: Kortstondige kruidagtige meerjarige.
Aanbevole reeks: ‘Arabesque’ in ʼn groot kleurkeuse.
Grootte: 60 cm x 60 cm.
Blootstelling: Volson.
Grondsoort: Sanderig en skraal, maar voeg met plant ʼn bietjie kompos by.
Nasorg: Maak spaarsamig nat wanneer dit gevestig is en sny dooie blomme af om meer aan te moedig.
5. Angelonia angustifolia
Wanneer na die delikate blomare van angelonias gekyk word, is dit moeilik om te glo dat hulle so taai en veerkragtig teen hitte en selfs in droogtetye kan wees! Hulle blom onophoudelik in die somermaande en is te kry in talle reekse en kleure.
Volksnaam: Somerleeubekkie.
Plantsoort: Hulle is meerjarig in gematigde klimaatstreke, maar behandel hulle as jaarplante op plekke met strawwe winters.
Aanbevole reeks: ‘Serenita’ met kleure soos wit, laventel, pienk en pers.
Grootte: 35 cm x 35 cm.
Blootstelling: Volson tot skadu in die namiddag.
Grondsoort: Sanderige, goed dreinerende grond wat met volop kompos verryk is.
Nasorg: Maak spaarsamig nat wanneer dit gevestig is en voed tot die herfs met ʼn stadig vrystellende misstof. Hou aan om dooie blomare te verwyder.