fbpx

’n Galery van silwerkleuriges

Tuinplante met silwerkleurige of grys blare word hoofsaaklik om hul bruikbaarheid geplant – hulle is meestal hitte en droogtebestand weens harige of wasagtige blaaroppervlakke en hul vermoë om sonlig te weerkaats en waterverlies te voorkom.

Daar is egter nog ʼn rede om jou tuin te vul met baie plante met silwerkleurige blare en om hulle saam met liggeel, room en wit blomme te plant – dis mode! ʼn Tuinneiging vir 2019 is om meer tyd in jou tuin deur te bring deur ʼn “maanlig”- voorkoms te plant met plante wat nie in die donker verdwyn nie, maar eerder na vore tree. Ons hou van hierdie neiging en het ʼn paar staatmakers gekies om daardie bekoorlike, mistieke atmosfeer in die lig van die volmaan te skep.

Dichondra ‘Silver falls’

  • ʼn “Dramatiese” grondbedekker met ʼn tuimelende groeiwyse.
  • Yl beklede dun stingels met ronde silwerwit blare ongeveer 1 cm in deursnee wat soos drapeersels of gordyne by potte en hangmandjies uithang en amper soos stringe silwer krale lyk.
  • Kan ook as kontrasterende tapytagtige grondbedekker in volson gekweek word.
  • Kouebestand, maar blyk ook suksesvol te wees in die subtrope.

Einadia hastata (soutbos)

  • Vir algemene gebruik as immergroen vullerplant en vir heinings.
  • Pragtige silwergrys loof wat soms roesrooi kan verkleur met wit stingels wat die oog lok, veral na ʼn bietjie reën en nuwe groei.
  • ʼn Vinnige groeier en geharde kusplant wat in feitlik enige formele vorm gesnoei kan word.
  • Volwasse grootte ongeveer 1,5 m by 2 m.

Stachys byzantina (lamsoor)

  • ʼn Matvormende grondbedekker met sagte, wollerige langwerpige silwerkleurige blare.
  • Verwyder die pers blomme in die somer om die loof welig te hou.
  • Uitstekend heel voor in randakkers.
  • Uiters gehard.
Advertisements
-->
The Gardener