Pelargoniums geskik vir ‘n koning
Met soveel visuele interessantheid is die inheemse Pelargonium grandiflorum (koningspelargonium) ʼn tuinier se absolute vreugde.
Hierdie treffende plante word hoofsaaklik om hul estetiese aantrekkingskrag gekweek. Die blomme is in talryke skakerings te kry van delikate pienke en dieprooie tot helderwitte en koninklike perse. Hul patroonversierde blare en sterk groeiwyse dra ook tot hul bekoring by – ʼn skilderagtige byvoeging tot enige tuin.
Pelargoniums is ook die toppunt van veelsydigheid. Hulle gedy in ʼn groot verskeidenheid toestande, van sonnige blombeddings tot gedeeltelik beskadude balkonne, en kan in houers, hangmandjies of direk in die grond geplant word. Dié aanpasbaarheid beteken dat hulle goed geskik is vir verskeie soorte en groottes tuine, van stedelike balkonne tot uitgestrekte kothuistuine.
Nog ʼn goeie rede om pelargoniums in jou tuin te verwelkom, is hul lang blomtyd, anders as baie ander blomplante. Met toepaslike sorg kan dié geharde plante van vroeglente tot in die laatsomer ʼn skouspelagtige vertoning lewer, wat voortdurend kleur aan jou tuin verleen.
Hoewel pelargoniums in die meeste grondsoorte sal groei, verkies hulle ryk, vrugbare grond wat goed dreineer. Verryk goeie potgrond in houers met kompos en voeg vermikuliet of perliet by wat met dreinering help.
As jy op soek is na indrukwekkende blomme en kompakte groei wat ideaal vir houers is, kan jy nie ʼn fout maak met die Pelargonium grandiflorum ‘Elegance’– reeks nie. Dié betroubare plante maak treffende blomme met min moeite of aandag, wat jou tuin vul met watter kleur jou hart ook al begeer.
Hierdie plante is net ʼn paar van ons gunstelinge:
‘Adriana’ – spog met helderpienk blomme met dieppers harte.
‘Coral Sunset’ – sê met dié variëteitsnaam alles met oranjerooi koraalkleurige blomme wat in tapyte bo die loof verskyn.
‘David’ – bekoor met pastelpienk blomme met donkerrooi harte wat ʼn wonderlike kontras lewer.
‘Imperial’ – dra dieppers blomme met ʼn wit randjie wat vir koninklikes geskik is en dimensie skep.
‘Purper Majesty’ – val vinnig op met dié tweekleurige blomme, met donkerpers tot pienk kroonblare bo en blospienkgevlekte wit kroonblare onder.
‘Royalty White’ – vou oop in enorme delikate blomme met dieppienk strepe in die harte.
‘Aristo Velvet Red’ – bars uit in donkerrooi blomme met die voorkoms en gevoel van weelderige rooi fluweel.
Neem hulle na binne
Koningspelargoniums is oorspronklik as huisplante geteel, sit hierdie kleurvolle plante dus op ʼn sonnige vensterbank en geniet die voordele wat hierdie maklike plante bied.
Probleemoplossing
Hoewel pelargoniums grotendeels siektevry is, hou dop vir dié moontlike simptome by jou plante:
Blare wat geel word
ʼn Teken van verskeie moontlike oorsake, waaronder oorbenatting, onderbenatting (hoe teenstellend dit ook al mag klink), of swak dreinering. Maak seker jou pelargoniums word in goed dreinerende grond geplant en pas jou natmaakskedule aan soos nodig. Laat die grond tussen natmaaksessies effens uitdroog en moenie dit plant op plekke in jou tuin waar water na reën versamel nie.
Verlep of hang
Dis nog ʼn simptoom van oorbenatting, swak dreinering, of te min vog as die grond droog en die blare dun is. Hangende stingels kan anders dui op te min sonlig. Begin met ʼn sonnige plek vir die sterkste groei en die bes moontlike blomme. Gaan grondvog ook gereeld na om reeds vroeg probleme uit te ken.
Blaarvlek of roes
Swamsiektes kom in klam, swak geventileerde toestande voor. Om dié kwessies te voorkom, verseker dat jou plante goeie lugomloop het en vermy oorhoofse natmaak. Verwyder besmette blare so gou moontlik om verspreiding te voorkom, en voer dit verder met ʼn geskikte swamdoder om die siekte te behandel.
Plae
Soos alle tuinplante is pelargoniums vatbaar vir plae soos witvlieg en dopluis. Beheer dié plae deur te spuit met ʼn kommersiële insekdoder wat vir gebruik op daardie plaag gespesifiseer is. As besmetting swaar is, is dit dalk beter om die besmette plant uit te trek en mee weg te doen om te keer dat dit na ander plante in jou tuin versprei.
Langbenige groei
Dit word veroorsaak deur te min sonlig op skaduplekke. Begin deur dit op ʼn sonnige plek te plant, of verskuif die houer bloot na ʼn helderder plek, en snoei langbenige groei om nuwe en gesonde groei aan te moedig. Gereelde snoei kan ook die vorm van jou pelargoniums help beheer en bosagtiger groei aanmoedig.
Geen blomme nie
Dis ʼn kommerwekkende situasie met verskeie oorsake, waaronder onvoldoende lig, oorbemesting (veral met misstof ryk aan stikstof), te min voeding, of bloot net ouderdom. Identifiseer die waarskynlikste oorsaak en verander nasorg of toestande om jou plant weer gesond te maak.