fbpx

Plant ‘n Kleurontploffing!

Hemelse engelvlerkies en ‘n dwerg-purperwinde kan jou van lente tot herfs met kleur omhul, en sal volgende jaar terugkom om dit alles weer te doen…

Leef lig

Die delikate voorkoms van die wilde spesie Oenothera lindheimeri (voorheen bekend as Gaura lindheimeri) is misleidend. Hierdiein heemse plant van Texas en Louisiana is ‘n baie geharde meerjarige plant wat lang tydperke van droogte, hitte, humiditeit en selfs verwaarlosing kan verduur. In ideale toestande is dit ook siekte- en pesvry. Die natuurlike groeivorm is vaasvormig, met half geboë, lang digte stingels met fyn blomme op die punte wat soos fladderende vlindervlerke lyk. Die blomme met hul vier blare kan as stywe pienk knoppe begin, wat wit oopgaan en dan in rooskleurig pienk verander voordat hulle afval. Hulle blom van vroeglente tot laatherfs en lok bye en skoenlappers.

Al hierdie goeie eienskappe het plantkundiges gestimuleer en oor die jare is baie verskillende hibriede van hierdie plant bekendgestel, van dié met suiwer wit blomme en groen blare tot baie donkerpienk blomme en donkermaroen blare.Nou wil ons graag nuwe lede van die ‘Belezza’-reeks bekendstel, met ‘Pink Butterfly’ en ‘Barbie Butterfly’. Hierdie stewige, regop en baie kompakte plante (50 cm x 50 cm) is goed vertak, met sterk blomstingels in pienk skakerings. Engelvlerkies vervul baie rolle.

Hulle kan gebruik word as blomryke gapingvullers in meerjarige beddings; sal rose en sierplante komplementeer; sal ‘n dramatiese effek skep as dit in groot groepe geplant word; en selfs net een plant kan ‘n kleurryke indruk in ‘n pot maak. Jy kan die blomme pluk vir die vaas aangesien hulle goed hou. Om hulle te kweek is maklik in volson of oggenson en in kompos verrykte, goeddreinerende leem- of sandgrond.

Let op hiervoor

  • Yl en slap groei beteken die plant word nie genoeg teruggesny nie. Snoei hulle liggies na ‘n goeie blomtyd in laatlente om vars somergroei aan te moedig, en sny hulle swaar terug na die laaste blomme van laatherfs.
  • As jy roesvlekke op die blare opmerk, kan dit aan swak dreinering of te veel water te wyte wees.
  • Engelvlerkies is koue- en rypbestand.

Hemelse blou

Evolvulus ‘Blue my Mind’ (dwergpurperwinde) blom aanhoudend met klein blou blommetjies. Hemelsblou is ‘n wonderlike verkoelende en kontrasterende kleur (daar is min ander plante met blou blomme wat hierdie een kan ewenaar!) om in ‘n tuin te hê. En met sy lang blomseisoen sonder die nodigheid om dooie koppe te verwyder, is hierdie ‘n onderhoudvrye plant wat jy in die tuin moet hê!

Dit is perfek vir gebruik as ‘n grondbedekker in die tuin of in houers. Sy silweragtige groen blare, wat ‘n effens wollerige gevoel het, sal ‘n bolvormige mat vorm.‘Blue my Mind’ benodig volson (hoe warmer, hoe beter) en goed-dreinerende grond. Die plant kan droogtetoestande weerstaan, maar groei en blom beter as dit gereeld water en nou en dan kunsmis kry wat stadig vrygestel word. Soveel as wat hulle van hitte hou, moet Evolvulus ‘Blue my Mind’ teen selfs ligte ryp beskerm word.

-->
The Gardener