fbpx

Plant ‘n treffende kombinasie. Ontmoet jou nuwe gunsteling Herfsgroep!

Plant ‘n bekoorlike ‘Jennifer Susan’ in ‘n uitsoekplek met oggendson en middagskaduwee, plaas ‘n paar koninklike ‘Magic Mona’ daaromheen, en laat groepe ‘Everillo’ die toneel met hul goue gloed ophelder. Dit sal ‘n sierlike plantkombinasie in jou tuin skep – ‘n skepping wat verder as herfs sal strek! 

Plectranthus ‘Magic Mona’  

‘Magic Mona’ produseer sy groot en helder violetpers blomstringe so oorvloedig dat ‘n mens geneig is om die pragtige skakerings van die mooi blare oor die hoof te sien, wat die fort hou wanneer die plant ‘n kort ruskans van blom neem. Die groeiwyse is regop, en die blare is blink en baie donkergroen aan die bokant met ‘n diep, koninklike pers onder. Die volwasse grootte is ongeveer 50 cm x 40 cm. Die plaaslik geteelde hibried ‘Magic Mona’ sal in semi- skaduwee tot skaduwee groei, maar sal met groter geesdrif blom as dit ‘n paar uur elke dag in die son bak. 

Camellia sasanqua ‘Jennifer Susan’ 

Sasanqua-kamelias verskil van hul neefs, die winterblommende japonicas, deurdat hulle vroeg in die herfs blomme produseer en meer sonverdraagsaam is. Jy kan elke jaar groot hoeveelhede semi-dubbele, sagte pienk blomme met wasagtige en golwende blomblare en ‘n subtiele geur op hierdie groot, langlewende struik van tot drie of vier meter hoog verwag. Hierdie groot struike of klein bome met hul donkergroen blink blare op talle slanke takke, is die perfekte keuse om in ’n ruim houers in ‘n sonnige binnehof te plant. Hulle kan ook as ‘n skerm of as ‘n blommende heining gebruik word, of as snoei jou passie is, kan jy dit as ’n espalier-plant benut danksy sy lang en los sytakke wat op drade gelei kan word. Hierdie plant kan in enige gewenste vorm of grootte gesnoei word. Dit reageer goed op snoei, wat ‘n digte voorkoms sal aanmoedig. Dit groei redelik vinnig, is teen koue en ryp bestand en word selde deur plae of siektes geteister. 

Carex oshimensis ‘Everillo’ 

Van al die carex wat ons as getekstureerde ornamentele grasse kan plant, is die pragtige ‘Everillo’, met sy lemmetjiegroen geboë blare wat in die somer goudgeel word, waarskynlik die beste variëteit om te kies as ‘n sterk kontras nodig is om ander plante met donker blare te komplementeer. Dit is immergroen, teen koue bestand, en kan ‘n aansienlike grootte van ongeveer 50 cm x 50 cm bereik. 

Sorg vir goeie groei

  • Dit vereis baie vrugbare, humusryke grond wat goed dreineer en effens suur is. 
  • Jong plante en dié in potte benodig gereelde water, maar gevestigde plante kan tye van droogte weerstaan.
  • Die beste posisie is in oggendson met spikkelskadu in die middag. 
  • Wortels moet koel bly, wat beteken dat jy gereeld ’n suur deklaag met iets soos dennenaalde of gemaalde dennebas moet aanvul.

Plant dit in ’n pot

As jy die mooi van herfs slegs in potte kan geniet, moenie bekommer nie. As jy ’n klompie enkel in potte plant en saam op ‘n stoep of balkon vertoon, sal jy dieselfde blaar- en blommegenot daaruit kry!

-->
The Gardener