
Puik Petunias



‘n Langtermynweervoorspelling het ʼn droë winter voorspel, buiten vir die winterreënstreke – dit beteken wonderlike petuniaweer vir die grootste deel van die land.
Petunias het nie ʼn bepaalde seisoen nie en kan eintlik heeljaar geplant word. Dis egter in die koue en droë laat wintermaande wanneer ons so desperaat vir vrolike kleur is dat hul opgewekte blomgesiggies troos gee en nie deur tye van swaar somerreën of strawwe hitte ontsier word nie.
Winter is tradisioneel ook ʼn tyd om ons vensterbakke, hangmandjies en potte oor te plant om vol in die blom vir die lente te wees. Dit sal moeilik wees om beter plante te kry as die fantastiese nuwe petuniavariëteite wat in die besonder vir hierdie gebruike geteel is!
Die ‘verouderde’ teenoor die nuwe?
Die petuniawêreld is voortdurend aan die verander met nuwe reekse wat jaarliks verskyn. Aangesien die petunias wat ons plant tuinhibriede is, beteken dit dat hulle eintlik “mensgemaakte” blomme is wat voortdurend ontwikkel en verbeter word om die beste na vore te bring wat ʼn plant kan gee.
Ontwerpergrandifloras
Grandiflora-petunias is oor die algemeen baie robuuste spreidende plante wat met groot blomme spog en word gevolglik vir houers aanbeveel om reënskade op blomme te voorkom. Nuwe reekse is egter veelsydiger en ook geskik as beddingplante.
TriTunia-reeks
Hierdie reeks kan ten beste as “die beste van die beste” beskryf word omdat telers drie lank bestaande grandiflora-variëteite gebruik het om ʼn nuwe reeks te skep met uitstekende tuingroeikrag. Eienskappe is enorme blomme, goeie hittebestandheid en ʼn uniforme, geronde groeiwyse.
Die beskikbare kleure is rooi, roos en hemelblou. Hoogte: 25 – 30 cm. Verspreiding: 30 – 35 cm.
Limbo GP-reeks
In hierdie verbeterde reeks sal jy al jou ou gunstelinge herken: die beaarde blomme, blomme met ʼn ander kleur randjie, kakelbont kleure en pastelskakerings, maar met die bykomende voordeel van groter prestasie (GP).
Plante in hierdie reeks het ingeteelde groeibeheergene wat hulle van nature kompakte plante maak wat nie rek nie, beter in die tuin presteer en vinnig herstel van weerskade. Dit dra talle enorme blomme van tot 10 tot 13 cm in deursnee! Hoogte: 13 – 20 cm. Verspreiding: 20 – 30 cm.
Sophistica-versameling
Hierdie versameling plante sal vir jou ʼn menigte groot blomme aan geronde plante gee in unieke ontwerperskleure en -patrone wat nog nooit tevore so goed by mekaar gepas het nie! Jy moet eenvoudig die hele reeks in potte plant om saam te vertoon. Hoogte: 25 – 38 cm. Verspreiding: 25 – 30 cm.
- ‘Antique Shades’ – antiekroospienk met ʼn geel keel.
- ‘Blackberry’ – glinsterende swart met rooipers ondertone.
- ‘Lime Bicolour’ – unieke blomkleur en strepies op grond van groeitoestande en ouderdom van blomme in roospienk en sagte lemmetjietone.
- ‘Lime Green’ – geel met onderliggende lemmetjietone.
- ‘Twilight’ – rokerige mauve bo met ʼn groen onderkant.



Pragtige ongewone petunias
‘Night Sky’ waag dit sterk waar nog geen ander petunia tevore was nie. Die blomme is donkerpers met blou tone en spatsels wit merke wat die indruk skep dat die plante met sterrestof bestuif is. Hoogte: 25 – 40 cm. Verspreiding: 60 – 90 cm.
‘Lightning Sky’ is die nuwe vuurwerk in die petuniahemel Cascadia Rim Magenta – die helder blinkende ster-enkol-patroon op ʼn donkerrooi agtergrond vertoon ʼn fluwelige kleurkombinasie. Dis ʼn skouspelagtige keuse vir vensterbakke. Hoogte: 15 – 20 cm. Verspreiding: 25 – 40 cm.
‘Baby Doll’ is ʼn mooi netjiese petunia wat skitter met skokpienk blomme en ʼn unieke wit kleurpatroon wat van naby sowel as van ver af pronk. Dit het ʼn kompakte groeiwyse wat van volson hou en perfek is om jou patio of balkon op te dollie. Dis sterk weerbestand. Hoogte: 25 – 30 cm. Verspreiding: 30 – 40 cm.
Cascadia ‘Rim Magenta’ is ʼn uitklopvariëteit wat sterk gerond is met groot donkermagenta blomme met ʼn roomkleurige randjie. Die halfrankende geronde groeiwyse maak daarvan ʼn wenner vir mandjies en groot potte. Dis briljant, selfs in baie warm toestande! Hoogte: 15 – 25 cm. Verspreiding: 40 – 50 cm.
Amore ‘Queen of Hearts’ en ‘Fiesta’ in volle blom doen presies wat hul telers bedoel het – hulle steel jou hart! Die blomme is versier met sterk, kontrasterende strepe wat vyf perfekte harte op elke blom vorm. Dis fantasties vir opvallende hangmandjies en patiopotte. Hoogte: 25 – 30 cm. Verspreiding: 40 – 45 cm.
Hoe om petunias te versorg
- Aangesien petunias langblommende jaarplante is, gee hulle ʼn sterk begin in die tuin met goed gekomposteerde grond wat met beenmeel verryk is vir goeie wortelontwikkeling.
- Plant hulle waar hulle minstens vyf uur sonskyn per dag sal kry.
- Beskerm jong saailinge teen slakke en naakslakke, en beskut hulle met rypdoek as ryp voorspel word.
- Verwyder geelwordende blare onderom die plant om siekte te voorkom.
- Verwyder gereeld dooie blomme om meer blom aan te moedig.
- Voed maandeliks met ʼn vloeibare misstof soos Nutrifeed of MultiGro.
- Maak aanvanklik gereeld nat, maar slegs weekliks sodra jy aktiewe groei sien − petunias hou glad nie van deurdrenkte grond nie. Maak op die grond en nie oorhoofs nat nie.



Petunias in houers
- Sterk treffende petunias in houers en hangmandjies sluit in selfskoonmakende halfrankende variëteite wat ʼn klomp blomme dra.
- Gebruik potgrond van ʼn goeie kwaliteit wat met ʼn hand vol beenmeel en ʼn stadig vrystellende algemene misstof gemeng is. Voeg ook ʼn waterhoudende produk soos EXLGel by.
- Hoewel petunias van son hou, sal hulle ook in ligte skadu groei hoewel hulle nie so oorvloedig sal blom nie. Maak dus seker hangmandjies en patiopotte word gereeld gedraai om hulle aan sonlig bloot te stel en om eweredige groei rondom aan te moedig.
- Maak nat sodra die bolaag van die grond droog voel – in warm weer moet dit daagliks wees.
- Maak aanvanklik gereeld nat, maar slegs weekliks sodra jy aktiewe groei sien − petunias hou glad nie van deurdrenkte grond nie. Maak op die grond en nie oorhoofs nat nie.
- Voed maandeliks met ʼn vloeibare misstof.