Sedums So Sappig
As ons ’n klip en ʼn vetkruidplant vir minsorgkenmerke vergelykend moes beoordeel, sou die klip eerste kom met die vetkruid ʼn kortkop agter.
Vetkruie is deel van die enorme en veelsoortige Sedum-genus in die Crassulaceae-familie waarvan talle variëteite onlangs baie modieuse pot- en tuinplante geword het. ʼn Paar van die tapytvormende sedums word ook geplant om lewende dakke te maak, wat in sommige lande met isolering help.
ʼn Eenvoudige definisie sou wees dat vetkruie meerjarige plante met dik sukkulente blare en vlesige stingels is en bekend is vir bestandheid teen uiterste koue en droogte.
Laaggroeiende sedums versprei op die grond langs en skep rondings en tapyte van sukkulente loof wat vanweë wisselende seisoene en temperature kan verkleur. Hulle kan van die laat lente tot die herfs ʼn oorvloed trosse piepklein stervormige blommetjies dra waarvoor bestuiwers so lief is. Hierdie platliggende sedums word dikwels gebruik in xeriskappering (ontwerpe wat slegs van natuurlike reënwater afhanklik is), in gruistuinpatrone, tussen die grondholtes wat in ʼn rotstuin geskep word, in krake en skeure van klipmure, tussen plaveiklippe met min voeteverkeer, of in potte om deel van ʼn versameling te raak of net as mooi vertoning om die sinne te bevredig.
Dit is bekend dat sedums:
- maklik voortplant knip net ʼn stingel af en druk in die grond. Haal vir vinniger resultate ʼn kol uit, verdeel en plant oor);
- by strawwe groeitoestande aanpas, wat vlak en skraal grond, blootgestelde terreine en winterkoue behels;
- volson asook oggendson en namiddagskadu verdra;
- lief is vir goed dreinerende grond; en
- oorbenatting en oorbemesting nie verdra nie (gee liewer te min water, en voeg net ʼn paar stadig vrystellende misstofkorrels by as hulle geplant word en los hulle!).
Meer oor hierdie plante
Omdat soveel sedums al beskryf is (400 tot 500 en hulle groei steeds aan), moes ons ons streng beperk en net met sewe pragstukke speel vir die artikel.
Sedum rupestre ‘Angelina’
Die golwende, tapytvormende grondbedekker het piepklein langwerpige groen sukkulente blaartjies. Die stingelpunte verkleur geel in die lente en dra vroegsomer klein stervormige geel blommetjies.
Sedum spurium ‘Red’
Die spreidende grondbedekker maak ʼn dik kol bronskleurige tot dieprooi geskulpte blare. Robynrooi sterblomme verskyn in die somer. Hierdie rooi vetkruid kan in die winter bladwisselend raak. Knip yl stingels en ou blomme in die lente liggies af om vars groei aan te moedig. Dit verdra meer skadu as ander sedums.
Sedum album ’Athoum’ (wit vetkruid)
Hierdie sedum maak vlesige rosette van olyfgroen jellieboontjieagtige blare wat in warm toestande soms roesrooi verkleur. Die plant het ʼn effens rankende groeiwyse en is immergroen. Die piepklein wit blommetjies kom in die somer uit.
Sedum spurium ‘Schorbuser Blut’
Dit is die ster onder die rooi spuriums met diepgelobde boergonje loof waarvan die kleur in die winter versterk. Rooi blomknoppe verskyn in die lente en die helderpienk blomme gaan van midsomer tot die herfs oop. Dit is uiters gehard teen koue en ryp, maar kan soms halfbladwisselend word.
Sedum rupestre ‘Blue Spruce’ en S. rupestre ‘Blue Spruce Erecta’
Dit het verreweg die beste ysblou blaarkleur van al die grondbedekkende vetplante. Die skerpgepunte blare is diggepak aan dik geronde stingels wat daarvan hou om oor rotse of potrande te tuimel. In die somer spruit diepmauve-pienk stingels uit tot 25 cm bo die platliggende plant met heldergeel blomme bo-op. Dit is ʼn baie groeikragtige en vinniggroeiende sedum. S. rupestre ‘Blue Spruce Erecta’ het dieselfde kenmerke, maar die stingels is nie so slap nie en groei regopper.
Sedum tetractinum ‘Coral Reef’ (Chinese sedum)
Dié mooie het klein geronde blaartjies in ʼn kleurryke mengsel van heldergroen met ʼn tikkie rooi wat in die winter tot ʼn ryk rooibrons versterk. Hierdie tapytvormende sedum dra piepklein geel blommetjies in die somer.
Maak jou eie vetplantgrondmengsel
Vetplante en kaktusse verkies vinnig dreinerende potmengsels, wat in die handel by tuinsentrums te kry is. Dit is egter maklik (en veel ekonomieser) om jou eie te meng – veral as jy van plan is om ʼn klomp plante te kweek.
Vetplantgrondmengselresep
- 3 dele gewone potgrond
- 2 dele growwe riviersand of grint
- 1 deel perlite
- 1 deel kompos
Opmerkings:
- Gebruik ʼn grafie om al die bestanddele saam te meng.
- Moenie bou- of seesand gebruik nie.
- Perliet is ʼn goedkoop grondopknapper wat die mengsel ligter maak en dreinering verbeter.
- Die gebruik van kompos is na keuse, maar ek vind dat dit ook help om die mengsel lig te hou met goeie dreinering en is ʼn wonderlike manier om die potgrond meer lyf te gee.