Selfsaaiblomme
Jy plant of saai hulle een keer, geniet die rede waarom jy dit gedoen het, en dan heeltemal ongechoreografeer en spontaan verskyn hulle weer as jy dit die minste verwag. Dit is die selfsaaiblomme en naturaliserende plante wat by jou bly…



Met die prys van alles, ook tuinmaak, wat die hoogte inskiet, moet ons begin dink aan blommende jaarplante, meerjariges en bolplante wat nie jaarliks teen hoë koste vervang hoef te word nie. Dis dus tyd om te dink aan die terugkerendes wat geduldig agter die skerms hul beurt afwag om weer op te tree.
Aangesien dit reeds wintertyd is, is sommige streke dalk te koud vir direk saai of om nou op die nippertjie nog lenteblombolle te plant, hoewel jy dit nog in die gematigde of subtropiese klimaatstreke kan doen. As jy egter nie kan nie, teken die volgende voorstelle in jou tuindagboek aan vir wanneer jy kleur vir volgende somer en herfs beplan omdat baie ook vroeglente gesaai (of geplant) kan word.
Opmerking: Om jou saadbank in die grond op te bou, moet jy sommige plante toelaat om saad te skiet deur dit nie te gou ná die blomtyd op te ruim of terug te snoei nie. Sommige het baie mooi saadkapsules wat toegelaat kan word om ʼn bietjie langer te bly. Jy kan natuurlik die saad versamel as jy nie die plante vertrou om te selfsaai waar jy wil hê hulle moet nie.
Shirley-papawer
- Kultivars wat uit die Europese wildepapawer (Papaver rhoeas) ontstaan het, dra treffende blomme met gekreukelde papaweragtige kroonblare in helder kleure.
- Saai die saad direk in die herfs of vroeglente.
Kappertjie (Tropaeolum majus)
- Blomme kan na gelang van die kultivar verskillende skakerings van oranje tot amper rooi wees en is oop en tregtervormig met ʼn spoor aan die onderkant.
- Die ronde blare soos dié van ʼn waterlelie is eetbaar met ʼn peperagtige smaak.
Koringblom (Scabiosa africana)
- Rondings fluwelige immergroen blare met sterk stingels van tot 1 m hoog verdeel in talle sytakke met mauve speldekussingblomme aan hul punte.
- Plant dié wonderlike plant ook in ʼn fynbostuin.



Die Selfsaaiendes
Wonderlike eienskappe van baie selfsaaiblomme en selfsaaiende plante is die toleransie vir enige grondsoort, ʼn fiemieslose profiel met sterk groei, groot hoeveelhede blomme wat ʼn groot verskeidenheid bestuiwers lok, en die produksie van ʼn oorvloed saad wat aan die einde van die blomtyd op die grond val en op natuurlike seisoensveranderinge staatmaak om te ontkiem en weer te groei. Die gebruik van selfsaaiende plante om tuine vol te maak is ʼn ou gewoonte en die natuurlike gevolg van ʼn vorige jaar se aankope. Sommige van die plante voer dit dalk ʼn bietjie te ver, maar as jy saailinge het wat soos hare op ʼn hond opkom, dun hulle bloot ʼn bietjie uit en gooi die oormaat op die komposhoop.
Duiwel-in-die-bos (Nigella damascena)
- ʼn Hoë jaarplant (50 cm) met mooi helder groen varingagtige loof beskerm die stingels met wollerige blomme in skakerings van blou.
- Interessante saadpeule verleen meer aantrekkingskrag.
Bloumagriet (Felicia amelloides)
- Dié oogtreffer het opvallende hemelsblou blomme met songeel harte wat ʼn ent bo die loof gedra word.
- Plant dit enige tyd en dis maklik te kry.
Kaapse vergeet-my-nietjie (Anchusa capensis)
- Hierdie een- of tweejarige het ʼn regop groeiwyse en growwe stingels en blare.
- Helderblou blomme verskyn van die lente tot die herfs.



Naturaliserende bolplante
Dit kan inheemse of uitheemse plante wees wat hersaai en ondergronds versprei wanneer dit in die landskap en groeityd gedy. Baie van ons inheemse lenteblombolle gee nie om om ná blom gedurende die somerrustyd in die grond te bly en te vermeerder mits hulle nie oorbenat word nie en in goed dreinerende grond geplant is. Dis nie te laat om die volgende vyf te plant nie, waarvan drie in bolvorm en twee as groeiende plante te koop is.
Sneeuvlokkie (Leucojum aestivum)
- Hierdie bolle groei in vleie en skaduryke boslande in die natuur waar hulle na ʼn paar jaar naturaliseer om elke lente in groot plate te verskyn.
- Die wit klokvormige blomme met groen kolletjies by die punte het ʼn sagte geur.
Wildevingerhoedjie (Ceratotheca triloba)
- Die wilde en hoë jaarplant dra are wit of mauve vingerhoedjieagtige blomme in die somer en herfs.
- Dit word algemeen in somerreënstreke aangetref en is altyd skouspelagtige kleur by die Kirstenbosch Botaniese Tuin.
- Dis ʼn gunsteling van houtkapper- en heuningbye.
Druifhiasinte (Muscari)
Muscari-bolle met hul aangename muskusgeurige blou blomare hersaai geredelik en die bolle vermenigvuldig ook vinnig om kolonies lentekleur in die son of halfskadu te vorm. Dis uiters rypbestand.



Tjienkerientjees (Ornithogalum thyrsoides)
- Dié inheemse bolle dra pragtige wit of roomwit blomme in digte raseme van laatlente tot die somer.
- Die uiters gewilde snyblomme hou lank, en die lang blomstingels word soms in voedselkleursel gesit sodat die blomme die kleurselkleur kan aanneem.
- Aangesien hulle ʼn bietjie later as ander lenteblombolle blom, kan jy steeds ʼn groot kol van hulle plant.
Witaronskelk (Zantedeschia aethiopica)
- Die aronskelke vorm groot kolonies in vleierige gebiede, verdra kustoestande en ook mistige berggrasveld by hoë hoogtes in son en skadu.
- Hulle kan immergroen of bladwisselend wees na gelang van die habitat en reënval. As hulle gereeld in die tuin natgemaak word, bly hulle immergroen met welige, donkergroen pylvormige blare.
- Die hoofblomtyd is van Augustus tot Januarie met af en toe ʼn blom buitenstyd. Die bloeikolf van elke blom dra vlesige sade waarvoor die voëls lief is en wat ook deur hulle versprei word.
Vallende sterre (Crocosmia aurea)
- Dié geharde bladwisselende meerjarige bolplant het waaiers swaardagtige blare en van Januarie tot Junie helder oranje stervormige blomme.
- Afgesien van saailinge wat sommer net opslaan wanneer dit deur voëls laat val word, maak hulle ook welige polle en kan elke paar jaar verdeel word.







