fbpx
coastal garden

Slaan n kustuin kis

Die sleutel tot sukses met ‘n kustuin is om beskutte areas en ’n sagter mikroklimaat in ’n strawwe makroklimaat te skep.

Soos koekstruif kom ʼn kustuin laag op laag bymekaar . . .

Tuinmaak by die kus is beslis nie maanskyn en rose nie. Voeg daarby dat ons kuslyn van oos na suid en na wes en van subtropies na Mediterreens en na aried verskil. Die reënseisoene en endemiese spesies verskil ook. Almal word egter deur sterk sout winde geteister, het skraal sandgrond en ervaar tydperke van droogte en hitte.

Ontwerpgedagtes

In ongeskonde kusgebiede kan jy bloot die tuinslang gryp, die grond natmaak en ʼn rukkie wag. Tensy die boukontrakteur al die ongerepte plantegroei op jou eiendom vernietig het, sal daar iets opkom wat daar hoort en waarvoor jy kan lief wees.

Die endemiese plante sal mettertyd weer verskyn uit ou saadbanke wat rustend lê. Dit is veral waar van die Weskus met sy natuurlike verskeidenheid mooi kusplante wat hul prag elke lente na goeie winterreën vertoon. Selfs al is dit die geval, wil jy dalk ʼn bietjie meer uit jou kustuin kry in welke geval jy met ʼn plan moet werk. Wanneer jy jou kustuin aanpak, werk van die seekant af na die huis toe en hou koekstruif in gedagte – laag op laag.

Die lae moet van klein en taai aan die seekant tot groter en meer beskermend wees hoe nader jy aan die huis kom.

Die frontlinie

Frontlinieplante is die eerste laag van jou “koekstruif” en moet bestaan uit geharde grondbedekkers en klein, spreidende en kruidagtige struike wat die wind sal bestry. Dit is gewoonlik kolle kleur wat as lewende beskermende deklaag dien om die wortels van ander plante om hulle koel en die grond langer klam te hou terwyl dit ook die sandgrond bind. Hulle sluit in:

Gazania rigens var. uniflora

Dié baie taai grondbedekker vir volson of halfskadu het silweragtige blare met heldergeel blomme en ʼn matvormende groeiwyse. Dit is uitstekend vir landskappering in strawwe gebiede.

Arctotis spp.

Arctotis is ʼn genus van ongeveer 40 tot 50 blomplantspesies in die familie Asteraceae wat inheems in Suider-Afrika is. Uit sommige spesies is kleurrykehibriede geteel met mooi geel, oranje, rooi of wit madeliefieagtige blomme.

Carpobrotus edulis (suurvy)

Dit is ʼn wonderplant. Dié sukkulente grondbedekker word op groot skaal as grondbinder, duinestabiliseerder en brandbestande versperring gebruik, en is maklik om te vestig met onbewortelde steggies en baie min water. Dit vorm ʼn digte mat met rankende stingels wat by blaarknope wortelskiet, het dik en sappige blare, en dra groot, spoggerige geel blomme wat in die laatwinter en lente tot dofpienk verouder en deur vlesige, eetbare vrugte met ʼn suur smaak gevolg word. Die sappige blare het baie medisinale eienskappe, soos om mondinfeksies en velprobleme te genees.

Carpobrotus deliciosus

Dit is nog ʼn wydverspreide spesie met pers, pienk of wit blomme en soet vrugte wat geskik is vir stukkonfytkook. Kwekerye hou beide dikwels aan as klein plantjies in saailingkissies, of as bewortelde steggies in groot polistireenkissies.

Plectranthus neochilus (rotstuinspoorsalie)

Hier is nog ʼn wonderplant wat met onbewortelde steggies gevestig kan word. (Plant hulle in rye net soos grasranke en hou die grond klam tot dit wortels het.) Gebruik anders klein plantjies wat geredelik te kry is in saailingkissies.

Hierdie vinniggroeiende immergroen grondbedekker is geskik vir ʼn groot verskeidenheid klimaatstreke en sal selfs in droë skadu groei. Die blare is eiervormig, het ʼn gedeeltelik geskulpte rand en voel soos vilt. Die blomme is pers are wat herinner aan dié van ʼn laventelbos.

Die sterk aromatiese geur wat die hele plant afgee, verwilder glo baie plae, en ʼn hedendaagse mite is dat dit selfs slange van die huis sal weghou. Nog frontlinieplante om te oorweeg, is Felicia spp., Mesembryanthemum, Lampranthus en ander vygies, papierblom (Limonium perezii), wilderoosmaryn (Eriocephalus africanus) en Pelargonium-spesies.

Die pioniers

Dit is die groot struike of klein boompies wat vinnig groei en windskerms en skadu verskaf om minder geharde plante te beskerm. Oorweeg die volgende kenmerke van ware pioniers wanneer jy besluit wat om te plant: Die blare kan leeragtig, soms selfs grys en wollerig, geskub, sukkulent of vol dorings wees – almal ʼn aanduiding dat jy met taai plante te doen het.

Drie van die beste vir oral:

Brachylaena discolour (kusvaalbos)

Die groot, leeragtige diepgroen blare wat met hul silwerwit onderkante wit in die son flits as die wind waai, is ʼn uiters mooi kenmerk van hierdie vinniggroeiende, bosagtige en veelvertakte struik of boom. ʼn Massa roomwit blomme in die lente lok bye en insekte. Dit is die perfekte keuse vir ʼn middelslag tot groot beskermende heining aan die kus omdat dit baie goed op formele snoei reageer.

Tarchonanthus camphoratus (wildekanferbos)

Die kanferbos is ʼn digte, bosagtige struik of klein boompie met aromatiese, leeragtige grysgroen blare. In die winter dra dit klein are roomkleurige blomme wat gevolg word deur mooi vrugte met ʼn katoenagtige bedekking. Dit is ʼn vinniggroeiende plant met ʼn redelik aggressiewe wortelstelsel wat grond bind. Dit is uitstekend om in getalle as beskermende windskerm of formeel gesnoeide heining op die tuingrens te plant. Die kanferbos kan ook as enkel-eksemplaar in ʼn redelike mooi klein immergroen boompie opgelei word omdat dit ʼn hoofstam met baie karakter ontwikkel as sygroei gereeld verwyder word.

Virgilia oroboides (keurboom)

Dit is ʼn baie mooi klein immergroen boompie wat blitsig groei en ʼn oorvloed soetgeurige, ertjieagtige roospienk blomme in die lente dra. Hou in gedagte dat dit ʼn pioniersplant is wat nie geweldig lank lewe nie (15 tot 20 jaar), maar wat jou tuin sal mooi maak terwyl jy wag dat ander plante volwasse word, en wat as kinderoppasser sal dien vir dié wat nie so windbestand is nie.

Die raamwerkbome

Nou kan jy met die raamwerkplante begin, wat dalk ʼn bietjie meer liefde, aandag en geduld nodig het om gevestig te raak. Weens die feit dat die meeste kustuiniers altyd op soek is na windbestande bome om te plant, veral in die boomlose kusgebiede van die Wes-Kaap, is hier ʼn betroubare lys van inheemse bome wat in dié toestande sal werk: Curtisia dentata (assegaaiboom), Dombeya rotundifolia (drolpeer), Dovyalis caffra (keiappel), Erythrina caffra (kuskoraalboom), Ficus sur (besemtrosvy), Halleria lucida (notsung), Kiggelaria africana (wildeperske) en Rapanea melanophloeos (boekenhout).

Die kersie op die koek

As jy die frontlinie, die vinnige pioniersplante en die permanente raamwerk versorg het, kan jy basies in hul skadu of beskerming plant wat jou hart begeer mits dit goed geskik is vir die klimaat. Dít is die sleutel tot sukses in ʼn kustuin!

Goeie raad

Die soutsproei, skraal sandgrond, geweldige wind en hitte wat alles uitdroog, sal algar die tuinier se geduld tot die uiterste beproef. Hier is ʼn paar nuttige wenke:

  • Laat bly alle natuurlike groei, selfs al bederf dit jou uitsig. Dit verskaf ʼn natuurlike windskerm wat die wind en soutsproei van jou huis en tuin weghou. In plaas van om alles af te sny, maak liewer ʼn loergat in die natuurlike groei wat jou uitsig op die see sal omraam. Dit is baie dramatieser en ekovriendelik.
  • Opmerking: Plaaslike owerhede wat openbare ruimtes na aan die see versorg, maak dikwels die fout om die bokant van endemiese plantegroei (waaronder melkhoutbome) af te sny op aandrang van huiseienaars wat kla dat dit hul uitsig bederf. Dit skep lae, digte groei en wegkruipplek vir boewe en stropers. Dit sal ʼn veel beter plan wees om hul krone te beveer en onderom hulle skoon te maak.
  • As daar geen natuurlike plantegroei is nie, moet jy sonder versuim ʼn paar pioniersplante plant.
  • ʼn Soliede tuinmuur aan die kant van die heersende wind is nie ʼn goeie idee nie. Dit skep windweerstand, en die wind sal dan bloot sterker oor en om die muur waai. Gebruik liewer plante en ander heiningmateriaal soos houtpale, latte en maas as jy die eiendom wil omhein.
  • Kusgrond is sanderig en voedingstowwe loog baie vinnig uit. Ontsien geen koste om die grond goed voor te berei met oorvloedige vragte kompos en waterhoudende produkte nie. Dien daarna gereelde dosisse misstof en water toe tot die nuwe plante goed gevestig is.
  • ʼn Ligte deklaag soos growwe kompos of klein basspaanders hou nie lank in die son en wind nie. Gebruik onkruiddoek om die grond te bedek – maak dit stewig vas met lang stukke bloudraad wat soos haarnaalde gebuig is. Jy kan dit selfs oor ʼn nuut voorbereide bedding span voor plant. Gebruik bloot ʼn skerp skêr om splete in te sny waardeur jy jou plante kan plant. Pak daarna ʼn baie swaarder deklaag bo-op soos rivierklippies, growwe gruis, perskepitte of doppe om die vogtigheid langer vas te vang.
-->
The Gardener