fbpx

Somer Groente-Oes

Read in English

Kry someroeste onder die knie en preserveer en bêre om dit die beste te benut.

Teen Desember kom die belofte van lentesaai tot rypheid. Dis ʼn opwindende en lonende tyd met stambone, beet en vingerskorsies wat eerste eetbaar is, om nie van die immer volop snybeet en krakerige soet wortels te vergeet nie. Tamaties en komkommers offer hul eerste vrugte op. In die nuwe jaar volg eiervrugte en soet- en brandrissies hulle. Suikermielies is nog ʼn lekkerte om na uit te sien saam met veel meer.

Die heel belangrikste is om op die regte tyd te oes. Groente wat te vroeg gepluk word, het dalk min geur, maar word dit te laat gepluk, kan dit houterig, draderig of hard raak. Tamaties is die uitsondering: Hoe ryper hulle aan die plant word, hoe soeter is hulle. As jy onseker oor die oestyd is, offer een of twee vrugte op wat jy dink reg is. Is hulle nie ryp nie, weet jy om ʼn bietjie langer te wag en het jy net ʼn klein deeltjie van die oes verloor.

Die beste manier om jou oes te geniet, is direk van die tuin na die tafel. Dit is egter nie altyd moontlik nie. Die meeste groente kan ongeveer ʼn week in die yskas gebêre word, maar nie veel langer nie. Deur jou groente te preserveer deur dit te blansjeer en te bevries of souse en pastas vir bevriesing te maak, is ʼn manier om jou somergroente nog tot diep in die winter te geniet.

Wenke vir oes, berging en preservering

Groen bone (stam- en rankbone)

Pluk dit voor die sade in die peule begin swel. As hulle aan die bos bly, raak hulle draderig. Veral die tydsberekening vir hierdie gewas is belangrik. Pluk al om die ander dag, en hoe meer jy pluk, hoe langer dra dit.

Goed om te weet: Wanneer gepluk word, hou die stingel met die een hand vas en pluk met die ander hand af. Deur aan die peule te pluk, kan die boontjiestamme breek en die plante beskadig.

Berging en preservering: Vars boontjies wat in ʼn ritssluitsakkie gebêre word, hou ongeveer ʼn week in die yskas. Preserveer bone langer deur hulle te blansjeer en te bevries. Blansjeer hulle 1 minuut lank en koel hulle dan vinnig in yswater af. Hulle sal heldergroen en bros bly.

Tamaties

Om die gewas te verleng, pluk die tamaties net soos hulle van oranje na rooi verkleur. Dit is een van ʼn paar groentes wat van die bos af sal ryp word. Laat ʼn paar gelyktydig aan die bos ryp word omdat die geur van tamaties wat aan die rank ryp geword het die beste is.

Goed om te weet: Gebruik ʼn kombuisskêr of tuinknipper om die vrugte af te sny. Moenie hulle aftrek nie.

Berging en preservering: Bêre geplukte tamaties by kamertemperatuur binnenshuis, nie op ʼn sonnige vensterbank of in die yskas nie omdat die lae yskastemperatuur die geurverbindings afbreek wat tot smaaklose tamaties lei. ʼn Maklike manier om tamaties te bevries is om hulle op te kap of in ʼn voedselverwerker te pulseer en die pulp in houers te bevries. Maak anders kooksels tamatiesous en bevries dit.

Komkommers

Pluk komkommers as hulle groot genoeg is om te gebruik en steeds diepgroen is. Vergeling aan die onderkant dui op oorryp vrugte wat bitter is. Hoe meer jy pluk, hoe meer dra die ranker.

Goed om te weet: Gebruik ʼn mes of knipper om die stingel bo die vrugte af te sny. Moenie dit aftrek nie.

Berging en preservering: Komkommers kan ʼn week tot 10 dae in die yskas gehou word. Draai die komkommer in plastiek toe, of bêre dit in ʼn ritssluitsakkie. Komkommers is nie geskik vir bevriesing nie.

Vingerskorsies (zucchini)

Die grootte is belangrik. Hoe langer hulle aan die plant bly, hoe groter raak hulle en dit stuur ʼn sein aan die plant om saad te produseer en op te hou vrugte maak. Pluk hulle so klein as wat jy kan sodat hulle soet en bros is. Op die hoogtepunt van die seisoen dra vingerskorsies so oorvloedig dat die vrugte daagliks gepluk kan word.

Goed om te weet: Sny die vrugte met ʼn kombuisskêr of skerp mes van die stingel af. Moenie dit afdraai en daaraan pluk nie omdat jy die stingel kan beskadig.

Berging en preservering: Bêre vingerskorsies in ʼn ritssluitsakkie vir net ʼn paar dae, nie langer nie omdat hul gehalte afneem. Vir preservering was hulle en sny die punte af, sny hulle in 12 mm dik skywe, blansjeer, verkoel en dreineer en maak hulle droog. Verpak hulle in houers of plastieksakkies. Hulle bevries goed as hulle as deel van ʼn groot gereg soos ratatouille gekook word.

Wortels

Hoe langer wortels in die grond bly, hoe groter word hulle na gelang van die variëteit, maar daar is ook ʼn afsnypunt wanneer hulle te hard word. Deur wortels gereeld uit te dun kan hulle op verskillende stadiums geoes word, wat jou ook help om te bepaal hoe lank om die uiteindelike volwasse gewas te laat bly.

Goed om te weet: Wortels is binne 10 tot 12 weke oesgereed. As die skouers van die wortels groen is, is hul beste dae verby en is hulle houterig en bitter

Berging en preservering: Sny die groen lowwe af voor hulle gebêre word omdat die blare vog uit die wortels onttrek. Hou hulle ongeveer twee weke in ʼn plastieksak in die yskas. Bêre hulle weg van appels, pere, aartappels en ander groente en vrugte wat etileengas afgee wat die wortels bitter maak. Jong wortels is die beste vir bevriesing. Sny die bo- en onderkant af, blansjeer hulle heel, koel af, dreineer, maak droog en bevries hulle in plastieksakke.

Beet

Soos wortels kan hulle baie klein as bababeet geoes word of in die grond gelaat word tot die geswelde wortel 5 cm tot 8 cm in deursnee.

Goed om te weet: Sodra die blare 10 cm tot 12 cm lank is, kan ʼn mens die bababeet begin oes, wat ongeveer 2 cm tot 3 cm in deursnee is.

Berging en preservering: Sny die lowwe vir bêre af en laat bly 2 cm tot 3 cm lang stingels. Laat bly die lang wortel ongeskonde. Bêre die blare en wortels apart in die yskas. Gebruik die blare binne dae. Die wortels hou twee tot drie weke. Jong, klein beetjies is die beste vir bevriesing. Was hulle sonder om die skil te breek, kook sag, koel af en verwyder die skil deur dit onder koue water af te vryf. Sny die beet in skywe of in blokkies en bevries.

Blaarbeet en losblaarslaai

Hoe meer blare geoes word, hoe langer dra hulle. Oes twee tot drie buiteblare van ʼn plant. Dit geld vir losblaarslaai wat steeds in die Wes-Kaap ʼn lewensvatbare gewas kan wees. Losblaarslaai skiet ook nie so gou saad as brosslaai nie.

Goed om te weet: Sny of draai die blare onderaan die plant af. Laat bly anders die buitenste kring blare as sonbeskerming, oes die tweede ry en maak seker jy beskadig nie die kroon nie.

Berging en preservering: As geplukte blare nie onmiddellik gekook kan word nie, sit dit in ʼn emmer water om dit vars te hou. Rou spinasie bevries nie goed nie; kap liewer die blare op en blansjeer, dreineer, maak dit droog en bevries dit.

Eiervrug (Brinjal)

Die beste tyd vir eet is as die vrugte blink en donker is. Dowwe, verbleikte vrugte is bitter. Onvolwasse vrugte is ook bitter en die saad binne-in is wit.

Goed om te weet: Sny die vrugte met ʼn kort onbeskadigde stingeltjie af met ʼn knipper. Die vrugte kom nie af as met die hand daaraan getrek word nie.

Berging en preservering: Vee die vrugte droog af en bêre ʼn paar dae in die groentelaai van die yskas. Om te bevries, skil en sny dit in dik skywe, blansjeer, koel af, maak dit droog en bevries dit in lae wat met waspapier geskei word. Kook bevrore vrugte of bevrore voorbereide geregte wat eiervrug bevat.

Soet- en brandrissies

Oes dit terwyl dit nog groen is of aan die plant is en rooi of geel verkleur. Hoe langer rissies aan die plant bly, hoe soeter raak soetrissies en hoe warmer brandrissies. Soos die meeste ander groente dra hulle meer hoe gereelder jy pluk.

Goed om te weet: Sny die vrugte met ʼn kort stingeltjie af met ʼn knipper of skerp mes. Deur dit met die hand af te trek, kan die tak afbreek.

Berging en preservering: Spoel die soet- of brandrissies af, maak dit droog en bêre in ʼn plastieksak vir ongeveer ʼn week, maar nie veel langer nie omdat dit pap kan word. Om brandrissies langer te bewaar, sit heel rissies in ʼn plastieksak of houer en bevries dit. Om te gebruik, kap die bevrore rissie op en voeg by soppe, souse, en dies meer. Brandrissies kan ook gedroog, gepiekel of ʼn pasta of sous van gemaak word om te bevries.

Hou die kleure apart wanneer soetrissies bevries word. Sny die bokant af, haal die saad en membrane uit. Sny dit in die helfte deur vir vul of in stroke, blansjeer dit, laat afkoel en droog dit af. Verpak dit in houers en sit waspapier tussen lae gesnyde vrugte.

-->
The Gardener