Speel bol!
Bolle is vreemde klein struktuurtjies wat lyk of hulle nooit veel sal beteken as jy hulle in jou hand hou nie. Sodra hul interne horlosie egter begin werk en hulle grond en water tref, dra hulle die kleurrykste blomme op koel dae wanneer hul mense nog steeds in mussies en serpe toegewikkel is!
Dit is van nou tot einde Mei tyd om laatwinter- en lenteblombolle te plant – die maklikste manier om pragtige blomme te kry vir baie min sorg. Hier is ʼn paar idees om die bolle aan die rol te kry:
- Vir patiopotte kan sonnige geel dwergaffodille na aan mekaar geplant word – en dis ook wonderlik om binnenshuis te kweek.
- Vir langs ʼn paadjie kan inheemse kammetjies met soetgeurige blomme in ʼn mengsel of enkelkleure gekies word. Plant hulle in sterk groepe om ʼn geparfumeerde vertoning te lewer!
- Om op klippies in water binnenshuis of in die skadu buite te kweek, koop hiasinte met diep geurige, eksotiese klokvormige blomme.
- Vir snyblomme het jy hope Hollandse irisse nodig in donkerpers, bottergeel en wit, asook ranonkels in ʼn verskeidenheid reënboogkleure in enkel- of gemengde pakke.
- Vir ʼn wit kleurskema moet jy honderde inheemse tjienkerientjees hê – goeie waarde vir geld omdat hulle na blom in die grond gelaat kan word om te vermeerder.
- Tussen siergrasse of in graslandtuine sal inheemse babiana, ixia en sparaxis perfek wees. Hulle sal ook naturaliseer en kan in die grond bly en vermeerder.
- Om ʼn boslandtoneel onder die kaal wintertakke van bladwisselende bome te skep, belê in groot getalle sneeuvlokkies (Leucojum), affodille en druifhiasinte – hulle almal kan in die grond gelaat word om na blom te vermeerder en sal vir jou in later seisoene herhaaldelik plesier gee.
April se keuse…
Die plant van potte en doen van ander vrolike dinge met bolle kan tot volgende maand wag. Nou wil ons eers ons tuinbeddings volmaak met ranonkels met sy veelvoudige lae van delikate kreukelpapierdun kroonblare. Dit is te kry in grootmaatpakke van gemengde kleure of enkelskakerings, waaronder pienk, wit, rooi, geel en oranje.
Die klouagtige wortels van die bol lyk soos ʼn dooie reënspinnekop wat vas is aan die verharde stingelbasis wat lyk soos die uitgedroogde hoed van ʼn tuinkabouter. Die klou moet ondertoe wys wanneer dit geplant word (nie meer as 5 cm diep en ongeveer 10 tot 15 cm uitmekaar). Maak die goed dreinerende grond ongeveer 20 cm diep los en verryk dit met kompos. Die groeiplek moet in die son of ligte skadu wees.
Maak jou bolle elke drie tot vier dae diep nat: Die geheim is om hulle nie te lank te laat uitdroog nie, maar die grond moet ook nie voortdurend sopnat wees nie anders sal die blare geel word. Voorkom poeieragtige meeldou, wat soms die mooi varingagtige blare kan beskadig deur na plant EcoBuz Disease Pro by die grond by te voeg. Voed jou ranonkels tweeweekliks met bolvoedsel.
Ranonkelbolle van ʼn goeie gehalte sal ongeveer ses weke lank blomme dra, en hoe meer jy pluk, hoe meer knoppe sal verskyn. Pluk hulle vir die vaas as die knoppe kleur wys en nog nie heeltemal oop is nie.