fbpx
hardehoutsteggies

Tyd Vir Hardehoutsteggies

hardehoutsteggies

Talle bladwisselende struike en bome kan van hardehoutsteggies voortgeplant word – ʼn maklike en bevredigende werkie om te verrig.


Watter plante?

Plante wat van hardehoutsteggies voortgeplant kan word, sluit in ‘Iceberg’– rose, Viburnum opulus ‘Roseum’ (bal- of gelderroos), Nandina domestica (heilige bamboes), frangipani, bloureën, crêpemirte, krismisrose en berberis, asook vrugtebome soos vye, granate, kwepers en moerbeie.


Wanneer om dit te doen?

  • Hardehoutsteggies moet ryp en houterig wees, nie sag en groen nie, moet minstens so dik soos ʼn potlood wees en van die huidige seisoen se groei gemaak word.
  • Die beste tyd om dié steggies te maak, is in die rustyd na die eerste blare afval maar voor dit ryp – gewoonlik van laatherfs tot vroegwinter.
  • Maak jou steggies vroegoggend en probeer hulle afsny waar die huidige seisoen se hout uit ouer hout ontwikkel het. Die basis van die klein stingel by hierdie knooppunt het die beste potensiaal vir wortelontwikkeling omdat dit verskeie dormante knoppe het wat hormone verskaf wat vir ontwikkelende wortels nodig is.
  • Maak seker jy maak jou snoeiskêr goed skoon met ontsmettingsmiddel voor jy begin sny.

Berei jou steggies voor

  • Maak lang steggies as jy kan (minstens 20 tot 25 cm lank) omdat hulle meer voedselreserwes bevat.
  • Maak ʼn horisontale snit ongeveer 6 mm onder die onderste knop by die basis.
  • Identifiseer ʼn knop ongeveer 15 tot 20 cm van die basis af om ʼn skuins puntsnit te maak, sowat 6 mm bo die knop. Daar moet meer as drie of vier knope tussen hierdie twee snitte wees.
  • As verskeie steggies gemaak word, sit die reeds voorbereide steggies in ʼn fles skoon water.


“Verwond” ʼn steggie

Die suksesvolle beworteling van hardehoutsteggies kan aangehelp word deur die buitenste baslaag aan die onderkant van die steggie met ʼn skerp lem liggies af te skraap om die kambium, ʼn liggroen laag meristeemweefsel, te ontbloot.

As jy baie plantmateriaal beskikbaar het om te gebruik, kan dit nie skade doen om hierdie metode te beproef wat kommersiële kwekers dikwels gebruik nie.


Plant jou steggies

  •  Maak ʼn diep pot of ander houer met genoeg dreineergate vol grond. Jy kan gewone potgrond gebruik of ʼn tuisgemaakte mengsel van een deel riviersand en een deel palmveen, of twee dele riviersand en een deel kompos.
  • As die steggies in die water gewag het, maak hulle liggies droog op ʼn stuk kombuishanddoek, doop dan die onderkant in bewortelingshormoon (wat by tuinsentrums te kry is) en maak seker jy tik die oormaat hormoonpoeier af.
  •  Gebruik ʼn plantstok of potlood om ʼn gat in die grondmedium te maak en steek elke steggie ongeveer tweederdes in die grond in en sowat 5 cm uitmekaar.
  • Druk die grondmedium om die steggies vas en maak goed nat met ʼn gieter.
  • Hou die steggies op ʼn beskutte plek, hou die grondmedium heelwinter effens klam, en jy behoort volgende somer bewortelde plante met die eerste tekens van bogroei te hê om uit te plant.
Advertisements
-->
The Gardener