Van vervelling tot bekoring
Wat so lekker van ontwerp is, is dat sodra jy doel aan ruimte gee die res duidelik word.
Dit lyk of daar altyd een lastige gebied in ʼn tuin is, en in die geval van hierdie pragtige huis in die Georgiaanse styl was dit die gebied agter die huis. Die huis is na agter op die eiendom geleĂ« met ʼn lang strook agterplaas wat geen onmiddellike doel gedien het nie en wat moontlik deur die vorige eienaars as hul utiliteitsgebied gebruik is. Dis nie ongewoon vir ʼn gebied wat uit die oog is om onbewerk te bly nie, maar met ʼn bietjie dinkwerk kan die ruimte tog in iets heel bekoorliks omskep word. Dit is presies wat gebeur het toe die ontwerpspan John en Tanya Keating van Tandi Projects deur die eienaar opdrag gegee is om ʼn formele minsorgtuin agter te skep in ooreenstemming met die res van hul ontwerp.
Vind ʼn nuwe doel
Die ontwerpspan het onmiddellik die kol buite die kombuis geĂ¯dentifiseer as ideaal vir ʼn buitelugeetgebied. Dit was die perfekte plek – gerieflik vir die gasheer en afgeskerm deur die gebou. Die area is geplavei en bedek met ʼn pergola wat die suikersoet catawba-druif (Vitis labrusca) ondersteun.
Die oorblywende strook van die eiendom is in drie aparte gebiede verdeel om die afmetings van die huis af te rond. ʼn Lae heining van Australiese jamboes (Syzygium paniculatum) begrens die lengte en struktuur vir elk van die verdelings.
ʼn Ry boskamhout (Baphia racemosa) wat op die grasperk voor die eetgebied geplant is, verskaf ligte skadu en help om af en toe ʼn weerbarstige windjie uit die suide te fi ltreer. Hierdie boombelynde deel van die tuin lei links na die elegante swembad en regs na ʼn formele plek van bepeinsing met die kruietuin verderaan.
Die plantplekke in die ‘dinktuin’ word afgebaken deur ʼn lae heining van gewone buksboom (Buxus sempervirens) met ‘Iceberg’-stamrose, Japanse anemone en die laaggroeiende pienk ‘My Granny’ rose aan die linkerkant en geknipte ficusstambome met bont mondogras (Ophiopogon japonicus ‘Silver Mist’) aan die regterkant. Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides) bedek die boĂ« alkante van hierdie onberispelike formele tuin en vul die someraande met hul bedwelmende geur.
ʼn Reguitpaadjie van plaveiblokke wat deur ʼn klein versonke waterfokuspuntjie onderbreek word, loop deur die plek van bepeinsing na die kruietuin anderkant die tweede boog. Hier het die ontwerpspan ʼn intieme sithoekie teen die grensmuur ingedruk. Agter die meubels in die koffiehuisstyl is ʼn spieĂ«l wat nie net die lig weerkaats nie, maar ook die ruimte verleng as van ver af daarna gekyk word. Nog ʼn spieĂ«l teen een van die mure onder die pergola het dieselfde funksie.
Ten spyte daarvan dat die voor en agtertuin heeltemal apart is, verenig die formele tema albei ruimtes pragtig. Klassieke ornamente en sagte aanplantings van rose, Mexikaanse salie (Salvia leucantha) en wit engelvlerkies (Gaura lindheimeri) is gebruik om eenvormigheid dwarsdeur te skep.
Die ontwerpspan het opgemerk dat hoewel die agtertuin aanvanklik ʼn uitdaging was, alles duidelik geword het nadat hulle praktiese funksies aan die ruimte verleen het. Die eienaar is vanselfsprekend baie gelukkig met die resultate.