fbpx

Vensterboerdery

Die blote gedagte aan vensterboerdery laat sommer die aspiranttuinier se vingers tintel. Sien dit as ’n uitnodiging aan diegene wat verlangend na ander mense se groentelappies kyk en dink: “Had ek maar net die ruimte!”

Jy kan beswaarlik op kleiner skaal boer as in vensterbakke, en tog is daar byna onbeperkte moontlikhede vir die kweek van jou eie vars groente en selfs onmisbare kosse soos brandrissies of sappige tamaties.

Begin by die begin

Jy moet uiteraard die regte venster, balkon, stoep of patio vir jou vensterbakke kies. Die meeste eetbare plante het voldoende son nodig, maar terselfdertyd beskerming teen erge hitte, wind en winterkoue. Die bakke moet verkieslik noord of oos wys.

Veiligheid voorop

’n Vensterbak raak swaar wanneer hy vol grond en plante gepak word. Selfs liggewig plastiekbakke kan onveilig wees. As hulle nie stewig geanker is nie, kan hulle selfs in dodelike missiele verander. Ervare vensterbakboere beveel aan dat hakies gebruik word om die bakke mee vas te maak. Monteer die bakke ’n paar sentimeter onderkant die vensterbank sodat regop groeiende plante meer groeiruimte het en nie jou uitsig en die oop-en-toemaak van die venster sal belemmer nie.

Waar vensterbakke op ’n balkon of stoep geplaas word, is dit beter as jy hulle aan die binnekant van die balkon of stoep aanbring. As jy kan, maak of koop staanders vir die bakke. Sorg dat die bokant van die bakke gelyk is met die rand van die balkon. As daar min ruimte is en die vensterbakke word aan die buitekant gehang, maak baie seker dat hulle stewig genoeg gemonteer is dat niks hulle kan laat afval nie.

Soorte bakke

Kies die ligste bakke wat jy kan kry, tensy hulle op ’n veilige basis gaan staan, in welke geval jy swaarder tipes soos terracotta, sement of staal kan oorweeg. Plastiekbakke behou vog beter en hulle is ligter.

Om groente suksesvol te kweek, moet jou vensterbak 20 tot 30 cm diep en minstens 15 cm breed wees. Dit moenie langer as die venster wees nie. Voldoende dreineringsgate is belangrik, en dit is ’n goeie idee om pierings of ander vlak houers daaronder te sit om die water op te vang en te keer dat dit nie teen die mure of op die balkon daaronder afloop nie.

Grondmengsels

Dit is belangrik om goeie potgrond te gebruik en nie gewone tuingrond nie. Kommersiële potgrond bevat egter nie genoeg voedingstowwe vir groente nie. Dit laat jou met twee keuses:

Gebruik ’n kommersiële mengsel en voeg erdwurmkompos by asook organiese, stadig vrystellende 2:3:2-kunsmis, vermikuliet vir goeie waterretensie, en landboukalk (ook as dolomietiese kalk bekend) wat kalsium en magnesium bevat. Die meeste eetbare plante hou van ’n hoër vlak as wat kommersiële potmengsels bied. Voer die bodem van die bak uit met goiingsak of onkruiddoek om goeie dreinering te verseker voordat dit gevul word.

Maak jou eie mengsel van gelyke hoeveelhede kompos, vermikuliet, of perliet en palmveen, wat in saamgeperste baksteenvorm beskikbaar is en in water geweek moet word. Om die korrekte koolstof-inhoud te verseker, kan jy dit oorweeg om EcoBuz HumiGro in korrel- of vloeistofvorm toe te dien. Voeg stadig vrystellende 2:3:2-kunsmis en twee eetlepels kalk by.

Die beste groente vir vensterbakke

Die mees geskikte groente, kruie en eetbare blomme vir vensterbakboerdery is vanselfsprekend dié wat kompak en laag groei met wortels wat nie diep grond benodig nie.

Kruie: tiemievariëteite, origanum, marjolein, salie, pietersielie, kruisement (in sy eie bak), grasuie, koljander, kerwel en roket. Basiliekruid en roosmaryn word groot plante, maar jy kan hulle wel in vensterbakke plant en gereeld oes of snoei sodat hulle nie buite beheer raak nie.

Blaargroente: losblaar-blaarslaai, groen ‘Simply Salad’-mengsels, spinasie, baba-spinasie, Oosterse groente (vir winter en lente) en krulkool.

Wortelgroente: baba- of ‘Parisienne’-wortels (ronde wortels), beet, radyse, raap (winter) en sprietuie.

Peulgewasse: Bosbone is ’n baie maklike groentesoort wat goed dra, veral vir beginners.

Vrugdraende plante: Kompakte tamaties soos ‘Window Box Red’ kan gesaai word, asook klein patio-variëteite soos die kersietamaties ‘Tumbler’ en ‘Orange Zinger’ of Roma-tamaties soos ‘Little Napoli’, en dan dwergrissie (‘La Bomba’), mini-soetrissies (‘Cute Stuff’ en ‘Pot Peppers’) asook stoep-aarbeie soos ‘Delizz’, ‘Toscana’ en ‘Summer Breeze’.

Blomme: eetbare blomme soos kappertjies, gesiggies en viooltjies, asook heuningblom, lobelia, gousblomme en calibrachoa om bye te lok.

Die aanvangstadium

Vul die houer ongeveer twee derdes met grond, posisioneer die plantjies en vul dan verder met grond. Los sowat 3 cm oop aan die bokant sodat die bak nie oorloop wanneer jy dit natmaak nie.

Plante in vensterbakke kan oor die algemeen naby mekaar geplant word, maar hou in gedagte hoeveel ruimte elke plant vir blaargroei en wortelontwikkeling nodig het. Moenie in die versoeking kom om te veel plantjies in te druk nie: digte plante is vatbaar vir plae en siektes.

Meng verskillende tipes plante

Oorweeg dit om aromatiese kruie saam met jou groente te plant om plae af te skrik, en sekere blomme om bye vir bestuiwing te lok. Beide saad en saailinge kan werk. Sommige groente soos tuinbone, babawortels, beet, radyse, raap, babaspinasie en sprietuie kan direk in die grond gesaai word. Wanneer saailinge geplant word, is dit belangrik dat die wortels nat moet wees voordat hulle in ’n klam potmengsel geplant word.

Versorging van vensterbakgroente

Water: Die belangrikste takie is om vir jou groente genoeg water te gee. Die grond mag nooit uitdroog nie. Dit is die een nadeel van vensterboerdery. Omdat die bakke betreklik min grond bevat, droog dit vinnig uit. In die middel van die somer kan jy hulle selfs twee keer per dag natmaak.

Gee bedags of vroegoggend water eerder as saans, want laasgenoemde kan hulle vatbaar maak vir swamsiektes.

Oorweeg dit om ’n outomatiese drupbesproeiingstelsel soos Gardena se selfdoenmikrodrupstelsel vir balkonne en stoeppotte te installeer. www.gardena.com

Voeding: Die meeste groente benodig heelwat voeding en het minstens een keer of selfs twee keer per maand aanvullende voeding in die vorm van vloeibare kunsmis nodig. Vul die grond gedurende die groeiseisoen met kompos aan.

Siektes en plae: Gebruik organiese of biologiese plaag- en swamdoders om plae en siektes te beheer. Die beste raad om besmettings te voorkom, is om te verseker dat daar goeie lugsirkulasie is, dat die blare nie snags nat bly nie en dat plante nie droogtestres of voedingtekorte ervaar nie.

-->
The Gardener