Verdeel Jou Guzmanias
Guzmania rostara is dramaties en eksoties. Guzmanias is bromelias wat helder stervormige blomme in ʼn groot verskeidenheid kleure dra. Blomskutblare in geel, pers, skarlaken of rooi lyk soos blomme en hou minstens twee maande lank. Hulle is gewilde huisplante om in helder natuurlike lig te vertoon. Daar is twee kante aan die kweek van hierdie epifiete – die moederplant gaan dood na blom, en maak gelyktydig ʼn hele klompie nuwe klein plantjies wat verwyder en verdeel kan word om meer plante te maak.
Die sylote word gewoonlik van die moederplant geskei as hulle sowat eenderde van die grootte van die oorspronklike plant is.
Hoe om dit te doen
- Sny die ou blomstingel af.
- Haal die plant uit sy houer.
- Sny versigtig die kleintjies van mekaar los met ʼn skerp skêr.
- Plant hulle dan oor in aparte potjies vol kommersiële orgideemengsel of gebruik potgrond wat goed dreineer.
- Hou die potte op ʼn skaduryke, vogtige plek terwyl die wortels vestig.
- Moenie oorbenat nie maar hou liewer die groeimedium aan die droë kant om wortelvrot te voorkom.
Guzmania Nasorg
Guzmania plante hou van matige indirekte lig en gedy in ʼn warm en lekker vogtige kamer. Aangesien die spesie uit ʼn skaduryker habitat as die meeste ander bromelias kom, verdra dit laer ligtoestande. Moenie dat die plante in die winter koud of droog raak nie.
Maak die binnekruik waaruit die nuwe blomstingel sal verskyn sowat ʼn kwart tot halfvol water, en spoel dit gereeld uit en vervang met vars water om te keer dat bakterieë vermeerder.
Misbesproei gereeld die plante in warm weer vir ekstra vogtigheid en maak ook af en toe die grond in die potte klam.
Bemes baie liggies deur dit een of twee maal per jaar op die blare te sproei. Omdat guzmanias epifiete is, neem hulle hul voedsel deur hul blare op.