fbpx
pelargoniums via cuttings

Verkry Meer Malvas Met Steggies

Read in English

pelargoniums via cuttings

Inheemse Pelargoniums, wat ook malvas genoem word, is ʼn tuinier se absolute vreugde. Pelargoniums is ook die toppunt van veelsydigheid. Hulle gedy in ʼn groot verskeidenheid toestande, van sonnige blombeddings tot gedeeltelik beskadude balkonne, en kan in houers, hangmandjies of direk in die grond geplant word. 

Malvas het die hele seisoen lank gegroei, wat genoeg plantmateriaal opgelewer het sodat jy ʼn paar steggies kan maak om meer plante voort te plant. Dit is ook ʼn manier om jou plante te snoei om hulle te verjong en nuwe groei aan te moedig.

Maklike stappe om meer malvas te kry

1. Maak ʼn skoon plastiekpot of diep saailingkissie vol met ʼn mengsel van een deel uitgeswelde palmveen en een deel riviersand. Die medium moet klam wees.

2. Gebruik ʼn skoon snoeiskêr of skerp mes om gesonde stingelpunte van tussen 10 en 15 cm lank af te sny.

3. Knip elke steggie net onder ʼn knoop (waar blare gewoonlik uitspruit) af, verwyder al die blare en blomknoppe aan die stingels en laat net die boonste twee blare bly.

4. Doop die snypunt van elke steggie in ʼn bietjie hormoonpoeier wat vir sagtehoutsteggies geskik is en gebruik ʼn plantstok of ou potlood om ʼn gat in die medium te maak om die steggie te kan insteek sodat die oorblywende blare net bo die grond is.

5. Maak die steggies met ʼn gieter nat. Hou die bewortelingsmedium voortdurend klam, maar nie deurweek nie.

6. Sit hulle dan op ʼn warm skaduplek.

Notas vir malva steggies

  • Die steggies behoort binne ses tot agt weke te bewortel.
  • Sit jou steggies in ʼn koel huisvoortplanter of bedek hulle met ʼn groot, helder plastieksak wat nie aan hulle moet raak nie. Hou dop dat vog nie opbou nie, wat verrotting kan veroorsaak. As jy verkies om dit nie te doen nie, is dit reg so omdat malvas baie maklik bewortel.
  • Sodra jy effense weerstand voel as jy liggies aan ʼn steggie trek, het dit waarskynlik bewortel. Gee hulle ʼn dosis wateroplosbare groeistimulant soos Kelpak, en pot oor in afsonderlike potte as jy die eerste teken van nuwe groei sien.

LEES MEER: Leer meer oor Pelargonium grandiflora in hierdie artikel.

-->
The Gardener