fbpx

Verleidelike Laventel

Laventel se sterk geur betower en bekoor mense al meer as 2500 jaar. Volgens volksoorlewering en legende het selfs Cleopatra van Egipte dit vir verskillende (slinkse?) redes gebruik…

Hierdie kruid, ʼn lid van die mentfamilie Lamiaceae, is so bekend dat sy volksnaam selfs gebruik word om ʼn kleur te beskryf. Die meeste van ons sal die term “laventel” in verband bring met ʼn sagte ligpers skakering wat elegansie, verfyndheid, kalmte, skoonheid en weelde simboliseer – laasgenoemde twee waarskynlik omdat die Latynse woord “lavare” beteken om te was. ʼn Mens kan jou net voorstel hoe die seëvierende en dekadente Romeine in bosse laventeltakkies en blomme gebaai het, hul pas gewaste togas oor die bosse oopgesprei het om dit met die vars geur te deurtrek, en gedroogde takkies met blare en blomme in donker hoeke opgestapel het om plaagbesmette vlooie af te weer!

Daar word geglo dat laventel van die Mediterreense Streek, Midde-Ooste en Indië afkomstig is, en in vandag se terme het dit nogal ʼn internasionale voetspoor aangesien baie Europese lande verskillende spesies en kultivars as hul eie opeis. Dit is hoekom ons van Engelse laventel, Spaanse laventel, Italiaanse laventel, Franse laventel, Hollandse laventel, en so meer, lees sonder om werklik te weet wie sʼn is eintlik wie sʼn.

En om nie agter te bly nie het die Australiërs ingespring, ‘The Princess’– reeks laventels uit geharde Europese laventelouerplante geteel, en die resultaat het vet pienk blomkoppe met gedraaide staalpienk skutblare bo!

Ons is gelukkig genoeg om ook ʼn plaaslik geteelde laventel (met ʼn Engelse stamboom) genaamd Lavandula x intermedia ‘Margaret Roberts’ te hê wat na my mening die beste meerdoelige laventel van almal is. Dis ʼn plant sonder fiemies wat altyd goed vaar en blom!

Die beste klimaat vir laventels

Laventels verkies oor die algemeen warm en droë toestande, en sommige kan probleme ondervind in vogtige subtropiese streke. Hulle is betreklik kouebestand, verdra ligte ryp en is uitstekend vir droë, winderige kustuine.

Hoe om laventel te kweek

Die beste plek: Plant hulle in volson met volop ruimte om goeie lugsirkulasie tussen plante toe te laat. Die spasiëring vir informele plant moet na gelang van die laventelsoort wat jy plant 45 tot 90 cm uitmekaar wees. Vir heinings kan dit 60 cm uitmekaar wees.

Grond: Uiters goed dreinerende, ligte alkaliese sand- tot leemgrond is noodsaaklik. As jy swaar kleigrond het, werk ruim hoeveelhede riviersand en growwe kompos in om dreinering te verbeter, of plant laventels liewer in geligte beddings of potte.

Water: Maak jong plante gereeld nat tot hulle gevestig is, en die beste is om op die grond nat te maak. Omdat groeiende plante nie van nat voete hou nie wat tot wortelvrot sal lei, laat die grond ʼn bietjie uitdroog tussen natmaaksessies. Gebruik ʼn swamvoorkomende behandeling soos EcoBuz Root Pro tydens plant vanweë die moontlikheid van wortelsiekte.

Laventels in potte

Gebruik potgrond van ʼn goeie gehalte wat uiters goed dreineer en maak daagliks nat (in warm droë weer). Laventels in potte sal nie omgee vir ʼn bietjie skadu gedurende die dag nie. As jou balkon of patio dus die enigste plek is om aromatiese laventel te kweek, stel dit gerus op die proef! Bemes van die lente tot die herfs met Pokon se oplosbare Lavender and Herb Fertiliser of gebruik ʼn korrelproduk soos Alantic Bio Ocean of Vigorosa 5:1:5 (25).

Laventel Snoei

Laventels se toestand kan agteruitgaan of hulle kan selfs doodgaan as gevolg van strawwe of geen snoei nie. Aangesien baie laventelsoorte in die lente en weer in die herfs blom, laat hulle klaar blom en snoei hulle liggies in geronde bosse om die sonlig in te laat om nuwe groei tot op die grond te stimuleer – dit voorkom kaal kolle en langbenige eksemplare, en lyk veel netjieser. Moet nooit in ou hout insny wat geen teken van blaargroei toon nie.

As jy snoei afgeskeep het en sit met yl en oorgroeide plante wat treurig lyk, probeer ʼn paar van die stamme verwyder deur hulle redelik straf terug te snoei om die bos oop te maak vir lig en lug, wat nuwe algehele groei sal aanmoedig. Voed en maak daarna goed nat. Na ʼn rukkie kan jy die hele plant liggies snoei en vorm.

Belangrik om te weet

Laventels hou nie vir altyd nie en moet elke vier tot ses jaar vervang word wanneer hulle baie houterig kan raak en nie meer goed blom nie. Dis daarom ʼn goeie plan om elke jaar steggies van jou gunstelinglaventels te maak, en April is die perfekte tyd daarvoor.

Ons hou van hulle

  • Lavandula dentata ‘Elegans’ is ʼn bosagtige Franse laventel met donkergroen blare en groot dieppers blomme wat uitstekend vir die vaas is. Plantgrootte ongeveer 80 cm x 1,5 m.
  • Lavandula dentata ‘Candicans’ het sagte getande grys loof wat regop groei en maak lang blomstingels met dofpers blomme. Dis goed om vir potpourri te gebruik. Grootte ongeveer 90 cm x 1,5 m.
  • Lavandula x intermedia ‘Margaret Roberts’ is ʼn geronde struik met vrylik vertakkende sytakke en grysgroen loof wat heeljaar are ligte violetblou blomme aan lang skraal stingels dra. Dis die perfekte keuse om langs paadjies of vir ʼn formele heining te plant en pas goed in by enige plantskema. Volwasse grootte ongeveer 1 x 1 m.
  • Lavandula angustifolia ‘Avignon Early Blue’ het die sterk geur van tipiese Engelse laventel. Die plant is bosagtig en kompak (30 x 30 cm) met sterk stingels met diepblou blomme bo. Dit verdra hitte goed en maak ʼn mooi rand vir rose of insekwerende heining.
  • Lavandula stoechas ‘Bandera’ is ongelooflik in die lente met nog ʼn blommedrag in die herfs. Daar is ʼn baie groot verskeidenheid stoechastipe laventels (Spaanse laventel), maar hierdie een sal tuiniers opgewonde maak met sy kompakte en bosagtige groeiwyse en lang blomtyd. Dis te kry in pers en pienk. Grootte sowat 23 x 30 cm.
  • Lavandula stoechas ‘Anouk’ (wat ook skoenlapperlaventel genoem word) het smal silwergroen loof en donkerpers blomme wat in vertikale rye gerangskik is met glimmende dofpers skutblare. Hulle is uiters geurig en perfek vir droog. Pienk en wit variëteite maak ook deel uit van hierdie reeks. Grootte ongeveer 40 x 40 cm.
  • Lavandula stoechas ‘The Princess’ is ʼn geharde laventel met grysgroen loof en intense ryk pienk tot rooskleurige blomme met gedraaide pienk skutblare bo. Die lieflike plant blom herhaaldelik en vul kaal kolle mooi in rotstuine, gruistuine en meerjarige beddings. Grootte ongeveer 75 x 75 cm.

Laventel in ʼn neutedop

  • Uitstekend vir volson.
  • Hou van goed dreinerende sandgrond. As jy vermoed die grond is effens suur, wat kan maak dat die plante sukkel, bobemes hulle elke lente met ʼn hand vol landboukalk.
  • Waterslim en baie groeikragtig.
  • Uitstekend vir potte.
  • Aangename geur, met eetbare blare en blomme, aantreklik vir bye en skoenlappers, maar afwerend vir skadelike insekte soos plantluise.
-->
The Gardener